ADVERTISEMENT:

 

 
 

Rowers oorval familie in veiligheid van eie huis

Date: 18 December 2017 By: Isabel Venter

Die feesseisoen is gewoonlik ‘n tyd van rus en vrede, maar weens ‘n hernude vlaag van misdaad is daar bitter min rus en vrede vir inwoners van Louis Trichardt.

In een van die mees dramatiese voorvalle is ‘n jong man, sy ma en sy ouma verlede week in hul huis deur gewapende rowers oorrompel en vir ure aangehou.

Jandré van Jaarsveldt (25), sy ma Hesta Boshoff (50) en ouma Erna Prinsloo (77), is verlede Woensdag in hul huis in Jasmynstraat deur rowers vasgebind en aangerand. Daar was drie rowers, waarvan een met ‘n pistool gewapen was.

Tannie Erna het ná die aanval gesê dit was vir haar ‘n wrede ontnugtering gewees. “In al my jare in Louis Trichardt ... in hierdie huis wat ek en my oorlede man saam gebou het ... is dit die eerste keer wat ek ‘n huisbraak moes deurleef het,” het sy gesê.

Dit sou later aan die lig kom dat die rowers eers toegeslaan het op die huishulp in haar kamer. Die rowers het die huishulp en haar kêrel gedreig en by hulle die agterdeur se sleutels gekry. Boonop het die rowers die kêrel se sakke omgedop en al sy geld gesteel.

Tannie Erna het geen twyfel daaraan dat daar ‘n Hoër Hand was wat hulle deur die ervaring beskerm het. “Daar was net Een wat ons bewaar het en dit was Jesus,” het sy gesê.

Tannie Erna was nog besig om Woensdagaand haar Bybel toe te slaan, toe een van die rowers haar kamerdeur oopgestoot het. Dit was omstreeks 23:00. Tannie Erna het groot geskrik toe sy die rower sien, want sy het eers gedink dit was dalk Jandré. Die rower was nie gemasker nie en hy het geld gesoek.

“Ek sê toe vir hom: Lyk dit of ek geld het? Ek is ‘n pensionaris, ek het nie geld nie,” het tannie Erna gesê. Sy en Hesta deel ‘n kamer en sy het toe vir Jandré geskreeu om te kom help.

Half deur die slaap, neem Jandré die vertelling by sy ouma oor, het hy dadelik uitgestorm in die gang, waar hy gekonfronteer is deur nog ‘n rower. Jandré het die rower gepak en al in die gang af met hom gestoei. “Dit is so donker, mens kan nie sien nie ...  Ek weet nie of die ou gehardloop het nie, maar toe ek myself weer kry is ek met hom in die muur vas, toe is ons in die banke in en toe is ek met hom in die kas in ... Dit het gevoel of hy my probeer aftrek. Hy het met sy hand beduie en gesê: Stop or I will shoot. Toe stop ek,” het Jandré vertel.

Die rower se makkers het hom te hulp gesnel en vir Jandré gesê om na tannie Erna se kamer toe te stap. Hier het hulle vir Jandré beveel om op die bed te lê, in die middel, met sy ouma en ma weerskante van hom. Hierna is Jandré vasgebind met ‘n materiaal belt en ‘n kussing is oor sy kop gegooi.

 Die rowers het die kluis sleutels geëis.

“Ek het gehoor hoe hulle ouma ‘n klap gee, want sy wou nie die kluis se sleutels vir hulle gee nie ... toe hoor ek so 'n harde shot. Hulle het haar so 'n harde hou op die rug met die plathand geslaan,” het Jandré gesê.

Die rowers het tannie Erna verder probeer intimideer, maar sy het sommer met haar kierie so ‘n skuins hou na hulle geslaan. Hiervoor was die rowers nie te vinde nie en een het die kierie by tannie Erna gegryp en haar vol in die gesig geslaan, sodat een van haar bril se lense gekraak het. In ‘n stadium het die rowers ook ‘n plastieksak oor tannie Erna se kop getrek om haar te dwing om die sleutels te oorhandig.

 “Toe sê ek vir haar: 'Gee net die blerrie sleutels vir hulle!'” het Jandré gesê.

Hierna het die rowers nie net die kluis nie, maar ook die res van die huis omgekeer op soek na waardevolle items om te steel. Die rowers het selfs die juwele van tannie Erna en Hesta afgesteel.

Terwyl die rowers in die huis besig was, het tannie Erna vir Jandré en Hesta gesê dit is nou die tyd om te bid. Tannie Erna sê sy het vir een van die rowers gesê sy verkondig in Jesus se naam dat nie hy, of sy makkers, hulle enige leed sal aandoen nie. Dié rower het glo probeer om een van die wapens te laai, maar so gesukkel dat hy die taak gewonne gegee het. “Hy het my in my gesig uitgelag en gespot. Toe sê ek vir hom hy moet aanhou spot met Jesus, hy sal hel toe gaan,” het tannie Erna gesê.

Eers ná sowat twee ure het dit stil geraak in die huis. Tannie Erna het ‘n naaldwerkskêrtjie uit die bedkassie gehaal en vir Jandré-hulle losgesny. “Ek het toe eers gesien hulle het een van die wapens, wat hulle seker nie gelaai kon kry nie, op die spieëltafel gelos. Ek het dit gevat, gelaai en deur die huis beweeg. Nadat ek gesien het hulle is weg, het ek die deure gesluit en dadelik my boetie en die polisie gebel,” het Jandré gesê.   

Dit is nog nie duidelik hoe die rowers weggekom het met al die gesteelde goedere nie. Volgens Jandré kon hulle hoor toe die rowers die voertuie se sleutels in die hande kry, maar om een of ander onverklaarbare rede het die rowers opgegee om die voertuie te probeer steel.  

Die Makhado Polisie was blitsig op die toneel en kon glo goeie vingerafdrukke lig. Daar word vermoed dat dieselfde groep rowers dieselfde aand by tannie Erna se bure en nog ‘n ander nabygeleë huis probeer inbreek het.

Teen druktyd het die polisie bevestig dat hulle nog op soek is na die verdagtes.

Oor die algemeen, sê tannie Erna, gaan dit emosioneel goed met hulle. "Hoekom sal ek bang wees? Hierdie is my huis, en hulle sal nie weer hier kom nie," het tannie Erna gesê. Sy het ook gesê dat hulle besig is om die sekuriteit in en om die huis op te skerp, en definitief meer waaksaam is.

 

 
 
 

Viewed: 1963

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT