ADVERTISEMENT:

 

 
 

Duke, die vierjarige Kalahari leeumannetjie, is een van drie leeus wat in Louis Trichardt 'n nuwe tuiste gevind het.

Drie leeus vind tuiste in egpaar se

Date: 17 June 2017 By: Isabel Venter

Dit is darem nie aldag dat ‘n mens leeus op jou eie voorstoep het nie of, soos in die geval van die CVO Skool Zoutpansberg net buite Louis Trichardt, leeus in jou agterplaas.

Alhoewel die drie pragleeus ‘n klipgooi weg is van die skool af, is dit nie die skool se leeus nie. Die drie, ‘n Kalahari mannetjie en twee wyfies, behoort aan Bennie en Marilee van der Merwe en is van toptelers in die Vrystaat gekoop. Die egpaar beoog om mettertyd ‘n suksesvolle teelprogram te bestuur.

Wild en eksotiese wild is vir beide Bennie en Marilee ‘n passie in die lewe en is baie dankbaar vir die nuwe byvoeging van leeus. Dit was egter ‘n lang pad wat die egpaar moes stap om al die papierwerk in order te kry om die permitte te bekom, amper twee jaar om presies te wees. Die projek is goedgekeur as ‘n teelprojek alleenlik, nie vir besigtiging deur die publiek of toeriste nie.

Buiten vir al die streng veiligheidsmaatreëls waaraan die leeukampe moes voldoen, moes daar ook aan die fisiese veiligheid van die leeus gedink word. Laasgenoemde het ‘n groot rol gespeel in die egpaar se besluit om die leeus na hul grond by Rondebosch te bring.

Die Van der Merwes se leeukampe is nie net permanent onder hulle wakende oë nie, maar is ook toegerus met eersteklas tegnologie, gekombineer met selfoontegnologie, wat die kamp nie net elektrifiseer nie, maar verskeie alarms aktiveer wanneer iemand wil ingaan of ‘n leeu wil uitkom. Hierdie streng veiligheidsbeheer is noodsaaklik, aangesien stropers die laaste paar maande hulle al meer toespits op die jag van leeus. Die leeus word wreed doodgemaak, waarna hulle pote, stert en kop gewoonlik afgekap word vir verkoop op die muti-mark.

Die mannetjie, Duke, en die twee wyfies, Lea en Nooi, het verlede week tydens die koerant se besoek in die wintersonnetjie gelê en bak … dik gevreet. Buiten die lekkernye waarmee hulle gevoer word uit Bennie se slagpale (meestal beesvleis), word hulle dieet ook aangevul met pluimvee en wild. Marilee verduidelik dat, aangesien daar met die leeus geteel gaan word, hulle dieet goed gemonitor word. Die leeus kan nie sommer net enige vleis eet nie, want daar moet gewaak word teen oordraagbare siektes. Daarom word Duke-hulle se kos intensief ondersoek sou dit nie van ‘n betroubare verskaffer af kom nie. Die leeus se dieet word gebalanseer met ‘n verskeidenheid pluimvee (met vere), wild (met velle aan) asook afvalvleis en bene.

Marilee se passie vir diere, meer spesifiek vir katvoetige roofdiere, kom al van kleintyd vanaf die Vrystaat saam. Die donkerkop vrou leef daarvoor om in die buitelug te wees en was van kleins af meer buite as binne gewees. Haar liefde en passie vir diere het sy by haar ma geërf, met die kontrei se mense wat gereeld beseerde of weesdiertjies aangedra om gesond te dokter of groot te maak.

“Buiten dat dit vir ons ‘n eer en voorreg is om leeus te mag hê, is dit wel ook ‘n besigheid,” het Bennie gesê.

 
 
 

Viewed: 2069

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Haar liefde vir diere, en spesifiek leeus, het Marilee van haar ma geërf in die Vrystaat waar sy groot geword het. Foto verskaf.

As dit by diere kom - maak nie saak of hulle wild, mak of lang tande het nie - Marilee sal hulle groot- en gesondmaak. Sy speel gereeld pleegma vir optel- en weesdiere wat mense na haar toe bring. Foto verskaf.

Duke, die vierjarige Kalahari leeumannetjie, is een van drie leeus wat in Louis Trichardt 'n nuwe tuiste gevind het.

Wê! Myne, en ek gaan nie deel nie. Duke, die vierjarige Kalahari leeumannetjie, is een van drie leeus wat in Louis Trichardt 'n nuwe tuiste gevind het.

Een van Duke se twee leeuwyfies wat deur die Van der Merwe-egpaar vir die teelprojek aangeskaf is.

Duke, die vierjarige leeumannetjie wat nou permanent in die Soutpansberg gaan bly. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT