ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Jakkie Geldenhuys (44).

Ongeluk eis nog 'n bekende

Date: 06 August 2017 By: Isabel Venter

Baie sukkel steeds om die skoknuus te verwerk van die skielike dood van die 44-jarige mnr. Jakkie Geldenhuys in ‘n motorongeluk die afgelope naweek.

Jakkie was tot onlangs toe ‘n bekende gesig op Louis Trichardt waar hy by sy suster, Dawn Smit, se onderneming Pest Control Specialists gewerk het. Hy is dood ná ‘n tromp-op botsing in Boksburg op Saterdag, 29 Julie. Die ongeluk het omstreeks 22:00 plaasgevind.

Die omstandighede wat tot Jakkie se dood gelei het, bly egter steeds duister. Die vermoede bestaan dat Jakkie laataand op pad terug was na sy huis in Boksburg toe hy in ‘n tromp-op botsing betrokke was met ‘n aankomende vragmotor. Jakkie is vasgepen agter sy motor se stuurwiel en het ernstige hoofbeserings opgedoen.

‘n Polisieman het Dawn geskakel kort ná die ongeluk, nadat hy een van Jakkie se laaste WhatsApp-boodskappe aan sy suster gelees het: “Dankie vir als. Baie lief vir jou my sus.” Die polisieman kon in daardie stadium nie Jakkie se toestand bevestig nie, net dat hy na die provinsiale hospitaal vervoer is.

Later, toe Dawn met die hospitaal kon praat, het hulle bevestig dat Jakkie oorlede is. Die vermoede is dat Jakkie of opslag dood is in die ongeluk, of gesterf het onderweg na die hospitaal.

‘n Bedroefde Dawn het Dinsdag aan die Zoutpansberger vertel dat hulle familie berusting vind in die wete dat Jakkie se laaste dag ‘n blye een was. Sy was sedert sy die hartseer nuus ontvang het Saterdagaand, nog pal op die foon om uit te vind wat presies gebeur het. “Maar eintlik dink ek, aan die einde van die dag, is dit beter om ook nie te weet nie, want niks gaan my boetie terugbring nie,” het Dawn gesê. Die straat waarin die ongeluk gebeur het, het die metropolisie vir Dawn gesê, was ‘n lang donker straat met geen straatligte nie. Die vragmotor bestuurder het ligte beserings opgedoen, maar teen druktyd moes sy verklaring nog afgeneem word. Die polisie het egter aan Dawn bevestig dat dit moeilik is om, volgens wat hulle op die toneel gevind het, met sekerheid te sê wat presies gebeur het.

Jakkie was vir die afgelope twee jaar werksaam by die Pest Control Specialists-tak in Randburg. Hy het in 2015 daarheen verhuis om nader aan sy dogtertjie Jadine (4) te wees, wat tans in Germiston woon.  

Dawn sê sy het ná Jakkie se dood met sy takbestuurder gepraat, wat bevestig het dat Jakkie Saterdag in ‘n baie goeie bui was weens die feit dat Jakkie se rugbyspan, die Emirates Leeus, boonop Saterdag beide hul Super Rugby en Currie Cup wedstryde gewen het. “Ek ken my boetie ... hy sou in die sewende hemel gewees het ná sy span se wen,” het Dawn gesê.

Dawn het gesê dat dit die laaste tyd baie goed gegaan het met Jakkie. Hy was op ‘n goeie plek, emosioneel. Hy was ook ‘n staatmaker by sy nuwe werk. “Die spanbestuurder het vir my gesê Jakkie was laas week borrelend gewees by die werk, en dat hulle platgeslaan was met die nuus van sy dood. Sy en haar kliënte is, net soos ons hier, in rou,” het Dawn gesê.

Dawn het juis uitgesien na volgende week, wanneer Jakkie in Louis Trichardt sou kom kuier het vir die langnaweek, om ook tyd saam met sy ander dogtertjie, Ariel (9), te spandeer wat tans by Dawn en haar man Gideon bly. “Ek gaan my boetie vreeslik mis, maar ek is bly vir die stukkie van hom wat ek oor het in die vorm van Ariel,” het Dawn gesê.

Dawn en Gideon moes Sondagoggend die hartseer nuus aan Ariel oordra. “Maar sy is ‘n sterk kind. Sy het nog baie vrae, en ons help waar ons kan. Ariel het ook geweier om by die huis te bly en is skool toe dat haar maatjies en juffrou saam met haar kan bid,” het Dawn gesê.

Jakkie is op 18 Augustus 1975 in die Vrystaat gebore. Hy het, agt jaar nadat Dawn Louis Trichardt se tak van Pest Control Specialists geopen het, in 1991 vir haar begin werk. “My boetie was ‘n spontane mense gewees, en het ‘n goeie hart gehad. Baie van ons kliënte het hom goed geken en rou saam met ons,” het Dawn gesê. Sy onthou dat sy gereeld vir Jakkie gevra het wat sy geheim is dat die kliënte van hom hou. “Dan het hy altyd sy skouers so opgetrek en vir my gesê: ‘But I’ve got it!’,” het Dawn vertel. Dit is ook dan die rede hoekom die gemeenskap se ongelooflike ondersteuning vir Dawn ‘n absolute riem onder die hart is. Nie net mense wat vir Jakkie geken het nie, maar ook vir Dawn, se ondersteuning het van orals gekom. “Daar is mense wat sommer by my huis gestop het, of kos en blomme gebring het,” sê Dawn.

Daar sal later ‘n privaat roudiens gehou word vir Jakkie. Sy wense was dat sy as gestrooi word by Hanglip. “Dit was sy gunstelingplek gewees,” het Dawn gesê.

 
 
 

Viewed: 3245

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die wrak van Jakkie se voertuig, nadat hy Saterdagaand in 'n tromp-op botsing met 'n vragmotor betrokke was. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT