ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 30-jarige entomoloog, ElsjeJoubert van Levubu, is aangewys as Limpopo se Landboukundige van die Jaar. Foto verskaf.

Elsje aangewys as Lim se top landboukundige

Date: 19 November 2017 By: Isabel Venter

Van die beste boere en landboukundiges in Suid-Afrika is onlangs deur lede van die Landbouskrywers Suid-Afrika (LSSA) vereer.

Onder hulle geledere was die Soutpansberg se eie dr. Elsje Joubert. Die 30-jarige entomoloog is aangewys as Limpopo se Landboukundige van die Jaar in die LSSA se 2017 kompetisie vir die boer, nuweling en landboukundige van die jaar.

Vir die afgelope vyf jaar woon en werk sy in Levubu waar sy die waarnemende tegniese bestuurder by Subtrop (die Suid-Afrikaanse kwekersvereniging vir avokados, mangos, lietsjies en makadamias) is.

Elsje, oorspronklik van Nelspruit, het haar PhD verwerf in die vakrigting entomologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar proefskrif handel oor klimaatsverandering en hoe dit die fisiologie en populasie-dinamika van Eldana saccharina, ‘n stamboorder wat ekonomies betekenisvolle skade aan suikerriet aanrig, beïnvloed. Hierna het sy ook haar meestersgraad verwerf vanuit Stellenbosch se Departement van Bewaringsekologie en Entomologie.

Ná voltooiing van haar MSc-graad het Elsje vir ‘n kort rukkie gewerk as ‘n tegnikus by die Sitrusnavorsingsinstituut.  Hier het haar praktiese ondervinding begin toe sy in die veld gewerk het met vrugtevlieë en blaaspootjies. Voor sy haar huidige pos aanvaar het by Subtrop in 2013, het Elsje ook gewerk vir die Suid-Afrikaanse Suikerrietnavorsingsinstituut (SASRI).

Volgens haar kollega Barry Christie, wat verlede jaar aangewys is as Mpumalanga se Landboukundige van die Jaar in dieselfde kompetisie, vermag Elsje ongelooflik baie vir die bedryf. “Elsje spog met heelwat praktiese ondervinding in verskillende aspekte van die landboubedryf,” het hy gesê.

Elsje was deel van net ‘n handjievol vroue-finaliste in LSSA-kompetisie. “Ek is nederig dankbaar vir die toekenning. Dit was soos ‘n vriendelike verrassing en ek het dit glad nie verwag nie,” het Elsje gesê. “En natuurlik is ek ook dank verskuldig aan my Hemelse Vader vir sy seën en genade en my diere man, Stoffel, vir sy ondersteuning,” het Elsje bygevoeg.

Volgens Elsje vat die werk wat sy vir Subtrop doen ongelooflike toewyding. Dié sambreelorganisasie bied hul dienste aan vir die avokado-, mango-, lietsjie- en makadamiakwekersverenigings. ‘n Tipiese werksdag sluit vir Elsje in die koördinering van studiegroepe en navorsing, produksie-ondersteuning en die ontleding van grondmonsters voor boordvestiging.

“Ek het ‘n passie vir proewe om alternatiewe, effektiewe beheermaatreëls te identifiseer om ons peste en siektes op die bome te kniehalter. Ek geniet dit om saam met die produsente deur die stappe van boordvestiging te stoei,” sê Elsje.

Sy erken dat boerdery nie altyd maklik is nie en dat elke dag vir haar nog steeds nuwe uitdagings bring. Haar prestasie het haar ook met nuwe ywer skouer aan die wiel laat sit. Haar hoop is dat sy in die nabye toekom meer sal kan fokus op die produsente in die direkte area, sodat sy hulle kan voorsien van meer spesifieke advies wat direk op hulle betrekking het.

 
 
 

Viewed: 1612

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dr. Elsje Joubert van Levubu besig om opnames te maak in 'n plaaslike makadamiaboord in Levubu. Foto verskaf.

Afgeneem saam met dr. Elsje Joubert (middel) met haar toekenning as Limpopo Landboukundige van die Jaar is mnr. Kobus Steenekamp (links) van Monsanto SA en me. Magda du Toit (regs) LSSA voorsitter. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT