ADVERTISEMENT:

 

 
 

Een van die stoptekens wat verwoes is deur die sogenaamde "rebelle van die samelewing".

Rebels wys min ontsag vir wet en orde

Date: 18 November 2017 By: Isabel Venter

Gee niemand meer om vir hul medemens nie?

Dit is maar net een van die vrae wat gevra word nadat wettelose boosdoeners, wat hulleself die Isolated Rebels of Society noem, verskeie stop- en padtekens in Louis Trichardt gebruik het as advertensieborde vir ‘n fuifpartytjie.

Dié partytjie word bemark as ‘n Isolated Party for Rebels, waar daar musiek gemaak gaan word deur verskeie kunstenaars en geen onder 18’s toegelaat gaan word nie. Volgens die plakkaat is die partytjie geskeduleer vir vroeg Desember by die Tshedza Lodge in Louis Trichardt. Daar sal, aldus die plakkaat, ‘n wye verskeidenheid DJ’s en musiekvermaak ook wees.

Die plakkate is onder die dekmantel van die nag met 'n taai meel-en-water tipe gom op die verkeerstekens geplak. Volgens wet mag niemand iets bo-oor 'n padteken plak nie. Van die plakkate is sommer reg in die middel van stoptekens geplak. Sover die koerant kon vasstel, is die advertensies meestal in Anderson-, Hospitaal- en Stubbsstraat opgeplak, elke keer op verkeerstekens.

Die Makhado Munisipaliteit het Dinsdag by navraag gesê dat hulle nie bewus was van die situasie nie. Hulle het bevestig dat, sou die plakkate wel oor padtekens geplak wees, dit totaal onwettig is. “Niemand het by ons ‘n aansoek gebring of betaal om vir die partytjie te adverteer in die dorp nie,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi in ‘n e-pos gesê. Hy het gesê dat die munisipaliteit ‘n afskrif van die plakkaat ontvang het, en dat hulle met die inligting daarop die skuldiges voor stok sal kry.

Om te peuter aan verkeerstekens is ‘n strafbare misdaad en kan ook ernstige of selfs noodlottige ongelukke tot gevolg hê. Persone wat hulle skuldig maak aan hierdie opsetlike saakbeskadiging, kan tronkstraf van tot drie jaar opgelê word. As daar ‘n ongeluk plaasvind as gevolg van die verwydering van sulke padtekens, kan die persoon wat die tekens verwyder het, ook siviel vervolg word. ‘n Hof kan ook beveel dat enige skade wat enigiemand ly as gevolg van die verwydering van sulke padtekens, van die skuldiges verhaal kan word.

 
 
 

Viewed: 572

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT