ADVERTISEMENT:

 

 
 

Malaria-gevaar

Date: 15 May 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt het beslis meer aangemelde malaria-gevalle as vorige jare.

Dit is die mening van die Du Buisson, Bruinette & Kramer patoloë se laboratorium in die dorp. In die tydperk vanaf 26 Maart tot en met Dinsdag (9/4) het 21 mense reeds positief getoets vir malaria. Meeste van die gevalle was inwoners wat malaria-gebiede besoek het soos die Kruger Nasionale Park (KNP). Kommerwekkend is egter die feit dat mense van Louis Trichardt wat nooit ‘n malaria-gebied besoek het nie, steeds positief getoets het vir die parasiet.

Limpopo se LUR vir Gesondheid, dr. Phophi Ramathuba, het verlede week die streek besoek en haar kommer uitgespreek oor die toename van malaria. Sy het tydens haar besoek aan die Donald Fraser Hospitaal gesê dat die provinsie sedert 2016 die meeste malariagevalle nog in die laaste 20 jaar aangemeld het. Volgens Ramathuba het die provinsiale Departement van Gesondheid (DvG) vanjaar al 620 pasiënte vir malaria behandel in Limpopo se staatshospitale.

In Louis Trichardt kon die Zoutpansberger met twee persone gesels wat oor die afgelope naweek gediagnoseer is met malaria. Adele Jäckel en Lodene Purdon het amper op die dieselfde tyd siek geword. Hulle was sowat twee weke gelede in die KNP tydens ‘n wegbreek naweek van die plaaslike Rotariërs.

Adele het eers gedink dit is verkoue, maar het haar vinnig laat toets toe die hoofpyne nie wou weggaan nie. “Dit is nie ‘n gewone hoofpyn nie … dit voel of jou linker- en regterbrein van mekaar af losskeur,” het sy Dinsdag gesê vanuit haar huis, waar sy tans aansterk. Saam met die hoofpyne het sy ook kouekoors en lyfseer gekry.

Lodene se simptome was dieselfde. Sy is opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal, omdat haar infeksietelling amper ‘n telling van vier gemeet het. Lodene se telling het darem teen Dinsdag afgekom na een toe.

Maar waar kom die skielike toename in malariagevalle vandaan?

Volgens Ramathuba kan die toename toegeskryf word aan die swaar reënval en vloede in die streek die laaste paar maande. Tradisioneel kom malaria die algemeenste voor tussen Oktober en April. Die stiller maande strek gewoonlik vanaf Maart tot Oktober.

Buiten vir die ongewone reënvalsyfers het Ramathuba ook gesê dat daar van die inwoners in die landelike gebiede is wat geweier het dat die DvG hul huise met gif spuit. Dit is waarskynlik die rede hoekom daar dalk meer van die sogenaamde “taxi-malaria” gevalle is, waar mense siek word van muskiete wat in iemand se tas of voertuig deurglip na nie-malaria gebiede.

Die plaaslike kantoor van die DvG het ook gesê dat die spuit-programme nie oneffektief is soos wat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes dit wou uitmaak nie, maar dat dit eerder minder toereikend was as vorige jare. Die kantoor het ook gesê dat, buiten hiervoor, daar nog steeds dié inwoners is wat nie maatreëls tref om te verhoed dat muskiete in hulle omgewing uitbroei nie.  Muskiete kort slegs ‘n halwe koppie water om in uit te broei, en plasse water en oop septiese tenks is enkele voorbeelde van ideale uitbroeiplekke.

Die departement se grootste bekommernis is egter dat mense nog steeds die simptome van malaria verwar met griep en nie gou genoeg mediese behandeling ontvang nie. Hulle het inwoners gemaan om by hul plaaslike dokter of hospitaal aan te meld en te vra om vir malaria getoets te word as hulle griepsimptome ervaar.

Die provinsiale DvG het alreeds verlede week ingespring om te verseker dat staatshospitale – veral die Siloam, Donald Fraser, Malamulele en Nkhensani hospitale – se medisynevoorrade aangevul word. Die departement is ook in die proses om mobiele stasies te organiseer om die meer afgeleë areas te besoek en medisyne daar uit te deel.

 
 
 

Viewed: 388

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT