ADVERTISEMENT

 
 

 

Die inwoners van Laat Lente en Herfsakker in Louis Trichardt, skryf:

Waar begin ‘n mens om dankie te sê aan so ‘n wonderlike gemeenskap met sulke omgee en oop harte?

Ons mening is by ons Hemelse Vader. Dit kan net God wees wat ons so geseën het om deel te wees van Louis Trichardt se omgee gemeenskap. 

Ons as Laat Lente en Herfsakker se inwoners is stom geslaan met die fantastiese ondersteuning wat ons ontvang het tydens ons heel eerste basaar wat ons aangebied het. So baie dankie aan elke individu wat die basaar bygewoon het en ook tyd daar saam met ons spandeer het. Al die gesels en opgewondenheid was vir ons uit ons maag uit net lekkerkry. Wanneer laas het ons so baie mense met eenslag op ons perseel gehad wat net lekker vir ons kom kuier het?  Dit was net een groot woelige gedoente. Lekker man, sê ons jou, net lekker.

Daar is soveel persone wat ons gehelp het om die dag so ‘n groot sukses te kon maak. Ons vra byvoorbaat om verskoning indien ons dalk nie jou naam noem nie, maar weet asseblief dat jy deel was van ons groot sukses.

Die Rotariërs wat so onbaatsugtig die hele dag vir ons kom help het met die braai van die wors. Julle is ysters. Ben van der Merwe, dankie vir die hout, anders het ons nie vuur gehad nie. Dankie Inalize Burger van Vleispot wat nie ‘n sekonde geskroom het om vir ons op nommer 99 nog 30 stukkies wors te skenk toe ons haar skakel en sê: ‘Help, ons kort’.

Dankie aan al die individue wat self aangebied het om ons senior burgers te kom help by die stalletjies. Julle is so kosbaar en ons het al julle insette baie geniet. Dit was goed om oud en jonk so te kon sien saamwerk. Sonder julle hulp sou ons  baie gesukkel het. Plante is vir ons ook geskenk.

Aan die anonieme persone wat die groente geskenk het ...  Sjoe, ons was so oorweldig met die skenking. Wat die publiek nie altyd besef nie, dit is julle wat so mildelik vir al die senior burgers in hierdie gemeenskap op ‘n gereelde basis met al julle liefde net gee en gee.

Jaffels, wat sê ‘n mens? Lekker was nog nooit sleg nie. Neels Kruger, jy en jou span van die Gereformeerde Kerk bly maar eenvoudig net ‘n wenspan. Julle kon 300 jaffels maak en dit sou nog te min gewees het.  As mens bereid is om in goeie gees R50 ‘n jaffel te betaal dan weet jy die jaffel  was die moeite werd, en die jaffel was nie eers op veiling nie!

Pannekoeke, pannekoeke en nogmaals pannekoeke! Julle bakkers en strooiers, ons haal ons hoed vir julle af, en ons Wit Olifanttafel was sommer ‘n baie gewilde tafel. 

Dankie Johan Jordaan wat vir ons die dag musiek gemaak het. So op kort kennisgewing het hy nie gehuiwer nie toe ons op sy knoppie gedruk het. Was dit nou aangenaam met soveel vrolikheidheid op note. Dankie Johan, ons sal jou beslis bemark sover ons kan.

Dankie George Schimpers vir die kerrie-en-rys. Dit was voorwaar baie smaaklik. Baie dankie ook aan Burt vir die skenk van die blouwildebees vir die veiling. Die veiling was baie professioneel aangebied.   So baie dankie. Dankie aan al die individue wat aan die veilings deelgeneem het.

Dankie aan al die dames van die publiek en ook inwoners en familie wat soveel koeke en gebak aangedra het met die mooiste glimlagte. Die gebak was skaars ingedra, toe is dit weer uit. Ons ontvang nog steeds komplimente oor julle bakvernuf. Die naaldwerk was ook van hoogstaande gehalte en uniek.  Dankie aan al die vlytige dames wat so hard gewerk het om dit betyds te voltooi.

Baie dankie ook aan elke lid van die publiek wat ‘n kontantbydrae gemaak het. Dankie ook aan die Soutpansberg Dorpswag vir julle betrokkenheid en skenking, terwyl julle self geld kort om julle lede te beveilig.

Laastens bedank ons graag hierdie besighede wat, ten spyte van baie swak ekonomiese omstandighede, nog steeds hulle hand oopmaak waar dit nodig is sonder om te skroom: Thompsons Motors,  SPB Auto, Werda Toyota, Metcore, G4,  Hennetjie Nes,  Anhetico, Ocean Basket, Trio  Pompe, Sandberg Vervoer, PD Otto, Premjee, Palm Motors, Christo  Snyman, Montimart, Propaint (vir verf was ons benodig het), Aloe Bricks (vir die plaveisel rondom die lapa), NG Kerk Moedergemeente (vir die tafels, stoele, gazebo en yskas), U-Print (banners) en die Zoutpansberger vir die adverteer van die basaar.

Weereens baie dankie aan almal. Tot ons weer ontmoet.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT