ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Danie Lourens (89).

Oom Danie groet rustig in sy slaap

Date: 12 November 2017 By: Andries van Zyl

Een van die Soutpansberg se kleurvolste oud-inwoners, oom Danie Lourens, is Saterdagaand in die ouderdom van 89 jaar oorlede.  

Volgens dogter Anne is hy rustig in sy slaap oorlede. Hy het vroeër die aand net gekla dat sy knieë hom bietjie opdraande gee.

Oom Danie, of oom Louwtjie soos baie hom ook geken het, het in Oktober 2015 ná 61 jaar op Louis Trichardt gegroet om terug te keer na die Groot Marico-distrik waar hy in 1928 gebore is. Hy het saam met Anne en haar man Johan na Zeerust getrek. In Augustus 2016 het oom Danie weer saam met sy dogter-hulle verhuis, dié keer na Bethlehem in die Vrystaat, waar hy Saterdag oorlede is.

In sy 61 jaar hier in Louis Trichardt, het oom Danie egter diep spore in die Soutpansberg getrap.

Oom Danie het op 17 Junie 1954 as passer en draaier in Louis Trichardt kom wortelskiet, nadat hy en sy vrou, tannie Kate, hul huis in Suidheuwels, Johannesburg, verkoop het. Die groot rede vir die skuif was sodat tannie Kate haar suster, wat ‘n invalide was, kon help versorg.

Vir die eerste paar maande was oom Danie egter werkloos, totdat hy op 1 Oktober 1954 by die plaaslike kragstasie begin werk het. Hy was presies 10 jaar en een maand hier werksaam, waarna hy op 2 November 1964 by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie as verkeersbeampte begin het. Daar het hy ‘n rekord opgestel deurdat hy tot met sy aftrede as verkeersbeampte op 31 Julie 1993, slegs by een stasie gestasioneer was.

Dit is juis as verkeersbeampte wat baie inwoners oom Danie sal onthou. Daar is ook baie staaltjies oor hom. So het oom Danie in lewe self vertel van die man en vrou wat hy op die N1 voor Lalapanzi afgetrek het vir spoed. Die man het uit sy voertuig geklim en teruggestap na oom Danie en die lesing op die gatsometer bevraagteken. Oom Danie het toe voorgestel dat hy [die man] die gatsometer moet beman, terwyl oom Danie weer sal verbyry met die man se voertuig om sodoende die spoedmeter te toets. Oom Danie het na die man se voertuig gestap en ingeklim. Die vrou het egter nie gesien dat dit nie haar man is wat in die voertuig klim nie. Die volgende oomblik vra die vrou toe vir oom Danie: "So wat sê die ou bliksem?"

Oom Danie het ook nie omgegee hoe belangrik 'n persoon was wanneer hulle ‘n verkeersreël oortree het nie. Hy het selfs vir oud-minister Fanie Botha ‘n verkeerskaartjie vir spoed gegee. Ook sy dogter Anne, by wie hy nou bly, het in 1978 ‘n kaartjie van haar pa gekry omdat sy dubbel parkeer het voor die polisiestasie in Kroghstraat.

Buiten vir sy jare diens as verkeersbeampte, was oom Danie ook een van die pioniersfigure in plaaslike resiesduifgeledere. Hy het in 1959 aan sy eerste resiesduifwedvlug deelgeneem en was vir meer as vyf dekades aktief betrokke in die sportsoort, tot sy uittrede in September 2014.

As kerkman het oom Danie ook baie gesag afgedwing en was hy vir 57 jaar kerkraadslid van die Hervormde Kerk Louis Trichardt-gemeente. In hierdie 57 jaar kon hy slegs 10 kerkraadsvergaderings nie bywoon nie.

Buiten vir sy liefde vir sy werk, posduiwe en kerk, was Schoemansdal ook baie na aan oom Danie se hart, veral as lid van die feeskomitee en die reël van die jaarlikse Geloftefeesvieringe. Vir bykans ‘n dekade was dit elke jaar oom Danie se voorreg om ‘n ruiker op Van Warmelo se vrou se graf tydens Geloftedag op die Schoemansdal Feesterrein te lê.

Tannie Kate het oom Danie op 20 Desember 1988 ontval. Oom Danie was met tannie Kate se dood 11 jaar haar jongere. 'n Paar jaar ná haar dood het die liefde egter weer geblom en is oom Danie op 18 Julie 1992 met tannie Alice getroud. Ongelukkig het tannie Alice hom ook ontval, op 13 Augustus 2008.

Wyle oom Danie word eerskomende Donderdag, 9 November, om 10:00 vanuit die Hervormde Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Hy word oorleef deur sy dogter Anne, skoonseun Johan, kleinseun Tiaan Buitendag (met eggenote Nicky), kleinseun Danie Scott en vier agterkleinkinders.

 
 
 

Viewed: 760

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT