ADVERTISEMENT:

 

 
 

OTM swendelaars weer aktief in Louis Trichardt

Date: 14 May 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se inwoners word opnuut gewaarsku om lig te loop vir OTM swendelaars. Dié boewe is veral aktief by van die dorp se meer afgeleë kitsbanke.

In een van die jongste voorvalle het me. René Pieterse R700 verloor uit haar rekening toe haar bankkaart gekloon is by die Standard Bank OTM in die Game-kompleks in Songozwistraat. Sy vertel dat haar ma vir haar op Dinsdag, 25 April, by die OTM (langs Sheet Street) wou gaan kontant trek. Haar ma het egter nog nie eens so ver gekom as om die PIN in te sleutel nie, toe daar probleme kom.

Eers het die OTM die kaart gesluk en die volgende oomblik het René ‘n kennisgewing van die bank gekry dat daar geld onttrek is uit haar rekening by ‘n Absa OTM. Presies hoe dit gebeur het, is nog steeds vir René ‘n raaisel. Sy vertel dat haar ma die heeltyd by die OTM gewag het terwyl die saak by die bank aangemeld is. Hulle weet nie hoe dit gebeur het dat die swendelaars René se inligting of die kaart in die hande gekry het nie.

Dit was toe René die saak by die polisie gaan aanmeld het, dat sy uitgevind het dat nog sewe ander mense ook by dieselfde OTM aan die kortste ent getrek het. Die polisie het toe sommer ook vir René gewaarsku om liewers in die toekoms nie van die Standard Bank OTM’s langs Midas (ook in Songozwistraat) gebruik te maak nie. Hierdie OTM’s, asook die Nedbank OTM aan die oorkant van die straat, is glo ‘n gereelde uithangplek vir swendelaars.

In René se geval word die polisie se ondersoek gekortwiek omdat die betrokke OTM nie ‘n sekuriteitskamera in het nie. Die Zoutpansberger het die besighede in die kompleks gekontak om uit te vind of hulle dalk kan help, maar nie een van hulle het ‘n videokamera wat op die OTM gerig is nie.

Die bestuurder van Sheet Street het egter uitgevaar en die hoop uitgespreek dat die OTM gesluit sal word as die polisie nie iemand kan vang nie. Sy het gesê dat daar ten minste een maal per week iemand by hulle kom kla oor die OTM. Die klaers is onder die indruk dat die beheerkamer binne Sheet Street geleë is.  

Die polisie het inwoners gewaarsku om op hul hoede te wees en eerder nie OTM’s in afgeleë dele van die dorp se gebruik nie. Tot dusver blyk dit dat kaartkloners tot die uiterste sal gaan om hul slagoffers se geld te steel. In sommige gevalle installeer die diewe 'n klein kamera by die OTM wat mense se geheime nommers lees wanneer hulle die OTM gebruik.

'n Nagemaakte sleutelbord, wat inligting stoor, word soms ook bo-oor die oorspronklike sleutelbord by die OTM geplak. Die inligting word dan later deur die diewe afgelaai. Verbruikers moet dus let op enige iets wat verdag lyk, soos 'n los sleutelbord of los toestelle oor die kaartgleuf en apparate wat uit plek lyk by 'n OTM. Daar was ook al talle gevalle waar korrupte werknemers kaarte gekloon het, nadat niksvermoedende kliënte dit vir betaling aan die werknemers gegee het.

Die Ombudsman vir Bankdienste verskaf ook ’n paar nuttige wenke om kaartkloning te voorkom.

Hulle raad aan verbruikers is om kredietkaarte te beskou as kontant en dat dit ten alle tye onder oë gehou moet word. Stap eerder saam met 'n kelner by 'n restaurant om te betaal. Teken ook altyd jou bankkaarte op die agterkant as jy dit ontvang en gaan gereeld bankstate na, aangesien ‘n dispuut net vir ‘n bepaalde tyd aangemeld kan word. By OTM's moet die PIN-nommer slegs ingesleutel word wanneer die kitsbankskerm daarvoor vra en persone moet verkieslik gebruik maak van kitsbanke in veilige en goedbeligte areas.

 
 
 

Viewed: 362

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT