ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dave op pad met sy Bart Mobile. 

Avonturier Dave se lang woestyn-stap nader einde

Date: 29 January 2017 By: Isabel Venter

Die Namibwoestyn is nie vir sissies nie. Só het plaaslike avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt laat weet uit Namibië. Hy het kort voor die einde van verlede jaar sy stapskoene aangetrek en sy geel Bart Mobile gepak om van suid na noord deur hierdie buurland te stap.  

Laat Dinsdagmiddag kon die koerant met Dave gesels (danksy WhatsApp boodskappe) waar hy bietjie uitgespan het vir ‘n welverdiende blaaskans by die klein dorpie Kamanjab (Plek van Klip). Kamanjab is geleë in die noordwestelike deel van Namibië se Kunene-streek, bekend onder die plaaslike mense as Damaraland. Dié dorpie lê ongeveer op die 1 500km merk vir Dave.  Hy het nog sowat 300km om te stap voordat hy klaarmaak met sy staptog by die Kunenerivier teen Angola se grens.

So ver, het Dave gesê, bly die hoogtepunt van sy stap die Namibiërs se absolute gasvryheid. “Hulle gaan uit hul pad om te help met blyplek, kos en drinkgoed langs die pad … Ek is natuurlik ook bly dat ek al so ver gevorder het – dit is nog ‘n persoonlike hoogtepunt,” het Dave bygevoeg.

Oujaarsaand het ook vir hom uitgestaan, toe hy alleen onder die sterre in die woestyn tussen Kuiseb en Walvisbaai gekamp het. “Ek was nog nooit so alleen gewees op ‘n Oujaar nie - nie eensaam nie, net alleen,” het Dave gesê.

Maar eintlik was die "alleentye" bitter min. Medereisigers, toeriste en oorsese vriende het gesorg dat daar geselskap is. So het een goeie vriend van Dave vooruit met ‘n lodge in Swakopmund gereël om vir hom ‘n baie spesiale troospakkie - met eish daarin - te stuur via een van hulle gaste wat Dave op sy roete sou kry. Dit was op Oujaarsdag gewees, sodat Dave darem 2016 kon vier.

Voor dit het ‘n groep aantreklike meisiestudente van die Universiteit van die Vrystaat hulle ontferm oor die “boemelaar” wat oor hul pad gekom het. Almal het lekker gelag oor die blaps, maar, sê Dave, hy kry nog gereeld boodskappe van bemoediging vir “Boemie” met die stappery saam. “Ek neem hulle nie kwalik nie. Ná ‘n dag se stap in die son lyk ek maar gehawend. Die klere is vol stof en my gesig het baie lelik gebrand. Faktor 50 kon nie eers help nie. O ja, en die stowwerige hare wat so windverwaai is, maak nie ʼn mooi prentjie nie,” het Dave gesê.

Op die koop toe het Dave ook lekker gewig verloor; soveel so dat hy reken ‘n leeu sal sy neus optrek vir hom.  Dit was in antwoord op ‘n vraag of hy nie bang is vir die wildernis nie. “Ek is nou so maer en seningrig - selfs ‘n leeu het sy trots,” het Dave gesê.

Buiten dat die stap vir Dave ‘n persoonlike uitdaging is, maak hy ook gebruik van die staptog om geld in te samel vir iets wat hom baie na aan sy hart lê – die bewaring van die land se renosterbevolking. Vir diegene wat graag Dave se vordering wil volg, kan hulle gerus sy Facebook-blad besoek. Soek net vir Dave van Graan en stuur ‘n vriendskapsuitnodiging.

 
 
 

Viewed: 476

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dave saam met 'n paar inwoners van Kamanjab laat Dinsdagmiddag.

Cheers uit Kamanjab!

Dave afgeneem op 27 Desemember, 10 km suid van Solitaire. 

 

Dave geniet die spesiale pakkie, met eish daarin, wat 'n vriend uit Australië vir hom gereël - net in tyd vir Oujaarsdag. 

Dave op pad met sy Bart Mobile. 

Pasop vir die olifante. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT