ADVERTISEMENT:

 

 
 

Prof. Koos van Rooy en sy eggenote Regina afgeneem tydens 'n spoggeleentheid waar prof. Van Rooy 'n spesiale toekenning ontvang het van die NWU. Foto verskaf.

NWU gee spesiale erkenning aan Prof Van Rooy

Date: 13 October 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se bekende sendeling, Bybelvertaler en teoloog, Prof Koos van Rooy, het getel onder die room van die Noordwes Universiteit (NWU) se oes wat vereer is vir hul persoonlike en loopbaanprestasies.

Die universiteit het verlede Vrydag in Sandton sy top alumni by ‘n toekenningseremonie vereer. Hierdie jaar het die seremonie die gesogte NWU Leeftydprestasietoekenning ingesluit en ook erkenning gegee aan die NWU-alumni wat in 2017 in die internasionale arena presteer het.

Prof. Van Rooy – wat die Gemeenskapsbetrokkenheid-toekenning ontvang het - is saam met ander bekende alumni vereer, wat ingesluit het ‘n kulturele leier, ‘n suksesvolle entrepreneur, ‘n baanbreker in opvoedkunde, ‘n dinamiese regsman, ‘n geëerde navorser, ‘n buitengewone joernalis en ‘n afrigtingskundige.

“Terwyl ons werk om sukses in ‘n veranderende omgewing te behaal, kyk ons na ons alumni om ons rolmodelle op baie gebiede te wees. Julle sukses inspireer en versterk ons. Mag ons almal daarna streef om rolmodelle te wees, aangesien ons toekomstige sukses nie op strategiedokumente gebou sal word nie, maar op die inspirerende leierskap en voorbeeld van individue,” het die Prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU gesê.

Prof. Van Rooy het in 1956 afgestudeer aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys as predikant van die Gereformeerde Kerk.

Hy het op 14 Mei 2010, op die ouderdom van 78, die tweede persoon ooit geword vir wie die Teologiese Skool Potchefstroom met ‘n eredoktorsgraad vereer het. Hy het die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) ontvang op grond van sy werk as Bybelvertaler in Suid-Afrika en Afrika, asook vir sy vernuwende denke as teoloog en sy bydrae tot Missiologie.

Buiten die eredoktorsgraad, het prof. Van Rooy reeds vyf grade behaal, waaronder twee teologiese doktorsgrade, een in Sendingwetenskap (1971) en een in Ou Testament (1995). Al vyf grade is toegeken deur die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

By die geleentheid het prof. Van Rooy aan die gaste vertel dat hy deur ‘n keuse gekonfronteer is: Woeker met jou Godgegewe talente of verval in geestelike hardlywigheid. Hy het die apostel Paulus aangehaal, wat in sy brief aan die gemeente van Korintiërs geskryf het: “En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie” (1 Kor. 4:7).

Prof. Van Rooy het sy vrou, tannie Regina, bedank en gesê sy deel saam met hom die spesiale toekenning. “Was dit nie vir jou nie, was hierdie prys nie moontlik nie,” het prof. Rooy gesê. Hy en tannie Regina sal op 15 Desember hul 61ste huweliksherdenking vier.

Die egpaar is nou afgetree en spandeer hul tyd op hul familieplaas Sederkrans op die Witvlag-pad buite Louis Trichardt, waar hulle omring is deur hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders se liefde.

 
 
 

Viewed: 525

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Van die ontvangers van die NWU se gesogte alumni-toekennings is, van links na regs, mnr. Tamsanqa Manzi, prof. Kobus Pienaar,  prof. Koos van Rooy, dr. Sejako Senatle, Mej. Suid-Afrika Demi-Leigh Nel-Peters (NWU Ambassadeur-toekenning), prof. Peter van Eldik (namens prof. Rudi van Eldik), me.Daniëlla van Heerden en me. Hannie van der Merwe (names Prof Tjaart van der Walt). Foto verskaf.

Prof. Koos van Rooy, afgeneem tydens die toekennings. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT