ADVERTISEMENT:

 

 
 

Is polisie dalk deel van sindikate

Date: 02 February 2018 By: Isabel Venter

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens mag dalk hulp verleen het aan bendes wat onder meer gesteelde voertuie oor die grens na Zimbabwe toe smokkel.

Dié bewerings het verlede week aan die lig gekom, nadat die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke, nege verdagtes gearresteer het. Onder dié verdagtes was vyf polisiemanne en twee amptenare van die Departement Binnelandse Sake (DBS).

Die vyf polisiemanne is geïdentifiseer as konstabels Ratlau Alfred Moroane (34), Phillip Mahlatse Tselani (32), Sean Tiyiselani Shikwambane (34), Herman Matume Mafa (38) en sers. Israel Mandiwana (47). Die konstabels is van die Tom Burke polisiestasie, terwyl Mandiwana gestasioneer was op die Beitbrug grenspos. Die twee DBS-werknemers is geïdentifiseer as Kgashane Peter Mojela (51) en Tryphina Tshabalala. Nog twee burgerlike verdagtes, Doris Mashaka Sthabile (38) en Comfor Kgomotso Moreba, is ook gearresteer.

Al nege het reeds in ‘n hof verskyn op aanklagte wat verband hou met beweerde korrupsie, bedrog en die smokkel van voertuie wat vermoedelik gesteel is. Die groep is verlede Maandag en Dinsdag aangekeer tydens ‘n polisielokval, genaamd Projek Mirror. Volgens die Valke se provinsiale woordvoerder, kapt. Matimba Maluleke, het dit hulle twee jaar geneem om genoeg bewyse te kry om oor te gaan tot arrestasie.

Volgens Maluleke het die nege glo saamgespan om voertuie te steel en hulle dan met behulp van vervalste dokumente deur die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe te smokkel. Tot soveel as R15 000 is betaal vir ‘n voertuig om oor die grens gesmokkel te word. Die groep sou ook na bewering gebruik gemaak het van ander grensposte soos Groblersbrug en partykeer selfs die voertuie deur die Limpoporivier gevat het.

Gesteelde voertuie kan òf in Zimbabwe òf selfs so ver as Tanzanië en Malawi verkoop word. Dit is egter moeilik om dié inligting te verifieer, het Maluleke gesê, omdat dit hul ondersoek bemoeilik sodra ‘n voertuig die grens oorgesteek het na ‘n ander land.

Nie een van die nege aangeklaagdes is gevra om te pleit nie. Hulle sake is uitgestel tot 30 Januarie en 1 Februarie, waarna hulle na verwagting die geleentheid gegee sal word om ‘n borgaansoek te bring. Tot dan sal hulle in aanhouding bly.

 

 
 
 

Viewed: 521

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT