ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 79-jarige oom Dirk du Preez sterk goed aan ná sy ernstige ongeluk op 19 Januarie en is verlede Vrydag, presies drie weke na sy ongeluk, vanuit die intensiewe eenheid van die Netcare Hospitaal na ‘n gewone saal oorgeplaas. Foto verskaf.

Oom Dirk oorgeplaas na gewone saal

Date: 15 February 2018 By: Andries van Zyl

Presies drie weke nadat die 79-jarige oom Dirk du Preez ernstig beseer is tydens ‘n semi-tromp-op botsing met ‘n bus in Louis Trichardt se industriële gebied, is hy uit die intensiewe eenheid van die Netcare Hospitaal in Polokwane ontslaan.

Oom Dirk is Vrydag, 9 Februarie, na ‘n gewone saal in die hospitaal oorgeskuif.

“Hy sal egter nog ‘n geruime tyd in die hospitaal moet bly. Wat bietjie teen hom tel is sy ouderdom. Jy weet, hy het groot beserings opgedoen,” het sy seun, Dirk junior, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Tog is oom Dirk se familie verheug oor sy goeie herstel sover. “In stadiums het dit maar moeilik gegaan ... nou Sondag het hy drie roomyse geëet,” het Dirk junior met ‘n glimlag gesê. Intussen haal hulle oom Dirk elke dag uit die bed om hom bietjie met ‘n rolstoel rond te stoot.

Oom Dirk se beserings tydens die ongeluk het ingesluit ‘n sleg gebreekte arm, ‘n regterbeen wat op twee plekke gebreek is, ‘n vergruisde knieskyf, ‘n gekraakte bekkenbeen en ‘n geperforeerde buik. Medici kon intussen deur verskeie operasies daarin slaag om meeste van die skade te herstel. In ‘n stadium het dit so sleg met oom Dirk gegaan vanweë sy verswakte toestand en die operasies dat hy aan ‘n ventilator gekoppel moes word om hom te help asemhaal.

“Dit is ‘n absolute wonderwerk dat hy so goed herstel,” het Dirk junior gesê. Hy het weereens almal bedank wat deurlopend vir die familie gebid het en steeds bid.

“My pa het egter nog ‘n entjie om te gaan. Dit sal heel moontlik fisioterapie insluit om hom te help om weer normaal te funksioneer,” het Dirk junior gesê.

 
 
 

Viewed: 588

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT