ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Daan Viljoen (75) afgeneem waar hy tans aan huis van sy dogter, me. Janine Storm (regs), in Louis Trichardt aansterk. Die vel van beide sy arms is met ‘n strykyster tydens die aanval op hom afgebrand. Sy rug het ook seergekry soos die vier aanvallers hom aan sy voete in die huis rondgesleep het.

Bejaarde wewenaar word gemartel vir kluissleutel

Date: 15 May 2017 By: Andries van Zyl

“Die Oubaas het besluit dit is nie my tyd en ek het nog werk om te doen.” Kalm woorde van oom Daan Viljoen (75) wat Maandag die nagmerrie gebeure van die naweek herleef het waar hy wreed deur rowers in sy huis op die Southdown plotte buite Louis Trichardt aangeval is.

Die aanval het Saterdag, 6 Mei, omstreeks 10:30 plaasgevind. Daar was vier rowers, een gewapen met ‘n 9mm-pistool en een met ‘n skêr.

“Ek het nog geslaap. Toe ek wakker begin word, voel ek hier is iemand hier op my op die bed. Ek het eers gedink dit is my kleinkinders, maar toe besef ek my voete is vasgebind,” het oom Daan, 'n wewenaar, aan die Zoutpansberger gesê. Hulle het sy voete vasgebind met ‘n stuk nylon tou wat agter op sy bakkie gelê het.

Oom Daan het gesê dit was vir hom ‘n wrede ontnugtering om die vier jong mans, almal rondom 21 of 22 jaar oud, op hom te sien. “Ek was die duiwel in en vra vir hulle wat maak hulle!? Toe gooi ek hulle al vier af,” het oom Daan gesê.

Die mans het egter weer op hom gespring. “Met jou voete klaar vas, is jy half gebokker. Die eerste stuk draad wat hulle om my arms gedraai het, het ek afgebreek. Toe vat hulle van hierdie copper weld draad en bind my hande daarmee vas. Daardie ding kan jy omtrent nie buig nie, want hy het ‘n stuk staaldraad binne. Dié kon ek nie breek nie,” het oom Daan gesê.

Die vier aanvallers het oom Daan vanaf sy bed aan sy voete na die sitkamer gesleep. In die sitkamer het hulle oom Daan erg aangerand. Hulle het hom in sy gesig geskop waar hy gelê het. “Toe gaan haal hulle die strykyster en brand my met die strykyster. Nou, dit is bietjie warm! Hulle het die kluis se sleutels gesoek, want my seun se gewere was in die kluis,” het oom Daan gesê.

Weens die marteling het oom Daan die vier aanvallers gewys waar die sleutel in sy kamer lê. Hierop het hulle hom weer kamer toe gesleep. “Toe sleep hulle my weer terug tot waar die kluis is. Hulle het die kluis oopgesluit en die pomp-aksie haelgeweer en .270-jaggeweer met ‘n teleskoop op gevat,” het oom Daan gesê. Hulle het ook onder meer ‘n groot hoeveelheid ammunisie, twee selfone, kontant, ‘n kamera asook ‘n windbuks wat in die huis gestaan het, gevat.

“Die een met die skêr het aanmekaar vir my gesê: 'I’ll kill you! I’ll kill you!' Dan het hy so met die skêr teen my bors gedruk,” het oom Daan gesê.

Dit was ook in die sitkamer waar die een rower met die 9mm-pistool die wapen in oom Daan se gesig gedruk en drie keer die sneller getrek het. Die pistool het egter telkens geweier om te vuur. “Ek het gehoor hoe die pistool gekliek, kliek, kliek het … Ek het egter vir hom gesê: 'Skiet man! Ek is nie bang vir die dood nie!'”

Oom Daan was egter nie alleen in die huis tydens die aanval nie. Mnr. Paul de Beer bly al sowat twee jaar by oom Daan. Hy het ‘n kamer op die tweede vloer van die huis. De Beer het die oggend van die hengelwater af teruggekeer en omstreeks 08:00 besluit om bietjie te gaan slaap. Hy het wakker geword van die gestoei op die grondvloer van die huis en het stil-stil die plaaswag se hulp ontbied.

“Dit is erg as iemand so op jou afstorm en jou vol in die gesig skop. Ek het in ‘n stadium gemaak of ek bewusteloos was. Toe hulle my met die yster brand, toe kon ek nie meer voorgee nie. Daai strykyster se brand is warm,” het oom Daan gesê. “Hulle het my horlosie gevat en probeer om my ringe [insluitend sy trouring] af te haal. Ek het net my hande toegemaak in ‘n vuis. Hulle kon dit nie afkry nie,” het oom Daan gesê.

Die hele aanval het sowat ‘n halfuur geduur. “Hulle het my op my bed gegooi, waarskynlik vir dood. Daarna het hulle ‘n kombers oor my gegooi en toe is hulle daar uit,” het oom Daan gesê.

Feitlik onmiddellik nadat hulle uit sy kamer is, het oom Daan begin om homself los te wikkel. “Ek het die komberse afgegooi en die drade losgekry om my arms. Toe ek dit los het, is daar ‘n skêr wat op die spieëltafel lê wat ek die tou mee afgesny het. Toe spring ek op en ek hardloop agter hulle aan, want toe is ek darem lekker die donner in. Maar ek kon hulle nie kry nie. Ek was nog kaalvoet ook en die voete is maar sag. Ek het so ‘n 100m agter hulle aangehardloop om te kyk of ek hulle kan sien. Toe kom ek terug,” het oom Daan gesê.

So vyf minute nadat die verdagtes gevlug het, het die plaaswag gearriveer. “Gee die plaaswag die eer, hulle was vinnig daar gewees. Kort daarna het die polisie opgedaag,” het oom Daan gesê.

Die aanvallers se spoor kon gevolg word tot by die buurman sy heining. Volgens oom Daan het die mannetjies gebroke Engels gepraat. “Hulle was definitief nie Zimbabwiërs nie. Dit was plaaslike outjies gewees,” het oom Daan gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het by navraag gesê die polisie ondersoek die saak. Teen druktyd was daar egter nog geen arrestasies nie.

Oor die algemeen sê oom Daan hy voel goed. “Dit is net my vel wat verniel is en my rug is seer soos hulle my rond gesleep het. Ek is nie iemand wat hou van paniek saai nie. Ek kom uit ‘n ander skool uit,” het oom Daan gesê. Hy bly egter tans by sy dogter, me. Janine Storm, in die dorp, totdat hy blyplek in die dorp kan kry. Oom Daan is egter hartseer dat hy die plaaslewe moet groet. “Dit was vir my rustig. Hier het mens geen lawaai gehoor nie. Ek het dit geniet,” het oom Daan gesê.

Dogter Janine is egter minder kalm oor die aanval op haar pa as oom Daan. Sy is dankbaar hy lewe en is nie vermoor nie. “Almal sê altyd jou tyd is jou tyd, maar waarom moet jy ‘n barbaarse dood hê? Hoekom kan mens nie ‘n menslike dood hê as dit jou tyd is nie? Geen mens gaan soek daarvoor nie. Mens wil nie hê jou geliefdes moet so iets oorkom of so omkom nie. Vir die res van my lewe sal ek nie hiermee kan vrede maak nie,” het Janine gesê.

Radzilane het ‘n beroep gedoen op inwoners wat behulpsaam kan wees in hul ondersoek om na vore te kom en vir lt.-kol. Tshililo Ndou te skakel by tel. 082 565 7871.

 
 
 

Viewed: 461

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT