ADVERTISEMENT:

 

 
 

Phillip Olivier. Foto verskaf.

Lasbrief uit vir voormalige SBBV-bestuurder

Date: 04 September 2017 By: Isabel Venter

‘n Lasbrief vir die arrestasie van die voormalige bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) is Dinsdag uitgereik.

Phillip Oliver word gesoek nadat hy klaarblyklik versuim het om al die vermiste gelde, wat hy ooreengekom het om terug te betaal aan die SBBV, terug te betaal.

Olivier se paaie het in Februarie vanjaar met dié van die SBBV geskei, toe daar agtergekom is dat geld na bewering onregmatig uit die vereniging se rekening onttrek is. Die SBBV het vingers gewys na Olivier, wat direkte toegang tot die fondse gehad het, en ‘n klag van diefstal teen hom gelê by die Makhado polisie.

Olivier is op 19 Mei, na ‘n vlugtige hofverskyning, vrygelaat op borgtog van R2 000.

Tydens ‘n forensiese ondersoek wat gedoen is, is bevind dat die totale bedrag ter sprake meer as R500 000 beloop. Ingevolge die ouditverslag is daar ‘n tekort opgespoor van R274 068 gedurende die tydperk vanaf 1 Augustus 2016 tot 31 Januarie 2017. Olivier sou glo ook op 28 Mei 2015 en 1 Junie 2015 onderskeidelik betalings in die totaal van R200 000 gemaak het vanuit die SBBV se rekening in sy eie besigheidsrekening. Die betalings het glo gereflekteer as lenings wat die SBBV aan Olivier gemaak het. Daar is ook gevind dat die munisipale rekening van Olivier en familielede uit die SBBV se rekening betaal is. Die bedrag was net meer as R34 400.

Olivier het, terwyl die geskil met die SBBV voortgeduur het, R200 000 in trust betaal by ‘n plaaslike prokureursfirma. Die SBBV het uitgevind dat Olivier van plan was om die geld uit die trustrekening te onttrek, en ‘n dringende hofbevel bekom by die Louis Trichardt Landdroshof om die fondse te vries.

Op 14 Junie het die SBBV en Olivier weer in die hof verskyn, waartydens hulle ‘n skikkingsooreenkoms aan die hof voorgelê het. Hiervolgens het Olivier ingewillig om ‘n bedrag van R505 000 aan die SBBV terug te betaal. Dit het ingesluit die R200 000 wat in die trustrekening gehou is, wat binne sewe dae oorbetaal moes word.

Die oorblywende R305 000 moes binne 30 kalenderdae betaal word. Benewens dié skuld, moes Olivier ook R8 900 terugbetaal vir ‘n selfoonkontrak en R5 000 vir ‘n bonus wat uitbetaal is. Olivier is ook verantwoordelik gehou vir die regskoste van R30 714 en die ouditkoste van R15 714.

Indien Olivier nie by die skikkingsooreenkoms sou hou nie, sou hy dan weer in die hof teregstaan op die kriminele aanklagte teen hom.

Ingevolge ‘n skrywe van die SBBV se regsverteenwoordiger, mnr. André Naudé, aan die Zoutpansberger gerig op 4 Julie, het die SBBV wel die R200 000 terug ontvang wat in die trustrekening gehou is. Die brief het verder gemeld dat al die gelde met regskostes “soos bekend aan die bestuur” teen 16 Augustus 2017 terugbetaal moes wees. Daarna sou die partye weer in die hof moes verskyn om bewyse voor te lê dat die skikkingsooreenkoms nagekom is en die klag van diefstal amptelik teen Olivier teruggetrek kon word.

Olivier het na bewering nie die ooreengekome bedrag aan die SBBV terugbetaal nie.  Hy het glo ‘n klein gedeelte van die oorblywende skuld terugbetaal. Die presiese bedrag kon nie bevestig word deur die koerant nie, omdat die SBBV weier om enige navrae van die koerant te beantwoord.

Weens die feit dat hy nie al die gelde terugbetaal het nie, moes Olivier weer op Vrydag, 25 Augustus, in die hof verskyn. Hy het egter nie by die hof opgedaag nie en sy saak is uitgestel tot 29 Augustus. Dinsdag het hy egter weer nie by die hof opgedaag nie. Olivier se prokureur kon nie verduidelik waarom hy nie by die hof was nie, aangesien Olivier nie verdere instruksies gegee het nie en ook nie sy telefoon antwoord nie. 

 
 
 

Viewed: 698

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT