ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die historiese ou biblioteek in Graaff-Reinet waar die konferensie plaasgevind het. Dit is gebruik as dorpsbiblioteek en in die tagtigerjare omskep in ‘n museum vir gespesialiseerde versamelings.

Meer belangstelling in geskiedenis van die noorde

Date: 08 September 2017 By: Anton van Zyl

Ten spyte van persepsies dat geskiedenis nie ‘n gewilde onderwerp is nie, is die belangstelling daarin besig om te groei onder alle kultuurgroepe. Dit is onder andere die mening van ‘n bekende plaaslike argivaris en geskiedeniskenner, Pétria de Vaal-Senekal.

Pétria was een van die sprekers tydens die jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis wat vanjaar in die historiese Oos-Kaapse dorp, Graaff-Reinet, plaasgevind het. Die tema van haar praatjie was: “Erfenis aan’t oplewe in die Verre Noorde – bewusmaking en dokumentering”.

Van die projekte wat sy as voorbeeld uitgelig het, was die stigting van ‘n erfeniskomitee in Louis Trichardt onder leiding van die Erfenisstigting in Pretoria. Die sukses van die komitee se skattejagprojek, ook onder jongmense, is bespreek.

Volgens Pétria was die terugvoer op haar aanbieding baie positief. “‘n Verteenwoordiger van die Graaff-Reinetse Erfenis-organisasie, mnr. Peter Whitlock, het die inisiatief, in die besonder die poging om die jeug en veral jonger mense van die omgewing van Erfenis bewus te maak, geprys. Hy het gesê dat in die meer as 40 jaar wat Graaff-Reinet se Erfenis-organisasie bestaan, daar deurentyd probleme was om jonger persone te betrek.”

Pétria het inligting verskaf oor die strategieë wat gevolg word om inwoners bewus te maak van die skatte uit die geskiedenis. Dit sluit in die identifisering en beskrywing van historiese geboue en plekke. Baie moeite word gedoen om inligting soos ou foto’s en dokumente te versamel en dit beskikbaar te maak in ‘n “virtuele argief”.

Die Erfeniskomitee geniet ook die steun van ander sektore van die gemeenskap, soos die plaaslike Sakekamer. Die Sakekamer het byvoorbeeld ‘n projek aangepak om die inheemse boompark en inligtingsentrum skoon te maak waar onder meer boeregrafte is.

Die komitee word baie goed ondersteun deur die plaaslike media om die aktiwiteite te promoveer. Behalwe die plaaslike koerant, word ‘n weeklikse program op die radiostasie, Makhado FM, ook gebruik om publisiteit te verskaf aan historiese projekte.

Die voorsitter van die Vereniging vir Kultuurgeskiedenis, Prof. Matilda Burden, asook verskeie afgevaardigdes, het hulle waardering uitgespreek vir dit wat daar reeds in ’n kort tyd vermag is. Hulle glo dat Louis Trichardt kan dien as voorbeeld vir baie ander dorpe en gemeenskappe.

 

 
 
 

Viewed: 356

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT