ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Vroeë foto van João Albasini, een van die Soutpansberg se pioniersfigure. Foto verskaf.

Albasini is komitee se tweede erfenisskat

Date: 21 July 2017 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se Erfeniskomitee het die afgelope week leidrade gegee ten opsigte van hul tweede erfenisskat as deel van hulle skattejagkompetisie.

Die tweede erfenisskat is geleë reg langs die N1 snelweg (rigting noord), sowat 300m vanaf die toerisme inligtingsentrum op linkerkant in die Boompark. Dis ‘n eenvoudige dog sigbare rotsformasie waarop ‘n gedenkplaat aangebring is met GPS-koördinate 23˚2’28.17” S   29˚55’1.97”O

“Dit is die Albasini-gedenkplaat wat ons herinner aan die onverskrokke en gerespekteerde João Albasini. As grootwildjagter, handelaar en later vise-konsul van Portugal in die Zuid-Afrikaanse Republiek, het hierdie man diep spore getrap in die geskiedenis van die dorp Louis Trichardt,” sê die Erfeniskomitee.

João Albasini, ‘n seun van Italiaanse ouers, is in 1813 in Lissabon, Portugal, gebore en kom in 1831 na Lourenço Marques (Delagoabaai/Maputo) as 18-jarige. Hy dryf handel vir meer as ‘n dekade voordat die eerste Europese blankes in die Laeveld arriveer. Later vestig hy hom in die huidige Krugerwildtuin en tree as skakel tussen die Boere en Portugese op. Handelsroetes en ‘n infrastruktuur word deur hom ontwikkel vanaf Delagoabaai (Lourenço Marques) tot diep in die binneland van Mosambiek.

“In 1853 vestig hy hom in die Soutpansberg. Hy was nie slegs die vise-konsul nie, maar het ook die taak gehad om belastings van die swart stamme van die omgewing in te vorder,” skryf die Erfeniskomitee.

Albasini trou met Gertina van Rensburg, ‘n Trekkerdogter, en woon op die plaas Goedewensch naby die huidige Albasinidam. “Hy was ‘n goeie vriend van die Tsongas en neem 500 mans in diens, waarna hy hulle oplei as olifantjagters. Hierdie passievolle jagter hou ook goeie betrekkinge met die inwoners van Schoemansdal Voortrekkerdorp, waar meer as 1000 siele was. Die dorp het tussen 1848 en 1867 bestaan,” sê die Erfeniskomitee.

Albasini het soos ‘n middeleeuse leenheer in ‘n skans op sy plaas gewoon. Hy kon binne ‘n ommesientjie nagenoeg 2000 krygers bymekaarkry. “Wanneer die inwoners van Schoemandal gedreig word deur die Venda-opperhoof Katse-Katse (ook genoem Katlagter), word hul deur Generaal Paul Kruger versoek om die skans en dorp te verlaat. Slegs die Albasini’s en ongeveer 20 ander blankes het in die Soutpansberg-distrik agtergebly. Vanaf die 1870’s het daar weer meer Trekkers in losstaande groepies in die gebied begin woon,” sê die Erfeniskomitee.

João Albasini sterf in 1888 op sy plaas en is daar begrawe. Sy nagedagtenis word geliefd erken deur die inwoners van Louis Trichardt. Die Albasinidam, waar ons dorp se water vandaan kom, word na hom vernoem, asook João Albasinistraat, nou Hlangananistraat.

‘n Historiese roman getiteld João ‘dapperste onder die dapperstes’ geskryf deur Linette de Vaal van der Merwe en wat by Katvoet Kunskafee te koop is, vertel staaltjies en besondere detail omtrent die lewe van hierdie merkwaardige man.

Veilige parkering is beskikbaar by die toerisme inligtingsentrum langs die N1, waarvandaan skattejagters ‘n kort ent tot by die gedenkplaat kan stap. “Neem u 'selfies' by die gedenkplaat en laai dit op die Erfeniskomitee se Facebook-blad: ERFENIS BEWARING- EN BEWUSMAKINGSKOMITEE: LOUIS TRICHARDT EN STREEK om in aanmerking te kom vir afslagbewyse van Roman’s Pizza,” nooi die Erfeniskomitee.

 
 
 

Viewed: 295

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die gedenkplaat van João Albasini te sien in Louis Trichardt se boompark. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT