ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Two Gnomes and a Giant-span bestaan uit, van links na regs, Oostewald van Niekerk, Jan du Plessis en Freddie de Swardt. Foto verskaf.

Twee dwergies en 'n reus durf Wakati Challenge aan

Date: 18 November 2017 By: Isabel Venter

Party avonturiers pak Afrika aan met ‘n fiets, ander met ‘n 4x4, en party klap ‘n toon. Drie goeie vriende het egter besluit om deur die kontinent te reis deur net gebruik te maak van publieke vervoer.

Hulle vorm deel van ‘n internasionale groep avonturiers wat in Desember deelneem aan die Wakati Challenge.  

Die Wakati Challenge behels dat deelnemers vanaf Kaapstad tot in Zanzibar moet reis deur slegs gebruik te maak van publieke vervoer op ‘n beperkte begroting en in net 15 dae. Die wenspan staan die kans om weg te stap met $15 000 US.

Twee plaaslike inwoners en jarelange vriende, Freddie Swart en Jan du Plessis, en hul derde spanmaat, Oostewald van Niekerk van Pretoria, het hulle span, Two Gnomes and a Giant, al vroeg-vroeg ingeskryf vir die Wakati Challenge.

Dié wat Freddie goed ken, sal verstaan waar die woord Giant in die span se naam vandaan kom. Jan is ook net so bekend in Louis Trichardt. Hierdie landdros het al selfs aan die Comrades Marathon deelgeneem.  

Freddie het Maandag gesê dat hy aanvanklik erg ontsteld was toe Jan en Oostewald hom vertel van die Wakati Challenge en dat hulle gaan deelneem, maar dat hy wat Freddie is nie genooi is om saam te gaan nie. “Eers later, op my verjaarsdag, het hulle my gebel en gesê hulle spot net en dat hulle my klaar ingeskryf het,” het Freddie gesê.

Die uitdaging vereis van hulle drie om elke dag soveel kilometers as moontlik af te lê, met soveel verskillende vervoermiddele as wat hulle kan. Hoe doeltreffender en goedkoper, hoe beter vir elke span se punte wat hulle kan bymekaar maak.

Elke span kan hulle eie roete kies tot in Zanzibar, maar hulle sal in gedagte moet hou dat hulle net punte kan maak vir die hoeveelheid lande waardeur hulle reis tot by hul eindbestemming. Om hulle te help, kry elke spanlid ‘n skamele $40 (ongeveer R570) per dag. Geld mag nie vooruit gebruik word nie, maar geld wat nie gebruik word nie, mag oorgedra word na die volgende dag.

Voorafgaande is al inligting wat Freddie-hulle in hierdie stadium het oor hul deelname. Detail, soos die presiese wegspringplek, word geheim gehou tot net voor die vertrekdatum. Die finale reëls sal dan ook eers aan die deelnemers bekendgemaak word. Elke deelnemer word toegerus met ‘n GPS-opspoorder om seker te maak hulle verneuk nie.

Freddie sê hy en Jan sal einde van November saam afvlieg Kaap toe, waar Oostewald by hulle sal aansluit. In die Kaap sal hulle die ander 102 spanne, wat selfs van oorsee af ingeskryf het, vir die eerste keer ontmoet, voor almal op 2 Desember sal wegspring.  

So, wat gaan die reus-en-dwergie-span se strategie wees?

“Ek weet nie ... ons gaan dit maar vat soos dit kom,” het Freddie gesê. “Ek het vir die ander twee gesê ons gaan tot daar waar ons nie meer ‘n Coca-Cola bord kry nie, want dan is daar nie meer beskawing nie. Dan draai ons onmiddellik terug,” het hy skertsend bygevoeg.

Jan het telefonies vanuit Pretoria gesê hulle beplan om lig te reis. “Ons gaan net ‘n dag se kos dra, en vir die res plan maak soos wat ons by die verskillende plekke aankom. Ons gaan ons nie soos wafferse kampeerders dood dra aan stofies en tierlantyntjies nie,” het Jan gesê.

Hulle grootste kopseer was egter om aanlyn te kom. Spanne moet voor en deur die loop van die reis gesels en bewustheid versprei oor die uitdaging op sosiale media. “Ons moes goed kry soos Instagram, Facebook en Twitter en al daai dinge,” het Jan verduidelik. Spanne se gebruik van sosiale media sal ook tel tot hulle algehele punte.

Diegene wat graag hulle vordering wil volg, kan nou al die Wakati 2017 Facebook-blad gaan besoek. Daar sal na verwagting binnekort ‘n foto beskikbaar gemaak word van die drie in hulle reus-en-dwergie-monderings.

 
 
 

Viewed: 472

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die Two Gnomes and a Giant-span bestaan uit, van links na regs, Oostewald van Niekerk, Freddie de Swardt en Jan du Plessis. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT