ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Roy Stewart (76). Foto verskaf.

Een van streek se laaste jintelmans oorlede

Date: 02 February 2018 By: Andries van Zyl

Een van die Soutpansberg se ware oorblywende jintelmans, die 76-jarige oom Roy Stewart, is Saterdagmiddag, 27 Januarie, skielik aan ‘n hartaanval oorlede.

“Daar is min jintelmans soos hy! God het een van sy mooiste kinders kom haal,” het sy seun, Greg, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Nuus van oom Roy se afsterwe het vir baie as ‘n groot skok gekom. Hy was baie bemind en almal het hom geken as iemand met ‘n groot hart en oop hand. “Hy was ‘n pa, oupa en vriend met ontsaglik baie liefde, bedagsaamheid, humor en omgee - ’n ongelooflike mens wat ons gemeenskap gedien het met soveel liefde en opregtheid. Dit het hom baie gelukkig gemaak om te kan gee en te help waar hy kon,” het Greg gesê.

Oom Roy is op 19 Julie 1941 gebore en het op Nigel grootgeword. Hy was een van vyf kinders (vier broers en een suster).

In 1961 het hy na Louis Trichardt verhuis waar hy in Standard Bank begin werk het. Kort hierna het hy sy vrou, tannie Rina (nooi Hibbert), ontmoet en op 1 September 1962 met haar in die huwelik getree. Drie kinders, Karen, Robert en Greg, is uit die huwelik gebore.

Oom Roy het saam met tannie Rina die familie meubelwinkel in Musina oorgeneem en ook ‘n tweede meubelwinkel, beide bekend as Northern Furnishers, in Louis Trichardt begin. Later sou hy die meubelwinkel in Musina verkoop, en ook later die winkel in Louis Trichardt aan oud-burgemeester Daan Nel.

In 1975 het hy deeltyds begin boer op die plaas Uitkomst (Beja). Vir jare was hy hier woonagtig, waarna hy in 1990 teruggetrek het dorp toe.

Hierna het hy vir Du Toit’s Bande (Baobab Bande) gewerk waar hy steeds, op 76-jarige ouderdom, werksaam was tot en met sy dood.

“Hy was ‘n pa en oupa vir baie mense gedurende sy lewe, nie net vir die Stewarts nie, maar beslis ook vir die Booyense, wat ‘n groot deel van sy lewe was. Daarvoor sal al sy kinders en kleinkinders hom ewig liefhê en onthou. Hy was ‘n rots en anker in ons lewens gewees,” het Greg gesê.

‘n Gedenkdiens vir wyle oom Roy word eerskomende Vrydag, 2 Februarie, om 14:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente (Haantjiekerk) gehou.

“Baie dankie aan die gemeenskap van die Soutpansberg vir julle oproepe en woorde van vertroosting. ‘n Groot dankie moet egter gaan aan Vermaak Scheepers, Frikkie de Jager, dr. Gaigher en Louis Nel wat ons op die toneel bygestaan het,” het die familie gesê.

 
 
 

Viewed: 1739

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT