ADVERTISEMENT:

 

 
 

Deon van Deventer kort na sy arrestasie. Foto verskaf.

Van Deventer sê hy gaan onskuldig pleit op klagte

Date: 20 February 2017 By: Isabel Venter

Gideon “Deon” van Deventer (48) word verbind met 17 renosters wat hy tussen 2005 en 2006 na bewering doodgemaak het vir hul horings.

Hierdié inligting het na vore gekom tydens die borgaansoek wat hy Maandag gebring het in die Louis Trichardt Distrikshof. Hy het saam met sy medebeskuldigdes, sy broer Niklaas van Deventer (51) en Onward Muchagowa (41), verskyn.  

Deon het ook aangedui dat hy van voorneme is om onskuldig te pleit op die aanklagte teen hom. Hy staar 'n aanklag van die onwettige besit van ‘n renosterhoring, asook aanklagtes wat verband hou met onwettige aktiwiteite en die jag van ‘n beskermde spesie in die gesig saam met sy broer en Muchagowa.

Die twee broers en Muchagowa is op 6 Januarie gearresteer nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tyde van ‘n polisie jaagtog op die Vivo-pad by hulle bakkie se venster sou uitgegooi het.

Deon het dié weergawe ontken tydens sy borgaansoek. Hy was op dié dag die bestuurder van die bakkie. Saam met hom was Niklaas en Onward agterop die bakkie toe hulle op die Vivo-pad afgetrek en gearresteer is. Deon beweer die polisie het hulle aangerand, sodat hulle moes erken die renosterhoring is in hulle besit gevind. “Ek is onskuldig. Die polisie het nie ‘n renosterhoring in my besit gevind nie en ook nie in my bakkie nie,” het Deon getuig.

Deon het ook ontken dat die renosterhoring afkomstig is van die Witpoortjie wildsplaas naby Lephalale waar ‘n renosterkoei en haar kalf doodgemaak is vir hul horings. Deon het verder gesê dat hy weet wie die verdagtes is in dié saak, want ‘n ene Reuben het hom vertel.

Reuben, het Deon gesê, het met renosterhorings opgedaag by die plaas waar hy en Niklaas as huurders gewoon het. “Hy [Reuben] wou die horings weeg en verkoop,” het Deon gesê. Ten spyte daarvan dat hy geweet het dat Reuben onwettig in besit was van die horings, het Deon steeds vir hom ‘n skaal en mes geleen sodat hy die horings kon weeg en skoonmaak. Hy het geen betaling of gunste ontvang vir sy dienste aan Reuben nie, want, het Deon gesê, “ons het dit gedoen om inligting by mekaar te maak vir die polisie.” Dit was alles deel van sy pligte as ‘n polisie-informant, het Deon verder verduidelik.

Eers toe die Staat hom uitgevra het na die naam van sy hanteerder in die polisie het Deon gebieg dat hy nog nie ‘n geregistreerde agent was nie en net op ‘n informele basis inligting gedeel het.

Verder het Deon gesê al sy vorige veroordelings van onwettige jag, wilddiefstal en smokkelary van ongeslypte diamante kan nie teen hom gehou word nie, omdat dit meer as 10 jaar gelede plaasgevind het. Die Staat het Deon se kriminele rekord ingedien as ‘n bewysstuk hoekom daar nié aan hom borg toegestaan moet word nie.

Buiten vir dié rekord is die aanklagte uit die pleitooreenkoms wat hy met die Staat aangegaan het in die Ventersburg Landdroshof ook voorgehou as verdere bewyse. Vanaf 14 Desember 2005 tot en met Mei 2006 het Deon skuldig gepleit op ses aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters. In een geval het hy twee renosterbulle en een –koei naby Mbabane in die Kruger Nasionale Park doodgemaak en hul horings gestroop. Deon is toe gevang en op 29 Mei 2006 op borg van R10 000 vrygelaat. In die daaropvolgende drie maande het Deon skuld erken op ‘n verdere drie aanklagte wat verband gehou het met die dood van nog ses renosters.

Uitspraak in Deon se borgaansoek is teruggehou tot en met Maart, sodat sy broer Niklaas en Muchagowa ook eers hul aansoeke kan bring. Hulle sal op 1 Maart na verwagting hul aansoeke kan bring. Al drie sal tot dan in aanhouding bly.

 

 
 
 

Viewed: 940

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT