ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van die voorraad wat by Snappy Snacks gesteel is, is reeds deur die Makhado polisie teruggevind. Foto verskaf.

Sakeman platgeslaan ná twee inbrake in twee dae

Date: 17 November 2017 By: Isabel Venter

Soos wat Desember en die Kersseisoen nader kom, word misdaadsyfers in Louis Trichardt tot nuwe hoogtes gedryf deur gewetenlose kriminele.

Booswigte het oor die afgelope naweek ‘n plaaslike besigheid twee keer geteiken. Die eienaar van die Snappy Snacks Kafee in Kroghstraat, mnr. Carlos de Faria, was platgeslaan Maandagoggend toe daar vir die tweede keer in twee dae by sy besigheid ingebreek is.

Die skelms het weggekom met derduisende rande se voorraad. Carlos het nog verdere verlies gely deur die skade wat hy moes herstel aan sy perseel. Hy het Maandag vertel dat hy ongeveer 04:00 ‘n oproep gekry het van die polisie om te sê dat hulle patrollievoertuig verby sy winkel is en dat die venster uitgeslaan is. “Dié venster was nog vars ingesit van Saterdag se inbraak,” het Carlos gesê.

Daar is beeldmateriaal van beide Saterdag en Maandag se inbrake. Carlos, wat maar eers in April vanjaar by die perseel ingetrek het, het nog nie ‘n alarmstelsel geïnstalleer nie.

Net soos met die Soutpansberg Spar, waarby vroeër in Oktober ingebreek is, het die misdadigers wat by Snappy Snacks ingebreek het hulle ook toegespits op die winkel se sigaretvoorraad.

Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die eerste inbreker Saterdagoggend die winkel se venster, reg agter die toonbank, stukkend slaan. Die man het ‘n pet gedra, wat dit moeilik maak om sy gelaatstrekke uit te ken. Hy begin ook dadelik om ‘n sak vol sigarette te prop, en dit wil voorkom of hy dit vir ‘n tweede makker aangegee het wat buite die winkel gewag het.

“Maandag se dief lyk nie of hy dieselfde ou is as Saterdag s’n nie,” het Carlos gesê. Die dief het hom egter ook toegespits op die sigarette - oftewel die bietjie voorraad wat oorgebly het ná die eerste inbraak. “Maandag se dief het net die venster uitgedruk en ingekom ... ek het nog nie eens kans gehad om te betaal vir die nuwe ruit nie,” het Carlos Maandag gesê.

Makhado polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het Woensdag bevestig dat ‘n 27-jarige verdagte Dinsdag in hegtenis geneem is in verband met die inbraak van Saterdag. Dié verdagte is glo in Makhita in die Tshilwavhusiku-omgewing gevang nadat hy glo betrap is met van die beweerde gesteelde goedere in sy besit. Hy sal na verwagting later in die week voor die Louis Trichardt Distrikshof gebring word, waar hy sal verskyn op ‘n klag van inbraak, asook die besit van goedere wat vermoedelik gesteel is.

Volgens Radzilane verwag die polisie om binnekort ook ‘n verdagte aan te keer in verband met Maandag se inbraak. “Van die gesteelde goedere is teruggekry in ‘n huis hier in Louis Trichardt waar die verdagte glo onwettig bly,” het Radzilane gesê.

Radzilane het inwoners gemaan om dié komende Kersseisoen hul veiligheid by besighede, sowel as hul huise, op te skerp. “Plaaslik is die polisie reeds besig met verskeie spesiale misdaadvoorkomingsoperasies, in samewerking met ander instansies,” het sy bygevoeg.

 
 
 

Viewed: 552

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Van die voorraad wat by Snappy Snacks gesteel is, is reeds deur die Makhado polisie teruggevind. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT