ADVERTISEMENT:

 

 
 

By die eindstreep in Zanzibar, is van links na regs, Team TGG se Jan du Plessis, Oostewald van Niekerk en Freddie de Swardt. Foto verskaf.

Team TGG het nuwe respek vir openbare vervoer

Date: 22 December 2017 By: Isabel Venter

Drie hoera’s vir die reus van Louis Trichardt en die twee dwergies wat die afgelope naweek hulle Wakati Challenge klaargemaak het.

Team TGG, soos hulle deur die loop van die uitdaging bekendgestaan het, het nou wel nie gewen nie, maar steeds ‘n avontuur gehad wat hulle vir die res van hul lewens sal onthou.

Twee plaaslike inwoners en jarelange vriende, Freddie de Swardt (die reus van span Two Gnomes and a Giant) en Jan du Plessis, en hul derde spanmaat, Oostewald van Niekerk van Pretoria, het Vrydag in Zanzibar aangekom, nadat hulle 7 951.7 km vanaf Kaapstad gereis het in 13 dae en 20 minute.

Die drie het ‘n gemiddelde spoed gehandhaaf van 9.51 km per uur, met hul topspoed wat 50.5 km was toe hulle verby Maun in Botswana is. Wat hierdie kompetisie besonders maak, is dat spanne elke dag soveel kilometers as moontlik moes aflê, met soveel verskillende vorms van openbare vervoermiddele as wat hulle kon. Hoe doeltreffender en goedkoper, hoe beter vir elke span se punte wat hulle kon bymekaar maak.

Elke span het ‘n beperkte begroting gehad om die eindbestemming te haal. Spanne kon onder meer punte verdien deur by die verskillende lande wat hulle deurkruis se voorafbepaalde besoekpunte in te klok en daaglikse uitdagings per e-pos te voltooi. Daar is ook punte uitgedeel vir die spanne se kreatiewe gebruik van sosiale media om bewustheid te kweek aangaande hul deelname aan die uitdaging.

Team TGG het ongelukkig nie die US$15 000 prysgeld gewen nie weens hul vlug na Zanzibar wat op die laaste minuut gekanselleer is. Die nuwe vervoerreëlings wat hulle moes tref om Zanzibar betyds te haal het veroorsaak dat die span oor hulle daaglikse begroting gegaan het en dat daar heelwat punte van hulle eindtelling afgetrek moes word.

Die drie spanmaats was Maandag nog in Zanzibar, waar hulle vir ‘n paar dae uitgespan het, noudat die uitdaging afgehandel is. Hulle plan, het Freddie gesê, was om op 20 Desember weer terug te keer na Suid-Afrika, maar beslis nie op dieselfde manier as waarop hulle gegaan het nie.

“Die enigste publieke vervoer wat ons nou gaan gebruik, is die taxi van hier af Stone Town toe, die taxi van Stone Town na die naaste lughawe toe en van daar af vat ons Kenia Air Lines tot in Johannesburg ... ek dink ek is vir eers redelik genees van openbare vervoer,” het Freddie bygevoeg.

Freddie is vas oortuig dat alle busbestuurders as mal gesertifiseer moet wees. “’n Mens moet baie geduld hê en in sommige van die gevalle moet mens baie, baie hard kan bid,” het hy bygevoeg.

In Lilongwe (Malawi) was daar busse wat so oorlaai was, het Freddie gesê, dat net 20 mense kon sit en die ander 30 moes staan. Dan het die busbestuurder nog gejaag asof hy dink hy sit agter die stuur van ‘n Maserati. Die dag nadat Freddie-hulle vanaf Lusaka na Lilongwe toe gery het met die oorvol bus, was ‘n ander span in ‘n ongeluk wat van dieselfde busmaatskappy se dienste gebruik gemaak het.

Volgens Freddie het hy nuwe respek gekry vir mense hier by die huis wat moet staatmaak op busse en taxi’s. “Ek het ‘n paar dinge van myself geleer en ‘n paar dinge gesien. Mense in ons land ... mense wat vir jou werk moet elke dag hierdie stelsel gebruik. Partykeer kom hulle laat by die werk of hulle wil op ‘n Vrydag vroeg tjaila. Jy as besigheidseienaar verstaan nie altyd hoekom nie. Vrydae is die busse gewoonlik oorvol gelaai. Hulle wil vroeër gaan, want daar word ook eers gewag dat die bus of taxi vol is. Dit is ook hoekom die busse en taxi ook nie altyd op tyd is nie. So, ek het bietjie simpatie met ons eie mense gekry wat in daai situasie moet ry ... ons het nou hierdie vervoer vir 14 dae gebruik en ek besef nou waardeur hulle moet gaan elke dag, want dit is die enigste vorm van vervoer wat hulle het.”

Buiten vir die slegte paaie en vervoer, het Freddie skertsend gesê, was daar darem altyd iewers tekens van die beskawing in die vorm van ‘n Coca-Cola bord. Daar was ook orals waar hulle gekom het Coca-Cola om te drink. Dit het goed afgegaan met die wedren se stapelvoedsel - Romany Creams of ‘n garage pie. Dankie tog, het Freddie gesê, vir gastehuise langs die pad waar mens kon inboek vir die aand en ‘n ordentlike bord kos kon geniet.  

Party dae was dit ook nie net maanskyn en rose gewees nie, en het die span kort-kort gewonder waarvoor hulle hulself ingelaat het. “Maar dan kom mens by mooi plekke soos Zanzibar en Lake Malawi wat alles weer die moeite werd gemaak het,” het Freddie gesê.   

Op die ou einde van die dag, sê span TGG, was hulle deur die hel en terug. “Daar was goeie en slegte tye, mooi plekke en nie-so-mooi plekke nie, ons het op ongemaklike plekke geslaap en was party keer vuil en sweterig, maar ek dink ons wen nog steeds in die sin dat ons drie dit gemaak het tot by die eindstreep en wegloop van die resies nog groter vriende as voor ons begin het met die resies,” het Team TGG gesê.

 
 
 

Viewed: 473

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Besig om nuwe vriende te maak ... In Botswana het Team TGG 'n Kanadese span ontmoet, en die pad vir 'n rukkie saam met hulle gedeel. In die foto is, van links na regs, Tiffany, Spence, Freddie, Jan en Oostewald.

Maandagaand het Team TGG uitgespan in die La Fontana retaurant in Zanzibar. 

'n Teken van die beskawing - in Tanzanië koop mens Coca-Cola in 'n laaaaang 350 ml glasbottel. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT