ADVERTISEMENT:

 

 
 

AfriForum-tak het nie ontbind nie

Date: 03 September 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se plaaslike AfriForum-tak het nie ontbind nie.

Só het mnr. Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, hierdie week aan die Zoutpansberger gesê.

Die bestaande komitee vir 2016/7 het wel aan die begin van Augustus ontbind. Kriel het die huidige stand van sake verduidelik, nadat hy genader is vir kommentaar oor uitlatings wat die voormalige Louis Trichardt takbestuurder, mnr. Wally Schultz, op sosiale media gemaak het.

Schultz het op 21 Augustus ‘n inskrywing gemaak, wat onder andere aan Kriel geadresseer is, waarin hy sekere redes gegee het hoekom hy klaar is met AfriForum. Een van die redes is dat hy teleurgesteld is in AfriForum se leë beloftes.

Schultz beweer in sy skrywe verder dat AfriForum nie behoorlik kon verduidelik waarom die jongste hofbevel wat teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit toegestaan is, nie geïmplementeer kan word nie. Hy het gesê AfriForum het die bal op die grond laat val toe hulle nie dadelik opgetree het toe hulle gesien het dat reg en geregtigheid nie geskied nie. Volgens Schultz het AfriForum die hofsaak eers op die langebaan geskuif om aandag te gee aan ander hofsake wat hulle as ‘n groter prioriteit ag in hierdie stadium.

Verder het dit ook in Schultz se skrywe deurgeskemer dat die AfriForum-tak op Louis Trichardt ontbind het.

Dit is egter nie die geval nie. Volgens Kriel is AfriForum nog volstoom aan die gang met hul aktiwiteite in Louis Trichardt. Die tak moet net eers ‘n nuwe bestuur verkies. “Ons sal nie die water hofsaak laat vaar nie,” het Kriel Woensdag telefonies aan die Zoutpansberger gesê. “Buiten dat ons al reeds honderde duisende rande bestee het aan regskostes, wil ons graag die inwoners se nood verlig en toesien dat hulle water kry,” het Kriel gesê.

Kriel het verduidelik dat die saak sloer weens ‘n appèlproses wat die Vhembe Distriksmunisipaliteit begin het. “Ongelukkig werk die regstelsel nie altyd so vinnig soos wat dit moet nie, en moet ons maar geduldig wees tot al die prosesse afgehandel is,” het Kriel gesê.

Kriel het ook verder gesê dat AfriForum dankbaar is vir die werk wat Schultz gedoen het in die afgelope ses jaar wat hy as takvoorsitter opgetree het. “Ons gaan nie in ‘n moddergooiery op ‘n sosiale platform betrokke raak met hom nie,’ het Kriel gesê oor Schultz se uitlatings op sosiale media.

 
 
 

Viewed: 519

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT