ADVERTISEMENT:

 

 
 

Knus in ma se arms is dr. Nada de Villiers se splinternuwe tweeling dogtertjies. Op linkerkant is Zandré terwyl Nandri op regterkant lê. Foto verskaf.

Ooievaar beleef bedrywige tyd met

Date: 09 December 2017 By: Isabel Venter

Sien jy dubbel? Nee, maar dit is net tweelinge waar jy deesdae kyk.

Louis Trichardt spog met drie nuwe stelle tweelinge en ‘n stel “tweelinge” wat toe ‘n drieling geword het!

Al die nuwe Soutpansbergertjies is sommer dae uitmekaar gebore.

Theo en Sophia Schlieben het in November die trotste ouers geword van ‘n seuntjie en dogtertjie. Louis Trichardt se beminde veearts, dr. Nada de Villiers, het kort ná hulle die lewe geskenk aan tweeling dogtertjies. Zandré en Nandri de Villiers is op Donderdag, 30 November, gebore. Zandré het die skaal getrek op ‘n stewige 2.29kg en was ‘n hele 5mm langer as haar sussie Nandri, wat 49cm lank is en ingeweeg het op 2.19kg.

Maar dit is nog niks. Die grootste verrassing het nog voorgelê vir Anri en Renier Fourie.

Die egpaar moes Saterdag inderhaas deurjaag na die Pretoria-Oos hospitaal toe vir ‘n noodkeiser, min wetende dat hulle met ‘n ekstra kind gaan terugkom huis toe.

Renier en Anri was Saterdag rustig by die huis. Hulle het vroeër gaan uiteet saam met vriende en Renier het net reggemaak om die rugby te kyk, toe die “tweeling” aandui dat hulle reg is om gebore te word.

“Drie speedtraps later – Anri het net vir hulle geskreeu dat dit ‘n noodsituasie is – en nou ja, hier is ons nou,” het Renier vertel.

Eerste was dit sussie Amori, gevolg deur haar boetie Henré.

Hulle boetie, Renier junior, het almal onkant betrap. “O, sh@t, hier’s dan nog enetjie,” het die dokter gesê en toe vir Renier uitgehaal. “As jy dink Binnelanders gons, dink weer. Hier in Pretoria-Oos gons dit nog meer,” het ‘n trotse Renier Dinsdag gesê.

Deur haar hele swangerskap het niemand agtergekom dat Anri eintlik ‘n drieling verwag nie. Buiten dat die tweeling toe ‘n drieling geword het, word hulle geboorte ook as ‘n groot wonderwerk geag. Dit is nie net omdat Anri hulle kon dra tot op 35 weke nie, maar ook omdat hulle al drie meer as 2kg geweeg het by geboorte. Amori het 2.2kg geweeg, Henré 2,408kg en Renier 2.5kg.

Die drieling het eintlik ook ‘n bietjie te vroeg opgedaag. Toe almal nog gedink het dit was ‘n tweeling was die dokter se datum vir hul geboorte 15 Desember. Nou deel die drietjies hul verjaarsdag op 2 Desember met hul oupa, Fritz Fourie (64), wat in Januarie vanjaar in ‘n motorongeluk oorlede is.

Al drie was nog Dinsdag in die hospitaal waar hulle groei gemonitor word. Die drietjies verbaas egter, het Renier gesê, almal by die hospitaal met hulle goeie vordering. “Hulle het geen probleme nie en al drie is perdfris en gesond.” Al wat pla is dat hulle nog ‘n bietjie klein is om gemaklik vas te hou. “Hulle is so klein ... mens voel of jy hulle gaan breek as jy hulle optel,” het Renier gesê.

Die week se goeie nuus is afgesluit met Marleen en Bart van der Vyver se tweeling seuns, Bart Antonie en Ostervaldt James (OJ vir kort) wat Dinsdag gebore is.

 
 
 

Viewed: 2151

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Ostervaldt James (OJ) en Bart Antonie van de Vyver was die derde stel nuwe tweelinge waarmee Louis Trichardt spog. Foto verskaf.

 

Renier "Die Wegkruipertjie" Fourie, was dalk die laaste om gebore te word, maar het die skaal op 'n allemintige 2.5kg getrek. Foto verskaf.

Amori Fourie. Foto verskaf.

Henré Fourie. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT