ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Julius Kemp (84). Foto verskaf.

Oom Julius Kemp se stem word stil

Date: 27 January 2018 By: Andries van Zyl

Dit is met hartseer dat die Soutpansberg die afgelope week afskeid geneem het van een van sy bobaas beesboere, met die nuus van die afsterwe van oom Julius Kemp.

Die 84-jarige oom Julius is Saterdagaand, 20 Januarie, in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.

Julius Antonie Uitenweerde Kemp is gebore tydens die groot droogte op 18 November 1933 in Reitz in die Vrystaat. Hier sou hy ook sy laer- en hoërskoolloopbaan voltooi, eers laerskool in ‘n klein plaasskool op die plaas Wasbank en sy hoërskooljare op Reitz.

Op skool was oom Julius ‘n kranige atleet wat Vrystaat-kleure behaal in kortafstande en hoogspring. “Dis ook van hier waar sy kinders en kleinkinders hulle goeie sportgene kry,” het sy familie hierdie week in ‘n huldeblyk aan wyle oom Julius gesê.

Oom Julius was ook ‘n uitblinker in stoei en Judo. “Hy kon enige dag ‘n reus plattrek, en soos sy jongste kleinseun sou sê: ‘My oupa is ‘n ysterbulbees’,” onthou die familie.

Op 3 Augustus 1957 het oom Julius met die liefde van sy lewe, Elsie Magdalena Stuart, getrou en vier kinders, Koos in 1958, Hannetjie in 1963, Christa in 1968 en Hendrik in 1971 is uit die huwelik gebore.

Die Kemp-familie sou eers in 1973 na die Bosveld trek, nadat hulle die plaas Trekpad op die punt van die Soutpansberg gekoop het.

Oom Julius was ‘n boer in murg en been en was bekend vir sy topkwaliteit beeste. Later het hy die plaas Spitskop gekoop en die Spitskop Brahamanstoet op die been gebring. “Sy groot kennis oor dieresiektes en hoe om dit te behandel, was verstommend,” het die familie gesê.

Oom Julius was ook baie musikaal en sou maklik oor ‘n braai die Mara-gemeenskap vermaak met sy sang en kitaarspel. Hy het ook ‘n geweldige algemene kennis gehad en was lief daarvoor om sy tyd te verwyl deur geskiedenisboeke te lees. Hy was iemand wat geglo het dat geen leuen sal staan nie en dat jy jou brood met harde werk moet verdien. “Hy het sy kinders geleer van waardes en respek en was ‘n opregte mens,” het die familie gesê. Alhoewel streng, was Julius ook ‘n bietjie van ‘n terggees. “Hy was ‘n plaatjie wat graag mense poetse gebak het,” onthou die familie.

In 2000 het oom Julius besluit om dinge bietjie rustiger te vat en die boerdery op te gee. Hy het sy plase aan sy twee seuns, Koos en Hendrik, verkoop en hom en tannie Elsie in Louis Trichardt kom vestig. ‘n Paar jaar later, in 2005, het ‘n groot slag die familie getref met die skielik dood van Koos.

Wyle oom Julius word oorleef deur sy eggenote Elsie (met wie hy in Augustus vanjaar hul 61ste huweliksherdenking sou vier), kinders Hannetjie, Christa en Hendrik, skoonkinders en nege agterkleinkinders. “Hy gaan baie gemis word,” het die familie gesê.

Die familie het almal bedank wat hulle die afgelope tyd ondersteun het met oproepe, besoeke en boodskappe. “Baie dankie aan die Zoutpansberg Privaathospitaal wat so mooi na ons pa omgesien het; in besonder dankie aan Ria, Riana, Bianca en Ella. Aan dokters Fred Badenhorst en Emil Gaigher, dankie vir die liefde en passie waarmee julle ons pa versorg het. Dr. Badenhorst was tot op die einde aan sy sy. Dominee Corné van die NG Kerk Moedergemeente, baie dankie vir al die besoeke. Hy het dominee se sin vir humor so geniet. Ons kinders wil graag ook ons moeder bedank wat ons pa vir 61 jaar onvoorwaardelik lief gehad het.  Sy het tot hy sy laaste asem uitgeblaas het aan sy sy gebly. Dankie ma,” het die familie gesê.

Wyle oom Julius word eerskomende Donderdag, 25 Januarie, om 10:00 op die familieplaas Spitskop begrawe. “Vriende en kennisse is welkom om die diens by te woon,” het skoondogter Estelle gesê. Vir meer inligting hieroor, kan sy geskakel word by tel. 082 940 7508.

 
 
 

Viewed: 497

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT