ADVERTISEMENT:

 

 
 

 ‘n Afskrif van die brief wat deur die twee diewe vir Charl gelos is.

Pasop vir skelm gaste

Date: 09 October 2017 By: Andries van Zyl

Moet onder geen omstandighede sommer net mense van die straat af in jou huis toelaat nie. Dit was die ernstige waarskuwing van twee inwoners wat die afgelope week besteel is.

Charl Haasbroek van Joubertstraat het vertel dat hul huishulp hulle verlede Woensdag tydens middagete ingelig het dat twee vroue omstreeks 11:00 daar opgedaag het en gevra het om na hulle huis te kyk. Toevallig is Charl se huis in die mark, maar hy het geen “Te Koop” bordjies voor die huis nie.

Die huishulp het vir Charl gesê dat sy vir die twee vroue gevra het waar hulle gesien het die huis is in die mark. “Hulle het toe vir haar gesê hulle het dit op die Internet gesien,” het Charl gesê. Daarna het die huishulp die huis aan die twee vroue, wat beide Sotho gepraat het, gewys.

Die twee vroue was blykbaar so in hul skik met die huis dat hulle ‘n briefie vir Charl gelos het met ‘n versoek om dringend terug te skakel. Die briefie het gelees “Can you pls call me when you come home. I want to talk to you about the house. I really want to talk to you!!!” is geskryf onder die naam van ‘n ene Sharon Nkuna.

Charl het die nommer op die briefie geskakel. “‘n Baie arrogante vrou het my geantwoord. Sy het vir my gevra of ek nie kan verstaan sy is nie Sharon Nkuna nie! Ek sê vir jou, sy het ‘n fout gemaak en per ongeluk haar eie nommer neergeskryf. Ek het haar seker ‘n stuk of ses keer geskakel, want ek het gedink sy is in ‘n plek waar daar nie ontvangs is nie. Sy het telkens die foon in my oor doodgedruk,” het Charl gesê.

Charl sê hy het toe maar die saak daar gelos. Hy het so vinnig deur die huis gestap, maar kon niks verkeerd sien nie. Hy en sy vrou Tillie het eers die volgende oggend besef hulle is beroof.

“Toe Tillie haar juwelekissie oopmaak, sê sy vir my haar juwele is weg,” het Charl gesê. Hulle het ook net die goeie goed gevat. “Die goedkoper juwele het hulle gelos. Tillie het ‘n blikkie met duur juwele binne-in die kassie gehad. Dié het hulle gevat,” het Charl gesê. By verdere ondersoek het Charl gevind dat sy kamera ook uit sy hangkas gesteel is. “Hulle het darem die kamerasak vir my gelos!” het Charl gesê.

Volgens Charl het hulle by die huishulp uitgevind dat een van die twee vroue, terwyl hulle in die huis was, vir die bediende gevra het of sy die toilet kon gebruik want haar maag is baie deurmekaar. Met dié het die vrou gebruik gemaak van die inloop-badkamer in Charl se kamer. “Die huishulp het gesê die vrou het die kamerdeur toegedruk, maar sy het niks onraad vermoed nie, want mens maak mos ‘n deur toe as jy die badkamer gebruik,” het Charl gesê.

Charl is erg ontstoke oor die diefstal. “Baie van die goed kan mens vervang, maar sommige van die goed nie, soos die goue ringetjie wat Tillie se oorlede ma vir haar gegee het. My vrou is baie, baie ongelukkig daaroor,” het Charl gesê.

Charl-hulle was egter nie die vroue se enigste slagoffers die dag nie. Skaars ‘n halfuur later het hulle by Annelize  Mocke in Berghstraat toegeslaan. Annelize is ‘n binnenshuise versierder en werk van die huis af.

“Ek vermoed hulle het my besigheidsbord op die buitemuur gesien. Hulle het gestop, ingekom en gevra of hulle my besigheidskaartjie kan kry, want die een vrou wil haar huis oordoen,” het Annelize gesê.

Volgens Annelize het die twee vroue baie goeie Engels gepraat. “Hulle was vreeslik geïnteresseerd in wat ek doen. Hulle was baie oortuigend en het baie gesels,” het Annelize gesê.

Soos in die geval van die diefstal by Charl-hulle, het een van die vroue gevra of sy Annelize se toilet kan gebruik, want haar maag is baie omgekrap. Sy is daarna toilet toe, terwyl die ander vrou vir Annelize in die studeerkamer besig gehou het.

“Die vroue is later uit die huis uit na waar ‘n man vir hulle in ‘n swart Jeep gewag het. Hulle het selfs afsprake gemaak en nommers gegee. Ek is weer terug in huis toe. Die Jeep wou egter nie aanskakel nie, en die een vrou het uitgespring en my weer uitgeroep. Hulle was baie paniekerig gewees. Toe die Jeep weer aanskakel, het hulle gery,” het Annelize gesê.

Skaars was die twee vroue weg, of Annelize het onraad vermoed. Sy kon nie haar selfoon kry wat in die kamer gelê het nie. Verdere ondersoek het tot Annelize se skok gewys dat haar juwele en onder meer ook twee rekenaartablette weg was.

Annelize sê sy vermoed die een vrou het die gesteelde items in haar handsak versteek. “Beide het baie groot handsakke gedra,” het Annelize gesê. Sy sê sy vermoed verder dat die vrou haar weer uitgeroep het uit die huis uit, toe hulle voertuig nie wou aanskakel nie, om te verhoed dat sy agterkom sy is beroof.

Daar is feitlik geen twyfel dat die diefstalle die werk van dieselfde groep mense is nie. Charl se huishulp het ook die vrou se voertuig as ‘n swart nutsvoertuig beskryf. “Hul nommerplaat het met ‘n L begin en was blou van kleur,” het Annelize gesê. Die mansbestuurder, het Annelize gesê, was redelik goed gebou en het ‘n kaal kop gehad. Al twee vroue was, volgens Annelize, in hul veertigs gewees.

Charl en Annelize het sake van diefstal by die Makhado polisie aangemeld. Hulle het weereens inwoners gewaarsku om geensins vreemdelinge in hul huise toe te laat nie en die waarskuwing ook aan hul huishulpe te kommunikeer.

 
 
 

Viewed: 2393

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT