ADVERTISEMENT:

 

 
 

Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, onder begeleiding van die perdekommando, het tydens Saterdag se Geloftefeesviering by die Schoemansdal Feesterrein die vlaghysing hanteer. Hy het tydens die geleentheid, saam met sy seun Carel, die geskiedkundige Voortrekkervlag gehys.

Geskiedkundige Geloftefees vir Schoemansdal

Date: 23 December 2017 By: Andries van Zyl

Soutpansbergers het Saterdag, 16 Desember, nie net Geloftedag gevier nie, maar ook die 100ste bestaansjaar van die Schoemansdal Feesterrein.

Die gedagte om ‘n feesterrein vir die inwoners suid van die Soutpansberge te vestig, het waarskynlik sy ontstaan in 1916 aan JR van Breda te danke. Volgens geskiedskrywers het hy die idee geopper dat daar ‘n terrein gevestig word waar die jaarlikse “Dingaansfees” gehou kon word.

Van Breda was heel bedrywig in politieke kringe en was destyds die Suid-Afrikaanse Party (SAP) se kandidaat in die Soutpansberg. Sy voorstel het vinnig aanklank gevind en die volgende jaar, op 15 Desember 1917, is ‘n vergadering gehou op die terrein naby die klein kerkhof digby waar die destydse Schoemansdal Dorp gestaan het. Tydens die vergadering is besluit om ‘n jaarlikse fees op die geskiedkundige terrein vir inwoners van die Soutpansberg te hou.

Die eerste fees is die volgende dag gehou en deur sowat 2 000 mense bygewoon. Die destydse Minister van Lande, Kol. Hendrik Mentz, was die feesredenaar. Dit was waarskynlik nie toevallig dat Kol. Mentz genooi is nie, want ná afloop van die fees is hy genader met die versoek dat die grond deur die staat aangekoop moet word om te dien as ‘n feesterrein.

Kol. Mentz was dadelik bereid om sy samewerking te gee en het hom beywer om die Unie-regering sover te kry om die grond te probeer bekom. Die eienaars van die twee plase, Lincoln en York, was bereid om dit te ruil vir ander plase en die besitreg van die grond het oorgegaan na die Departement van Lande. Die reg is daarna toegeken aan die feeskomitee van Schoemansdal om die grond vir feesdoeleindes te gebruik.

Die jaar 1917 was egter vir die inwoners van die Soutpansberg om ander redes ook belangrik. Dit was 50 jaar sedert die dorpie Schoemansdal inderhaas ontruim moes word. Op 15 Julie 1867 het die groot uittog plaasgevind vanweë toenemende vyandigheid van die plaaslike bevolking en siektes. Die waens het begin koers kies in die rigting van Marabastad, Renosterpoort, Makapaanspoort en selfs Pretoria. Dit het ‘n einde gebring aan ‘n dorp se geskiedenis wat net oor die 20 jaar gestrek het.

Oud en jonk het Saterdag na dié feesterrein buite Louis Trichardt opgeruk om die 16 Desember 1838 Gelofte kort voor die Slag van Bloedrivier gestand te doen. Die Gelofte is voor ‘n stampvol feessaal deur die voorsitter van die Schoemansdal Geloftefeeskommittee, Abrie Wepener, voorgelees:

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons ook ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die Eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Die lees van die Gelofte is opgevolg met die hys van die geskiedkundige Voortrekkervlag. Vanjaar is die Geloftediens, asook die 100ste diens van die Schoemansdal Feesterrein, gelei deur ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu. Die Skriflesing was uit Ester 9:1 met die treffende boodskap wat gehandel het oor hoe God gewone mense gebruik, selfs ook soms dié wat vyandig teenoor jou is, om sy doel te bereik. ‘n Afskrif van die preek is beskikbaar op die webwerf www.ngkerklevubu.co.za.

Die Geloftediens is opgevolg met die tradisionele kranslegging op die grafte van Voortrekkerleier kmdt-genl. Andries Hendrik Potgieter en die graf van me. Josina Van Warmelo, eggenote van die eerste permanente leraar in die Soutpansberg-distrik, ds. N. J. van Warmelo.

Kranse op die graf van Potgieter is namens die gemeenskap gelê deur Gert en Pieta Wepener, Riana Otto namens die Voortrekkers, Orion en Adri Theron namens die CVO Skool Zoutpansberg en Frits Ahrens namens die Louis Trichardt Boerevereniging. Die krans op die graf van me. Van Warmelo is deur Piet Bezuidenhout en Dries du Preez van die Hervormde Kerk geplaas, waarna die kinders by die geleentheid die kans gekry het op blomstele op die ongemerkte grafte te plaas. Vanjaar se Geloftefees is afgesluit met die feesrede, wat gelewer is deur dr. Wilda de Vaal-Stanton, wat gepraat het oor waarom Dingaan vir Retief vermoor het.

 
 
 

Viewed: 744

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Milan (links) en Rinard (regs) Schalkwyk was twee van die talle jongelinge wat Saterdag se jaarlikse Geloftefees by die Schoemansdal Feesterrein bygewoon het. Hulle was ook deel van die kinders wat blomstele op die ongemerkte grafte in die ou kerkhof op die feesterrein geplaas het.

Kort voor die lees van die Gelofte, het Abrie Wepener (voorsitter van die Schoemansdal Geloftefeeskomitee) die Gelofte in ontvangs geneem. Die Gelofte is op tradisionele wyse deur die perdekommando, onder leiding van Henk Dafel, by die feesterrein aangebring.

Ekstra stoele moes uitgebring word vir die groot hoeveelheid Soutpansbergers wat die afgelope naweek die jaarlikse Geloftedagvieringe by die Schoemansdal Feesterrein bygewoon het. Meer as 250 gaste was teenwoordig.

Vanjaar is die Geloftediens, asook die 100ste diens van die Schoemansdal Feesterrein, gelei deur ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu. Die Skriflesing was uit Ester 9:1, met die treffende boodskap wat gehandel het oor hoe God gewone mense gebruik, selfs ook soms dié wat vyandig teenoor jou is, om sy doel te bereik.

Gert en Pieta Wepener was Saterdag die eerste gewees om namens die gemeenskap ‘n krans te lê op die graf van Voortrekkerleier kmdt-genl. Andries Hendrik Potgieter.

Piet Bezuidenhout (links) en Dries du Preez (regs) het namens die Hervormde Kerk ‘n krans gelê op die graf van me. Josina Van Warmelo, eggenote van die eerste permanente leraar in die Soutpansberg-distrik, ds. N. J. van Warmelo.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT