ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Stopteken wat uitgeruk is en voor mnr. Dirk Meissenheimer se huis gelos is. Die stopteken is afkomstig van 'n nabygeleë kruising en het al vir groot hartseer gesorg. Dit is een van talle stoptekens wat die afgelope tyd in Louis Trichardt deur kwaaddoeners uitgetrek is.

Vandalisme van verkeerstekens bly 'n kopseer

Date: 15 September 2017 By: Isabel Venter

“Ek daag hulle uit ... as hulle die stene het ... om eerder hulle hande uit hulle moue te steek en my te kom vra om vir hulle werk uit te deel.”

Dit was die uitnodiging wat mnr. Dirk Meissenheimer gerig het aan Louis Trichardt se kwaaijongens wat klaarblyklik nie hul hande van die dorp se verkeerstekens kan afhou nie. Behalwe dat daar kruisings is wat sonder waarskuwingslyne is, is daar nou heelwat wat ook nie meer stoptekens het nie.

Die rede hiervoor is dat daar al hoe meer van die stoptekens, veral in die nuwe uitbreiding van die dorp, uitgeruk word en langs die pad neergegooi word.

In Meissenheimer se geval sommer so op die sypaadjie voor sy huis in Acaciastraat. Hy het al by meer as een geleentheid die stopteken gaan terugsit op die hoek van Eland- en Acaciastraat, maar sonder sukses. Hy meen dit is tieners wat rondloop vir kwaadgeld en die verkeerstekens uittrek, omdat niks van die yster gesteel word nie. Die munisipaliteit het ook in die laaste jaar of so baie van die ou ysterpale vervang met houtpale, juis om diefstal van die verkeerstekens te bekamp.

By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê die munisipaliteit het met groot kommer verneem van die situasie. “Ons is deur middel van die blokkomitee in die nuwe uitbreiding in kennis gestel van die situasie,” het Bobodi verlede week gesê. Hy was egter nie bewus van enige ongelukke wat aangemeld as ‘n direkte gevolg aan die gebrek aan die stoptekens nie, selfs nie dat Dirk se skoondogter in Augustus in ‘n botsing betrokke was by die einste Eland- en Acaciastraatkruising omdat die bestuurder in die ander voertuig nie bewus was dat dit ‘n tweerigtingstop was nie. Niemand is gelukkig ernstig beseer in die voorval nie.

“Maar moet daar eers iemand seerkry of doodgaan voordat mense gaan wakker skrik?” het Meissenheimer gevra. Hy het ‘n ernstige pleidooi gerig aan die mense wat die stoptekens uithaal om dit dadelik te stop of hom te bel as hulle iets soek om hulle mee besig te hou. “Dit is nou as hulle die guts het,” het Meissenheimer gesê.

Intussen het Bobodi die pleidooi herhaal en die gemeenskap gevra om stukkende padtekens aan te meld by die munisipaliteit deur die siviele ingenieurskantoor te skakel by tel. 015 519 3109.

 
 
 

Viewed: 359

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Stopteken wat uitgeruk is en voor mnr. Dirk Meissenheimer se huis gelos is.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT