ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hendrik Olivier se foto van die Bubi-rivier binne Zimbabwe, wat op sy beurt by die Limpopo-rivier aansluit in Mosambiek. Hy het die foto geneem op Woensdag, 1 Februarie.

Boere is tevrede

Date: 13 February 2017 By: Andries van Zyl

‘n Mens kan met redelike veiligheid sê die droogte in die Soutpansberg-streek is gebreek.

Dit is die mening van mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie. “Ons het regtig baie goeie reën gekry, ver bo ons gemiddelde maandelikse reënval,” het Havinga Maandag gesê tydens ‘n telefoniese onderhoud, terwyl hy “in die middel van sy landery in die reën” gesit het. Hy, soos baie ander boere, is tevrede. “Soos die een oom eendag vir my gesê het, hy boer eerder in die modder as om in die stof te ry,” het Havinga skertsend opgemerk.

Daar is heelwat areas in Limpopo wat in Januarie bo-gemiddelde reënval registreer het. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens was die “toppresteerders” die Roodewal Bosbouplantasie wat 363 mm ontvang het (oftewel 239% van sy normale 152mm vir Januarie), Tom Burke met 211mm (269% van normale 78mm), Bela-Bela met 291mm (261% van normale 112mm) en Waterpoort met 96mm (140% van normale 69mm reën in Januarie). Ander dorpe en areas in die provinsie wat in Januarie lekker nat gereën het, was Alldays (121mm), Mara (120mm), Marken (131mm), Polokwane (59mm, slegs 71% van normale 83mm vir Januarie), Pontdrift (met 99% van normale Januarie reënval van 70mm), Soekmekaar (171mm), Thohoyandou (219mm), Tzaneen (282mm) en Venetia Myn (66mm). Inwoners van Louis Trichardt het tot 230mm vir Januarie gerapporteer.

Hierdie wydverspreide goeie reën het veral die ondergrondse watertafels en riviere aangevul. “Die bietjies-bietjies reën wat kort-kort uitsak, help beslis. Ek kan dit sien aan droë fonteine wat na baie jare weer begin loop het,” het Havinga gesê. Met die riviere wat afkom, het ook die Albasinidam se vlak begin styg. Volgens die Departement van Waterwese het die dam se vlak in een week (vanaf 23 tot 30 Januarie) met 10% gestyg vanaf 63.3% tot 73.7%. Teen Maandag het die dam se vlak tot 75.5% gestyg.

Met die Soutpansberg-streek wat soos baie ander dele van die land die afgelope twee jaar in die greep van ‘n ernstige droogte was, lyk oesvooruitsigte vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer goed, al is dit vir die 2018 seisoen. “Alhoewel ons nou in ons neutseisoen ingaan, lyk oeste nie belowend nie. Die reën vir vanjaar se oes het net te laat gekom. Ons is egter baie optimisties vir volgende jaar se oes, danksy die goeie reën wat ons nou kry,” het Havinga gesê. Hy het bygevoeg dat hulle wel vanjaar ‘n goeie koejawel-oes verwagVeral gauvas lyk goed, omdat dit nou water nodig het om te swel,” het Havinga gesê. Volgens Havinga is die nat weer ideaal vir piesangs, maar hang die piesangoes nog in die weegskaal. Die rede hiervoor is onder andere dat die piesangs nie in November geblom het nie vanweë die hitte. Wat die avokado’s betref, het Havinga gesê, huil die boere bietjie, want vir een of ander rede is die avobome besig om hul onvolwasse vrugte af te gooi.

Die vooruitsig vir wild- en veeboere lyk tans baie rooskleurig. “Die weiding het baie mooi herstel. Ek was self verlede week Alldays se kant toe. Die ouens se weiding lyk fantasties en ek dink ons sal die winter goed deurkom wat weiding betref. Mens moet onthou dat ons Maart en April ook reën kan kry,” het Havinga gesê.

Ten spyte van die goeie weiding het Havinga egter sy kommer uitgespreek oor die voorkoms van kommandowurms in die streek wat veral teer op weigras. Alhoewel kommandowurms seisoenaal kan voorkom, blyk dit ‘n nuwe spesie uit Suid-Amerika te wees wat tans die streek teister. “Ek het reeds klagte vanaf Waterpoort ontvang. Die probleem is ons het nie regtig al gifstowwe om hulle te spuit nie. Ons gifstowwe kom ook nie maklik by hierdie nuwe spesie uit nie, want in die geval van mielies kruip hulle baie diep in die stronk in,” het Havinga gesê.

Ten spyte van die kommandowurms en die reën wat vir sommige gewasse te laat gekom het om ‘n goeie 2017-seisoen te verseker, lyk dit of die goeie reën oor die streek nog vir ‘n rukkie gaan aanhou. Dit maak vooruitsigte vir ‘n goeie 2018 nog beter.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn voorspelling vir Februarie tot Junie 2017, dui plaaslike en internasionale voorspellingsisteme daarop dat Suid-Afrika se somerreënval gebied steeds ‘n nat tydperk kan verwag tot aan die einde van die seisoen. Daar is kanse van bogemiddelde reënval oor die grootste dele van die land, maar met ‘n lae moontlikheid. Die Weerdiens het bygevoeg dat dit belangrik is om te onthou dat alhoewel natter toestande ook vir die herfs voorspel word, daar tradisioneel ‘n afname in reënval is oor die noord-oostelike dele van die land in herfs.

Alhoewel goeie neerslae verligting gebring het ten opsigte van droogte toestande oor die oostelike en noordoostelike dele van die land die afgelope paar maande, heers daar steeds droogte toestande oor dele van sentraal en westelike Suid-Afrika weens ondergemiddelde reënval. “Die publiek word daaraan herinner dat, met die winter op die horison, grootskaalse waterverliese verwag kan word ten opsigte van ‘n afname in reënval en hoë vlakke van verdamping, veral oor die somerreënval streek,” het die Weerdiens gesê en aanbeveel dat waterbesparingsmaatreëls dwarsoor die land gehandhaaf word.

 
 
 

Viewed: 923

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT