ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nuwe malaria-entstof word getoets

Date: 11 May 2017 By: Isabel Venter

‘n Aankondiging deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kan moontlik lei tot die uitwissing van malaria teen 2040.

Tans is die WGO besig om vordering te maak met verskeie potensiële entstowwe teen malaria. Die organisasie is baie opgewonde om eersdaags die entstowwe te kan toets op mense wat in malariagebiede woon..

Volgens die WGO se Afrika-streekkantoor is Ghana, Kenia en Malawi geïdentifiseer om deel te wees van die projek se veldstudie. Die entstof is inspuitbaar en ontwikkel om jong kinders te beskerm teen Plasmodium falciparum- een van die dodelikste vorms van malaria.

RTS,S is ontwikkel deur die GSK en is die eerste malaria-entstof wat 'n derde kliniese proeffase voltooi het en goedkeuring van die Europese Medisyne-agentskap (EMA) gekry het. Die WGO het die besluit geneem om van RTS,S gebruik te maak, juis om hierdie rede.

Afhangende van hul gidsstudie hoop die WGO om van RTS,S gebruik te maak in die toekoms as ‘n ekstra bykomende hulpmiddel om malaria te voorkom. Tydens die kliniese toetse van die entstof het die voorkoms van malaria met die helfte onder babas en jong kinders afgeneem.

Al sal die entstof op sy eie nie ten volle beskerming bied nie, sê die WGO, is dit steeds een van die eerste en belangrikste stappe in jare om malaria te beheer en moontlik uit te wis.

Die entstof werk soos ander entstowwe deurdat hulle die liggaam se eie immuniteitstelsel aanskakel om te “baklei” wanneer die malariaparasiet Plasmodium falciparum die eerste keer in die bloedstroom kom en/of oorleef, volwassenheid bereik en vermeerder, want dit is wanneer die parasiet weer in die bloedstroom kom, die rooibloedselle besmet en siekte veroorsaak.

Ná afhandeling van die proeflopies in Ghana, Kenia en Malawi sal die WGO aansoek doen om die entstof beskikbaar te stel in lande waar malaria endemies voorkom. Dit sal sodoende deel word van die lande se amptelike entstofprogram. Suid-Afrika is nie op die lys van die lande nie, omdat malaria nie endemies hier voorkom nie.

 
 
 

Viewed: 457

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT