ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Elsa en Dawie Sadie. Foto verskaf.

Gemeenskap in rou

Date: 28 August 2017 By: Isabel Venter

Hulle lewens was betekenisvol uitgeleef.

Só het Dawie (62) en Elsa Sadie (60) se oorblywende drie kinders gesê in ‘n huldeblyk Dinsdag (22 Augustus).

Die tromp-op botsing waarin Dawie en Elsa Sadie, saam het hulle dogter, Franzelle van Biljon (33), en kleindogter Marizelle van Biljon (6), Sondag oorlede is, het die hele gemeenskap van Louis Trichardt in rou gedompel. Boodskappe en huldeblyke het van orals ingestroom. 

In kerke en skole is mense ook gevra om te bid vir Franzelle se jongste dogtertjie, Zelmari (4), wat die ongeluk oorleef het. Sy sterk tans aan in die MediClinic in Polokwane, waar sy ‘n operasie ondergaan het om die skade aan haar gebreekte linkerarmpie en -beentjie te herstel.

“Ons dorp is geruk, platgeslaan met ‘n swart kleur, ‘n kleur van hartseer, ‘n kleur van dood. Maar vir ‘n kleine, kleine sonskynkind moet daar ‘n dorp wees wat vir jou die reënboog sal terugbring,” het Elizma Pohl Maandag op haar Facebook-blad geskryf.  

Dawie en Elsa het hulle met hulle gesin 26 jaar gelede (1991) hier in Louis Trichardt kom vestig. Sedertdien het hulle diep spore in die gemeenskap getrap. “’n Mens kon nie gaan inkopies doen saam met my ma nie ... so ver as wat sy geloop het, was daar altyd iemand  wat ‘n geselsie begin het,” het Martin, Elsa se jongste seun, Dinsdag gesê.

Elsa en Dawie was ook meelewende lidmate van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente (Haantjiekerk) waar hulle deel was van die voorsanggroep. “Ai, my hart is so seer. Ons kinders was saam op skool en (het) altyd so lekker by julle kerk saam met hulle gesing. Hoor nou nog sy [Dawie] sterk stem ... en nou is dit stil ... RIV en mag die wat agterbly styf vasgehou en vertroos word deur ons Hemelse Vader,” was Anita Benade se boodskap.

Marizelle se dood los ook ‘n groot leemte in haar Graad 1X-klas by Laerskool Louis Trichardt. “Jou plekkie is leeg, en ons hartjies is seer. Jesus het jou skielik kom haal,” het Riana Muller, Marizelle se juffrou, geskryf in ‘n briefie aan haar.  “Dankie Marizelle dat jy ons van Jesus se liefde gewys het.”

Haar tannie, ds. Magdaleen Sadie van die NG Kerk Pietermaritzburg-Noord, het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat sy en Martin en hul ouer broer Michael hulle vertroos met die wete dat hulle ouers en Franzelle se lewens op ‘n hoogtepunt afgesluit is. Die familie was juis op pad terug vanaf die Klein Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela (Warmbad), waar hulle ouma Elsa se 60ste verjaardag gevier het. Elsa se kinders het besluit om haar die naweek te verras. Selfs Magdaleen en Michael het al die pad vanuit Natal en die Kaap gekom om hulle ma te verras. “My ma het gedink dit was net ons kinders hier van Louis Trichardt wat saam sou kuier, en sy het toe sommer drie verrassings gekry,” het Martin gesê.

Altesaam sewe mense is dood in die botsing tussen ‘n Toyota Corolla en die Volkswagen Jetta waarin die Sadie-familie gery het. Martin het die Sondag vir sy pa gesê om met sy Volkswagen terug te ry, omdat dit net gemakliker sou wees met Franzelle, die kinders en al die ander bagasie in die sleepwaentjie.

Daar is nog steeds nie duidelikheid rondom die presiese oorsaak van die botsing nie. Martin was saam met ‘n vriend op pad na ‘n vergadering wat hy dié week in Johannesburg moes bywoon en het inderhaas omgedraai toe hy van die ongeluk hoor. Hy het gesê, te oordeel aan die remmerke op die pad, dat dit wil voorkom of sy pa verwoed probeer uitswaai het om die botsing te vermy.

Die ongeluk het naby Tobias plaasgevind op die N1 tussen Mokopane (Potgietersrus) en Mookgopong (Naboomspruit). Daar word vermoed dat die bestuurder van die ander voertuig beheer verloor het toe die voertuig ‘n band gebars het. Die Corolla was in die teenoorgestelde rigting op pad en het in aankomende verkeer se baan beland, reg voor Dawie. “Daar was maar min oor van al twee voertuie ... die Corolla het in die middel van die pad gelê en my pa-hulle se kar langs die pad in die bosse,” het Martin gesê.

Die bestuurder en nog twee insittendes van die Corolla is ook dood in die botsing. Hulle is uitgeken as Flora Maluleke (45), Tintswalo Nkombyame Maluleke (39) en Glen Nkombyane (25) wat op pad terug was van ‘n begrafnis in die Xikundu nedersetting net buite Malamulele.

‘n Gedenkdiens vir Dawie, Elsa, Franzelle en Marizelle vind eerskomende Vrydag, 25 Augustus, om 10:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas.


Al Marizelle se maatjies en onderwysers van Laerskool Louis Trichardt het Donderdag, 24 Augustus, afskeid geneem met 'n pesiale diens by die skool se klokkoepel. Hierdie klok, met die woorde Benedicat te Deus (God Seën Jou), word elke jaar geslaan deur elke nuwe Graad 1’tjie wat by die skool begin.

Kyk na die volle video van die diens hier:

 
 
 

Viewed: 4833

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Wyle Franzelle van Biljon (33). Foto verskaf.

Wyle Marizelle van Biljon (6) was 'n Graad 1-leerling van Laerskool Louis Trichardt. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT