ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tannie Johanna Potgieter afgeneem voor die ou klavier in die Wawiele Boekwinkel.

Tannie Johanna blaas lewe in ou klavier

Date: 04 August 2017 By: Isabel Venter

Oud beteken beslis nie koud nie ... Tannie Johanna Potgieter is al 89 jaar oud, maar dié statige tannie is nog heel op en wakker en kan ‘n klavier aan die brand speel.

Tannie Johanna het die afgelope Saterdag haar vernuf gewys op die outydse klavier wat by die Ou Wawiele Boekwinkel in Louis Trichardt staan. Besoekers aan die tweedehandse boekwinkel is reeds goed vertroud wees met die mooi ou klavier tussen die rakke.

Tannie Johanna bly deesdae in Pretoria in ‘n aftree-oord, waar sy daar elke middagete die inwoners se spysvertering aanhelp met strelende musiek op die klavier.

Haar groot passie, vertel tannie Johanna, was altyd naaldwerk. In die jare wat sy en haar wyle man, oom Hermanus (Manie) Potgieter, in Louis Trichardt gewoon het, was sy ook lief vir klere maak. Sy het nie net haar eie klere gemaak nie, maar al haar kinders s'n ook.

Klavierspeel was egter altyd vir haar, van kleintyd af,  net ‘n droom gewees. Later jare, met die kinders almal uit die huis uit, het tannie Johanna besluit dit is nou haar kans om werk te maak van haar droom. Dit was toe sy haar 45ste verjaarsdag gevier het.

Vir die volgende twee jaar het tannie Johanna klavierlesse geneem en so die klavier bemeester. Vandag kan sy enige stuk musiek speel wat mens voor haar neersit sonder om ‘n noot te mis. Haar hande is nog merkwaardig vlytig en nie krom van die ouderdom soos dié van haar mede-inwoners by die aftreeoord nie. Tannie Johanna reken dit is al die jare se naaldwerk wat haar hande soepel gemaak het.

Haar gunsteling is die goue ou stukke soos Liefste Madelein, Danny Boy, O’Sole Mio en Aanlied van die Voëls. Dit is ook van die stukke wat sy Saterdag by die boekwinkel op die klavier gespeel het. “Hy is so 'n bietjie vals, en hier en daar is ‘n noot wat nie meer so lekker werk nie, maar hy kan nog gespeel word,” het tannie Johanna van die klavier gesê.

Tannie Johanna se besoek aan die boekwinkel was ook sommer die ideale geleentheid om weer bietjie te kuier saam met haar kennise van ouds. Diegene wat graag weer met haar in kontak wil kom, is welkom om haar te skakel by tel. 072 416 7989.

 
 
 

Viewed: 743

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT