ADVERTISEMENT:

 

 
 

Frikkie Venter saam met die onwelkome gas wat die naweek by Nelia Scheepers aan huis gegaan het. Foto verskaf.

Arme ou Goofy word toe honger luislang se aandete

Date: 01 February 2018 By: Isabel Venter

‘n Massiewe luislang het oor die naweek gesorg vir groot drama by die huis van mev. Nelia Scheepers, met tragiese gevolge vir een van haar hondjies.

Dié ellelange luislang het toegeslaan enkele meters weg van ‘n slapende Nelia. Sy het hierdie week aan die Zoutpansberger gesê dat sy Vrydagaand in die sitkamer aan die slaap geraak voor die televisie. Die drama, reken Nelia, het hier rondom middernag ontvou.

Die luislang het blykbaar al vroegerig sy opwagting by die huis gemaak. Nelia bly in ‘n plaashuis op die Vivo-pad, nie ver van Louis Trichardt af nie. “Ons gewaar kort-kort ‘n luislang hier op die eiendom, maar of dit dieselfde ene was as Saterdag s’n kan ek nou nie met sekerheid sê nie,” het Nelia gesê.

In ‘n stadium het haar honde ‘n vreeslike keel opgesit. By nadere ondersoek het Nelia gesien dit was die luislang en dit het gelyk of hy mik vir die huis.

Al die deure is summier toegetrek. Met dié dat dit so warm was, het Nelia net die hortjie-vensters oopgelos, min wetende dat slang se kind sy geluk daar sou probeer en boonop nog deur die nou opening sou pas...

Soos die aand verloop het, is daar van die luislang buite vergeet en het die huismense een na die ander gaan slaap. Nelia ook.

Haar slaap was van korte duur. Sy is wakker gemaak deur die benoude geblaf van die honde. Sy het ‘n paar, en van hulle slaap in die huis. Onder hierdie gelukkige brakkies het arme Goofy getel. Hy was sommer ‘n ou basterbrakkie wat sy onlangs aangeneem het.

Dit het Nelia ‘n rukkie gevat om mooi wakker te word, en toe sy eers besef dat die slang sommer híér naby haar was, was dit reeds te laat vir Goofy. Die luislang het hom toe reeds doodgedruk en ingesluk.

Nelia het kop gehou en haar ander honde uit die vertrek gekry. Sy het die deure toegetrek, sodat die luislang nie verder moles kon maak of ontsnap nie. Sy het die hulp ingeroep van Frikkie Venter. Hy is plaaslik bekend dat hy, saam met ‘n handjievol ander slangkenners, op ‘n vrywillige basis probleemslange in Louis Trichardt vang en weer veilig vrylaat.

Saterdag se luislang was nou wel nie die grootste een wat Frikkie in die 25 jaar wat hy met slange werk al teëgekom het nie, maar teen ‘n geskatte drie-en-‘n-half meter en 50 kg (plus Goofy) het dit ‘n allemintige poging geverg om die luislang uit die huis te kry. Frikkie is self nie ‘n klein ou nie, maar, sê hy, dit het hom ‘n goeie 45 minute geneem om die luislang gelaai te kry. Niemand anders was naby om handjie by te sit nie.

Daar is gereël dat die luislang op ‘n plek van veiligheid weer vrygelaat word.

Frikkie sê hy vermoed dat die luislang dalk probeer het om skuiling te soek in die koelte van die huis. “As dit so vreeslik warm is, soos wat ons die laaste tyd in die dorp ervaar het, dan kry ons baie gevalle waar mense ons kontak om slange uit huise te kom haal,” het Frikkie gesê.

Die Suider-Afrikaanse luislang, oftewel Phython natalensis, is tans gelys as ‘n beskermde spesies in die Limpopo Omgewingsbestuurswet (Wet 7 van 2003) en mag nie net sommer doodgemaak word nie. Buiten hiervoor het Frikkie ‘n beroep gedoen op mense om nie enige soort slang dood te maak nie. Hy is ook deel van ‘n plaaslike groep wat informeel op die been gebring is om inwoners bewus te maak van die belangrikheid van slange en ander reptiele. Hierdie groep is op Facebook en mense kan ook hier hulp vra om slange te verwyder.

Vir meer inligting kan Frikkie geskakel word by 082 058 7601, Jan “Slang” van Rooyen by tel. 081 796 1380 of 079 852 5213 of De la Rey Steyn by 061 186 8611.

 
 
 

Viewed: 574

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Nog 'n bielie van 'n luislang (net-net meer as 4m) wat in Louis Trichardt gevang is. Hierdie een is deur Barend Lombard gevang in 'n plaaslike boer se njala-kamp en is aan die plaaslike natuurbewaringskantoor oorhandig deur Frikkie Venter (foto) om elders weer veilig vrygelaat te word. Die luislang is Dinsdag, 30 Januarie, gevang.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT