ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Marjory en eggenoot Fritz Botha. Foto verskaf.

Kanker eis onverwags lewe van oud inwoner

Date: 11 November 2017 By: Andries van Zyl

Wat ‘n Kaapse aftree-avontuur moes wees, het vir die bekende en geliefde Botha-egpaar, Fritz (72) en Marjory (69), in tragedie geëindig, met Marjory wat verlede week aan limfoomkanker gesterf het.

Die Bothas het in Desember hul huis in President Steynstraat, Louis Trichardt, verkoop en sou vir twee jaar in die Wes-Kaap rondkamp, voordat hulle sou besluit waar om hul permanente aftreeplekkie te koop.

Volgens hul oudste dogter, Alida Buckle (46), het hulle drie wonderlike maande in Leentjiesklip by Langebaan aan die Weskus spandeer, waar hulle die rustigheid van aftrede kon beleef, voordat Marjory in April met limfoomkanker gediagnoseer is. “Dit was reeds in ‘n gevorderde stadium, maar ten spyte daarvan het my ma die chemo-behandeling aangepak. Sy was tot op die laaste nog vas van plan om die kanker te oorwin,” het Alida gesê.

Die Bothas het hulle in 1986 eers in Levubu en later in Louis Trichardt kom vestig. Marjory was deur die jare by verskeie skole, die Tshisimani Onderwyskollege en afdelings van die onderwysdepartement betrokke en was met haar amptelike aftrede in 2014 Limpopo se hoofeksaminator. Sy het van 2014 tot 2016 weer laerskoolkinders by die Emmanuel Christian School onderrig. “Om kinders te leer was haar passie. Sy was teen die einde van elke jaar so lief vir elke kind, self die stoutes,” het Alida gesê.

Marjory se dood het vir eggenoot Fritz as groot skok gekom. “My pa is platgeslaan. My ma was so seker dat sy gesond sou word dat hulle reeds bespreek het om volgende jaar met die Sinfonia te gaan vaar. Ons vermoed dat sy ‘n voorgevoel gehad het dat die einde naby is, maar tog nooit ophou hoop het nie,” het Alida gesê.

Fritz, al die jare in die boubedryf, was ouderling in die Hervormde Kerk en Marjory was vir baie jare die koster.

Benewens Frits en Alida, laat sy ook haar seun, Hano (43), dogter Susan (32), en drie kleinkinders,  Neo (17), Marcus (16) en Blaze (13) agter. ‘n Roudiens word Donderdag, 11:30, vanuit die Hervormde Kerk in Louis Trichardt vir Marjory gehou. Persone wat graag meegevoel wil betuig is welkom om vir Fritz te skakel by tel. 082 564 9981.

 
 
 

Viewed: 1008

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT