ADVERTISEMENT:

 

 
 

Benoude oomblikke vir familie tydens roof

Date: 15 October 2017 By: Andries van Zyl

‘n Vroegoggend rit na Pretoria het Maandag in ‘n nagmerrie-ervaring ontaard vir die Humphries-familie, toe hulle hul skielik in die middel van ‘n gewapende roof bevind het.

Sers. Antheny Humphries (43) was saam met sy vrou, Tracy (46), kinders Angelique (16) en Hanso (16), en ma Meisie (66), op pad na 1 Militêre Hospitaal in Pretoria waar hy vir ‘n spierbesering ondersoek moes word.

Antheny, ‘n lid van Lugmagbasis Makhado se brandweer-afdeling, het vroegoggend vanaf die basis vertrek en besluit om brandstof in te gooi by die Petroport vulstasie net voor die Capricorn Tolplaza. Min het hulle geweet wat op hulle wag.

“Die was ongeveer 03:00 toe ons daar inry. Dit was vir my snaaks dat daar geen petroljoggies te siene was nie. Ek het aanvanklik gedink hulle is almal binnenshuis omdat dit so koud is,” het Antheny gesê.

Volgens Antheny was die enigste teken van lewe ‘n wit Mercedes Benz wat met sy hoofligte aan en deur oop met sy neus in die uitgang se rigting geparkeer was. “Dit was baie vreemd en my vrou het nogal opgemerk dit herinner haar aan ‘n toneel uit ‘n aksiefilm,” het Antheny gesê.

Antheny het uitgeklim en begin om solank sy voertuig se wiele te pomp. Sy familie het in die motor bly sit. Dit was toe dat hy opmerk hoe iemand met ‘n balaklawa oor sy gesig en kamoefleerbaadjie doodrustig na hom aangestap kom. “Aanvanklik het ek gedink dit is een van die petroljoggies,” het Antheny gesê.

Dit was egter nie een van die petroljoggies nie …

Die volgende oomblik het die man ‘n R5-aanvalsgeweer te voorskyn gebring. Hy het Antheny beveel om op sy maag op die grond te gaan lê en die R5 teen Antheny se agterkop vasgedruk. “I want money now,” sê Antheny, is al wat die man vir hom gesê het.

Antheny, wat al voorheen ‘n slagoffer van ‘n gewapende roof was, het kalm gebly. “Ek het dadelik vir my vrou gesê om vir hom die beursie te gee,” het Antheny vertel. Deurlopend het die man hom gewaarsku om nie op te kyk nie. Sy familie in die kar is ook herhaaldelik gewaarsku om af te kyk en nie oogkontak met die rower te maak nie. “Ek kan nie vir jou sê hoe voel jy as man in daardie situasie nie. Jy wil jou familie help, maar jy kan nie,” het Antheny gesê.

Kort nadat die gewapende man die R1 100 reis-en-verblyf geld, wat Antheny by die lugmag gekry het vir sy reis na Pretoria, geneem het, het ‘n tweede man vanuit die Bonjour-winkel nader gestap. Dié, sê Antheny, het sy kop by sy voertuig ingesteek, die kar se sleutels uitgetrek en saam met hom gevat. “Hulle het niks anders gevra of gevat nie, net geld,” het Antheny gesê.

Volgens Antheny het hy doodstil op die grond bly lê. Al waaraan hy kon dink was sy familie se veiligheid. Die volgende oomblik was daar ‘n harde slag. “Ek het eers gedink hulle het iemand geskiet. Ek sou egter later uitvind dat hulle probeer het om die kluis binne die winkel op te blaas,” het Antheny gesê.

Sowat ‘n minuut later, het Antheny vertel, het die rowers by die Bonjour-winkel uitgehardloop, in die Mercedes gespring en in die rigting van Louis Trichardt weggejaag. In hierdie stadium het Antheny se opleiding as brandweerman ingeskop. “Ek het dadelik opgespring en by die winkel ingehardloop om te kyk of iemand beseer is,” het Antheny gesê. Binne die Bonjour-winkel het Antheny gesien hoe die petroljoggies, kassiere en Steers-personeel nog op hul mae op die vloer lê. “Ek het vir hulle gesê dit is veilig, hulle kan maar weer opstaan,” het Antheny gesê. Gelukkig was niemand beseer nie.

Antheny het dadelik die polisie se noodnommer vanaf sy selfoon geskakel. Kort daarna het die Bandelierkop polisie op die toneel opgedaag.

Intussen het Antheny na sy familie begin omsien. “Hulle is maar erg deur die voorval getraumatiseerd. Ons sal definitief die kinders vir berading moet vat,” het Antheny gesê.

Ten spyte van die roof, het Antheny egter steeds nodig gehad om sy afspraak by 1 Militêre Hospitaal na te kom. Hy kon darem genoeg geld bymekaarskraap vir die rit verder, maar moes eers sy buurman op die basis skakel om vir hom sy motor se spaarsleutels te bring. “Gelukkig het die eienaar van die Bonjour-winkel vir my gesê hulle het versekering en dat hulle sal toesien ek vergoed word vir my verlies,” het Antheny gesê. Hy het hoë lof gehad vir die eienaar en sy vrou wat kort ná die roof daar opgedaag het. “Hulle het goed na ons gekyk en selfs vir ons koffie aangedra. Ook die polisie verdien krediet vir hul vinnige en professionele optrede,” het Antheny gesê.

Provinsiale polisiewoordvoerder lt.-kol. Moatshe Ngoepe het by navraag die rooftog bevestig. Hy het Maandag gesê dat drie rowers betrokke was en dat hulle aanvanklik probeer het om die kluis by die vulstasie oop te kap. Toe dit nie werk nie, het hy gesê, het die rowers dit probeer opblaas. Hierdie poging was ook onsuksesvol. Al waarmee die rowers kon wegkom, het Ngoepe gesê, was kontant en twee van die kassiere se selfone. Teen druktyd was dit nie seker of enige arrestasies al in verband met die rooftog gemaak is nie.

Ngoepe het lede van die publiek, wat hulle behulpsaam kan wees in hul ondersoek, versoek om hul naaste polisiestasie te skakel of die polisie se Stop Misdaad-nommer te skakel by 086 001 0111. Hulle kan ook ‘n SMS stuur na 32211.

“Ek is net bly ons is almal lewendig,” het Antheny gesê.

 
 
 

Viewed: 434

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die Humphries-familie van Louis Trichardt wat hulle Maandagoggend skielik in die middel van ‘n gewapende roof by die Capricorn Petroport bevind het. Afgeneem is pa Antheny, ma Tracy, dogter Angelique, seun Hanso en (inlas) Antheny se ma, Meisie. Foto’s verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT