ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Gewapende rowers slaan weer toe

Date: 17 March 2017 By: Isabel Venter

Die ink op die onlangse plaaslike misdaadstatistiek was nog nie behoorlik droog nie, toe nog ‘n gewapende roof in Louis Trichardt aangemeld is.

Hierdie keer het nege gewapende rowers Saterdag toegeslaan by die Check U winkel in Songozwistraat. Die eienaar is erg aangerand en nog ‘n voetganger is deur een van die rowers se koeëls getref.

Woordvoerder van die Makhado polisie konst. Irene Radzilane het Maandag bevestig dat nog geen arrestasies gemaak is nie.

Volgens Radzilane het die rowers, waarvan drie gewapen was met gewere en die ander ses met pistole, ongeveer 12:30 toegeslaan op die winkel.

Langsaan, by die Phones4U-winkel, het eienaar Riaaz Ismail een van die rowers opgemerk wat buite Check-U gestaan het met ‘n pistool. Hy het opgespring en dadelik sy winkel toegesluit en gewag tot als verby is. Dit was volgens hom nie lank voordat die rowers uit Check-U gekom het, in ‘n voertuig gespring en weggejaag het nie. Die rowers het so in die ry ‘n paar skote afgevuur, totdat hulle by die kruising was by die Game-kompleks op die hoek van President- en Songozwistraat. Dit was tydens hierdie afvuur van skote dat die voetganger getref is.

Volgens die polisie het die rowers die eienaar van Check-U aangerand deur hom oor sy kop en in die gesig te slaan met stokke. Radzilane sê die rowers het daarin geslaag om met ‘n onbekende bedrag geld weg te kom wat hulle uit agt van die winkel se kasregisters gesteel het.

Teen Woensdag het die polisie nog naarstigtelik probeer om die beeldmateriaal van Check-U se sekuriteitskameras in die hande te kry, sodat die foto’s van die verdagtes gepubliseer kan word. Sake van gewapende roof, aanranding en besigheidsroof is geopen vir verdere ondersoek.

 

 
 
 

Viewed: 2320

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT