ADVERTISEMENT:

 

 
 

Listeriose word gediagnoseer deur te kyk vir die listeria monocytogenes bakterie in 'n bloedmonster. Foto ter illustrasie. 

Nog geen plaaslike gevalle van listeriose

Date: 14 January 2018 By: Isabel Venter

Limpopo het nie die gevreesde listeriose-infeksie vrygespring nie.

Die goeie nuus is dat dié potensieel dodelike siekte, wat deur die listeria bakterie veroorsaak word, sover dit bekend is nog nie in Louis Trichardt kop uitgesteek het nie.

‘n Uitbreking van listeria, wat volgens die nasionale Departement van Gesondheid (DvG) die grootste tot nog toe in Suid-Afrika is, is verlede jaar in Desember aangekondig. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes is daar sedert die uitbreking aangekondig is, meer as 700 gevalle van listeriose regoor Suid-Afrika aangemeld en ten minste 61 mense as gevolg van dié siekte oorlede.

Minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi het Maandag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria aangedui dat 727 gevalle van listeriose in die land deur laboratoriums bevestig is. Ongelukkig is die departement nog nie naby ‘n antwoord oor waar presies die listeria vir die eerste keer uitgebreek het nie. Van al die aangemelde gevalle kon die departement nog net 134 pasiënte op spoor.

Dié infeksie is veral gevaarlik vir ouer mense, jong kinders, babas, swanger vroue en mense met ‘n verswakte immuunstelsel (soos byvoorbeeld mense wat HIV positief is).

Plaaslik, so ver die Zoutpansberger kon vasstel, was daar nog nie ‘n geval waar ‘n inwoner van die dorp gediagnoseer is met listeriose nie. Daar was wel enkele gevalle waar besoekers aan die dorp gedurende Desember positief getoets het vir die listeria-bakterie. Dit was glo mense van Gauteng af, waar die meeste gevalle tot dusver aangemeld is.

Simptome van listeriose stem baie ooreen met dié van griep en sluit in koors, lyfseer, algemene moegheid en braking (gewoonlik voorafgegaan deur diarree). In meer ernstige gevalle sal pasiënte erge hoofpyn en ‘n stywe nek hê.

Volgens die DvG is daar heelwat mense wat nie eers weet hulle listeriose gehad het nie, juis omdat die simptome so baie ooreenstem met dié van griep. Vir party mense is dit niks meer as ‘n ligte maagaandoening met ‘n bietjie koors en spierpyn nie. (Die tyd wat verloop vandat ‘n persoon die bakterie opdoen totdat hulle siek word kan wissel tussen drie en 70 dae).

‘n Listeriose diagnose word gedoen met ‘n bloedtoets en moet deur die betrokke geneesheer aangemeld word. Meeste pasiënte word weer vinnig gesond, maar in ernstiger gevalle sal ‘n kursus antibiotika of vloeistof deur ‘n binneaarse drup voorgeskryf word, veral aan swanger vroue, kinders en bejaardes.

Volgens die DvG word listeriose normaalweg veroorsaak deur die eet van kos wat met die listeria monocytogenes bakterie besmet is. Die bakterie kan ook in grond, water en gewasse voorkom en selfs in rou melk en ander suiwelprodukte (wat ongepasteuriseerd is). Die bakterie kan ook oorleef op kitskos en rou kos soos vleis, hoender, seekos en groente en vrugte.

Dit is derhalwe amper ‘n onbegonne taak om sogenaamde hoë-risiko kossoorte uit jou en jou gesin se dieet te sny. Ten spyte hiervan kan listeriose voorkom word. Die DvG het ‘n paar riglyne gegee wat inwoners sal kan beskerm teen listeria- en ook sommer ander siektedraende organismes.

Die beste beskerming is om algemene voedselhigiëne op te skerp en toe te pas. Hier is die DvG se raad:

* Was jou hande, met skoon lopende water en seep, vir ten minste 20 sekondes nadat jy die toilet gebruik het, voor en ná jy met kos gewerk of buite in die tuin gewerk het.

*  Hou rou en gaar kos apart, veral rou vleise en vis. Gebruik afsonderlike messe, snyplanke en houers daarvoor en ontsmet hierdie toerusting gereeld.

*  Maak kos behoorlik gaar. Hitte bo 70°C vernietig die meeste skadelike organismes. Moenie vleis en hoender eet as die vleissap nog effens pienk is nie.

*  Moenie kos vir langer as twee uur buite die yskas los nie. Stoor oorskiet kos eerder dadelik in lugdigte houers in die yskas. Kos moet òf onder 5°C òf bo 60°C gehou word. Hierdie temperature belemmer die groei van nadelige organismes.

*  Gebruik net water wat gesuiwer of behandel is om rou kos af te spoel voordat dit geëet word.

* Gaan altyd die vervaldatum op kosse na en eet dit voordat dié datum verstryk het.

 
 
 

Viewed: 481

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT