ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jack en Linda Oosthuysen woon tydelik by Jack se ma in Louis Trichardt waar hulle aansterk na die wreede aanval wat hulle oorleef het.

Wrede aanval nie die eerste wat egpaar oorleef nie

Date: 27 August 2017 By: Isabel Venter

Verlede week se wrede aanval op Jack Oosthuysen en sy vrou Linda was nie die eerste een wat hulle oorleef het hierdie jaar nie.

Dit het aan die lig gekom, nadat die egpaar hierdie week vertel het van hulle nagmerrie-ervaring. Jack en Linda is verlede Woensdag aangerand deur ‘n bende gewapende rowers in hul huis op een van die Rondebosch-kleinhoewes net buite Louis Trichardt.

Die egpaar woon tans tydelik by Jack se ma in Louis Trichardt, tot tyd en wyl die sekuriteit opgeskerp kan word by hulle huis. Jack self, het hy gesê, is in hierdie stadium ook nog nie reg om terug te keer na die huis nie. “Elke geluid in die aand laat mens regop sit,” het Linda gesê, “maak nie saak wat nie. Vroegoggend lê mens wakker en herleef mens weer die aanval ... dit is soos ‘n nagmerrie wat homself oor en oor herhaal.”

Linda het tot die besef gekom daar is fout toe sy wakker skrik en hoor hoe Jack benoud langs haar skreeu: “Nee, nie weer nie!” Die egpaar is twee maande gelede, op 10 Junie, ook oorval deur rowers wat omstreeks 02:00 by hulle huis ingebreek het.

Dat hulle die mees onlangse aanval oorleef het, skryf Linda toe aan die genade van hul Hemelse Vader.

Jack het wakker geword toe hy hoor iemand peuter aan die kluis in die volgende vertrek. Sy eerste vrees was dat die rowers reeds toegang tot die geweerkluis gekry het. Die volgende oomblik was daar drie rowers in hulle kamer. Twee was gewapen, een met ‘n yster gwala en die ander met ‘n panga.

Dit was toe al die tyd Jack se mini-kluis teen die muur wat die rowers uitgebreek en uiteindelik weggedra het. Die storie met die kluis laat Jack en Linda vermoed dat daar dalk vier rowers was en nie drie soos vroeër berig is nie.

Met die intrapslag het die een rower Jack oor die rug geslaan met die gwala, terwyl die ander na hom gekap het met die panga. Linda is ook geslaan met die gwala. Die egpaar het gesukkel om in woorde die gevoel van magteloosheid te beskryf wat hulle oorval het toe nie een van hulle die ander kon help baklei teen die oormag rowers nie.

Jack het regop gestaan en wild teruggeslaan na die rower om by Linda te probeer uitkom om te keer dat die ander haar nie verniel nie. Hoe meer hy egter baklei het, hoe harder het die rowers hom geslaan. In sy verwoede poging om by Linda uit te kom, het die een met die panga hom ‘n hou op die agterkop toegedien.

In die harwar, het Linda gesê, het sy besef al wat gaan help is om te bid. Met die eerste aanval het sy ook begin bid, nadat een van die twee rowers vir haar gesê het: “I am going to kill you!” “Toe ek laas gebid het, het die rowers ons gelos. Toe sit ek regop, kyk hulle in die oë en begin weer bid,” het Linda gesê.

Die rowers het toe ook omgedraai, die kluis gevat en is uit die huis uit. Hulle het ongeveer R3 000 gebuit en Jack se selfoon gesteel. Dié kontant was in die huis, omdat Jack beplan het om voorraad te gaan koop vir sy besigheid, die Drie Myl Padstal, by die Ledig-verkeersirkel.

Linda het tot by die agterdeur geloop en gesien hoe verdwyn die rowers die bosse in. Dit is eers toe sy omdraai dat sy besef daar is fout, want oral was net bloed. “Jack het toe vir my gesê ek moet die ambulans bel, want hy bloei en sy oog het seergekry,” het Linda gesê.

Volgens die dokters wat Jack gesien het, het die lens in sy regteroog definitief geskuif. Dit is egter nog te vroeg om te bepaal of die iris los is en of die skade permanent sal wees. Daar is baie bloeding agter die oog, en dit sal nog drie maande neem om tot so ‘n mate te herstel dat die dokters ‘n finale diagnose kan maak. Linda se linkerarm is uit sy potjie geslaan, maar is darem stadig besig om te herstel.

Jack en Linda moes hul behandeling in ‘n staatshospitaal ontvang, omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie. Die gemeenskap se ondersteuning, sê die egpaar, was egter oorweldigend. Nie net het hulle boodskappe van ondersteuning van wyd en syd ontvang nie, maar wildvreemde mense het hulle ook finansieel ondersteun. “Ons sal nog later ‘n behoorlike bedankingsbrief skryf om vir almal dankie te sê ... daar is soveel mense wat ons met oop harte gehelp het,” het Jack en Linda gesê.

Intussen het die egpaar die polisie gehelp om ‘n identikit saam te stel van die verdagtes. Hulle is vas oortuig daarvan dat een van die rowers wat by die aanval in Junie betrokke was, ook deel van verlede week se aanval was.  “Ons hoop en bid regtig die polisie vang dié mense vinnig,” het hulle gesê. Teen druktyd is egter nog geen arrestasies gemaak nie.

Die polisie is ook hierdie week gevra om te reageer op kritiek vanaf die publiek dat net ‘n klag van huisroof ondersoek word en nie ‘n klag van poging tot moord nie. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilani is dit staande prosedure om ‘n dossier te open vir huisbraak, sodat daar ‘n ondersoek gedoen word. Later, het sy gesê, wanneer verdagtes aangekeer word, kan verdere klagte gebring word teen elke individu in die hof.

 
 
 

Viewed: 7434

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT