ADVERTISEMENT:

 

 
 

Kleintjie en Riana  Jooste groet die gemeenskap van Louis Trichardt en verhuis op 7 September na Stilbaai in die Wes-Kaap.

“Louis Trichardt was goed vir ons”

Date: 31 August 2017 By: Linda van der Westhuizen

Kleintjie en Riana Jooste groet die gemeenskap van Louis Trichardt en verhuis op 7 September na Stilbaai in die Wes-Kaap.

Hul wortels word diep uitgetrek. Kleintjie het hom 40 jaar gelede op Louis Trichardt kom vestig en Riana (née Knoetze) is hier gebore en getoë. Hulle het die afgelope 20 jaar op die plot Vygeboomsdrift op die Levubupad gewoon. Kleintjie het laasjaar sy Supa Quick bande besigheid in Giyani verkoop. Hy was vroeër jare ‘n kranige voorryspeler en baie betrokke by dorpsrugby. Riana was ontvangsdame by die Zoutpansberger in die dae van die legendariese Johan Koerant en het later ‘n bemarkingspos daar gevul. Die afgelope 11 jaar bedryf sy haar eie besigheid, Payroll Solutions.

“Waarna sal ek verlang? Na die vriendskappe, die diere en die bos,” sê Kleintjie. Met sy ope-hart operasie in 2014 het hulle opnuut besef hoe ondersteunend die gemeenskap van Louis Trichardt en hul gemeente, Agapé Christensentrum, is. Kleintjie het genadiglik heeltemal herstel. “Nou die aand sit ons en braai en ons mak duikertjies kom eet so uit my hand. Ons kyk na die mooi sonsondergang en raak maar bewoë,” sê Kleintjie.

Hulle twyfel egter nie dat daar ‘n dieper rede agter hul verhuising na Stilbaai is nie. “Ons het die heeltyd vir die Here gevra om deure oop te maak en deure toe te maak,” sê die Joostes. Riana vertel van die wonderlike manier waarop deure reeds oop en toe gegaan het vir hul huisvesting daar. “Ons weet die Here het vir ons iets om daar te doen, maar ons weet nog net nie wat nie,” sê Riana. Sy sal volstoom voortgaan met haar besigheid.

Vir Riana was haar bediening in Buysdorp ‘n weeklikse hoogtepunt. Sy het sedert 2008 Woensdae daar Bybelstudie gehou. “Die Bybelstudie sal aangaan. Ek berei voor en e-pos dit vir hulle om te bespreek. Ek sal die Buyse en hul opregtheid baie mis,” sê Riana en glo daar sal vir haar in Stilbaai ook ‘n deur oopgaan. Kleintjie sien uit daarna om weer van vooraf sy liefde vir visvang te beoefen. Hy sê hul gaan eers baie rondry en verken. Maar hy glo “daar gaan iets opduik om te doen.”

“Ons groet hierdie super-gemeenskap. Louis Trichardt was goed vir ons. Ons harte neem swaar afskeid,  maar ons sien uit na die uitdaging en die nuwe hoofstuk in ons lewe,” sê Kleintjie en Riana.

 

 
 
 

Viewed: 2382

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT