ADVERTISEMENT:

 

 
 

Petrus Davhana - die windhond - het na 43 jaar afgetree uit die diens van die polisie. 

Gesoute polisieman roep diens vaarwel ná 43 jaar

Date: 09 September 2017 By: Isabel Venter

Hy was nie net ‘n spoorsnyer van formaat nie, maar sekerlik ook een van dié fiksste polisiemanne wat die Soutpansberg-streek ooit geken het.

Die 65-jarige Petrus Davhana het na ‘n rekord 43 jaar diens in die honde-eenheid van die Makhado SAPS aan die begin van Augustus afgetree. Sy passasie vir dit wat hy gedoen het, is sommer met die eerste oogopslag duidelik.

Hy sal nog steeds van tyd tot tyd gaan inloer by die K9-eenheid, vertel Petrus, om seker te maak alles loop nog reg daar. Eers wil hy en die vroutjie net ‘n bietjie Durban toe gaan vir ‘n paar dae om daar te ontspan en die water te geniet.

Petrus sit gemaklik agteroor, terwyl hy vertel hoe hy altyd graag ‘n polisieman wou word. Omstandighede het hom egter daarvan weerhou om klaar te maak met skool, wat destyds ‘n vereiste was om by die polisiediens te kon aansluit.

Die naaste wat Petrus aan die polisie kon kom, was om as tuinier in sers. Koekemoer se tuin te werk. Petrus se drif het Koekemoer so beïndruk dat hy besluit het om Petrus te help om werk by die polisie te kry.

So het dit gekom dat Petrus op 8 April in 1974 amptelik as arbeider aangestel is in die polisie en as spoorlêer vir die hondemeester op Louis Trichardt begin werk het. Die eerste twee jaar het hy saam met sers. Koos Koekemoer gewerk, toe ‘n jaar saam met sers. Van Schalkwyk, 17 jaar saam met a/o. Le Roux en toe saam met sers. J. Louw.  

Sy oud-kollegas wat nog in die diens is sal jou ook sommer vinnig vertel van “Petrus die windhond van Louis Trichardt” se K9-eenheid. Hy was, sover dit nagespeur kon word by die polisie, een van die eerste arbeiders in diens van die polisie wat gedurende 1986 en 1987 in die terroriste situasie op die Suid-Afrikaanse grens by Alldays betrokke was. “Dit was net die Groot Hand wat ons beskerm het in daai jare wat ons so hard gewerk het,” vertel Petrus.

Met die terroriste wat in daardie jare pal moeilikheid gemaak het, was daar nie soveel hulpbronne soos vandag nie. Daar was, vertel Petrus, destyds net een honde-eenheid in die Soutpansberg-streek. Die naaste ander eenheid was onder die beheer van a/o. Coenie Scheepers in Tzaneen. Daarom was dit niks vreemd vir Petrus om tot anderkant Hoedspruit te gaan werk en uithelp nie. “Ons area was wyd waar ons moes help,” vertel hy.

Fiksheid was net so belangrik soos speurvernuf.  Petrus, wat in Tsherolwe in Dzanani gewoon het, het in sy vroeë diensjare elke dag 32 km vanaf sy huis werk toe gehardloop en weer terug in die aand.

Dit het hom nie net fiks genoeg gemaak om die boosdoeners se spoor te vat nie, maar ook sommer gehelp om vir Petrus fiks te hou vir die Comrades. Petrus het hierdie jaar sy 15de Comrades gehardloop, wat hy afgelê het in ‘n tyd van 10 ure en 25 min. ‘n Besonderse prestasie as mens in ag neem dat Petrus hierdie jaar sy 65ste verjaarsdag gevier het.

Petrus onthou van een skermutseling waar ‘n plaashuis aangeval is. Met sy en a/o. Le Roux se aankoms op die plaas het hulle oral AK 47 doppies sien rondlê. Hulle het dadelik die spore begin volg en ongeveer 150 m van die huis af op die eerste landmyn afgekom. Nadat hulle dit onskadelik gestel het, het hulle die spore verder gevolg. Intussen het die weermag ook kom hand by sit.

Sonder dat Petrus-hulle dit besef het, is hulle in ‘n hinderlaag gelei. Een van die weermaglede is in die onderonsie dood. Die hulp van ‘n helikopter is ingeroep en die terroriste het teruggeantwoord deur met ‘n RPG7 vuurpyllanseerder daarop te vuur. Gelukkig was dit mis en die helikopterbemanning het teruggeskiet en vier terroriste gedood.

Een van hulle suksesse was later jare toe Petrus saam met sers. Louw begin werk het tydens ‘n plaasaanval in die Mara-omgewing. Vier verdagtes het gevlug met die boer se bakkie. Net voor die spoor gevat is, het hulle eers die goeie spore toegemaak. “Daai dag het ons gewerk,” het Petrus vertel.  

Die verdagtes het naderhand die bakkie gelos en te voet gevlug. Petrus het amper die heeldag die spoor gevat en toe later die verdagtes gekry onder ‘n bos waar hulle probeer wegkruip het. “Ek het vir Louw geroep om te kom en toe skreeu ons vir hulle 'Polisie! Kom uit daar of ons skiet!'”

Die skelms het toe maar oorgegee. Hulle prokureur het later die hof probeer oortuig dat die spore nie aan sy kliënte behoort nie, maar die duidelike spore wat hulle toe so mooi toegemaak het, het die saak beklink. “Nadat ons klaar getuig het, het die prokureur net so gaan sit en gesê hy het geen verdere vrae nie,” lag Petrus dit uit.

So het die jare verbygevlieg en het Petrus gehelp met baie sake, wat gewissel het van veediefstal tot gewapende roof. Van die mense dien vandag nog tronkstraf uit. “Ja-nee,” sê Petrus, “daardie jare het ons hard gewerk.”

 
 
 

Viewed: 608

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Petrus was vir 43 jaar 'n spoorlêer en hondemeesterassistent by die Makhado SAPD se honde-eenheid. Hier is hy afgeneem saam met Limpopo se bevelvoerder van die K9- en Berede-eenheid, kol. Potgieter (links) en die adjunk provinsiale bestuurder, kol. Phakula (regs), tydens een van sy laaste oefeninge met die polisiehonde. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT