ADVERTISEMENT

 
 

 

Suwil Rudolph, Louis Trichardt, skryf:

Ek lees in die koerant daar was reeds hierdie jaar meer as 80 plaasmoorde. Ek lees van ‘n vrou wie se lyk gevind is na ‘n motorkaping. Ek lees van ’n jongman wat verdink word dat hy sy gesin vermoor het, van mans wat hul vrouens vermoor het, van ’n egpaar wat hul dogtertjie doodgeslaan het, van 40 000 verkragtings per jaar. Ek lees van rooftogte, diefstalle, korrupsie, staatskaping en ons ekonomie wat binne die volgende twee jaar inmekaar gaan stort. Neem jou geld uit die land uit voor die land bankrot speel, raai Dawie Roodt ons aan. En in die Wes Kaap is die droogte op sy ergste. Kaapstad sit binnekort sonder water, Beaufort-Wes het reeds nie meer water nie, diere vrek van honger en dors en ander stede se watervoorraad mag ook in die toekoms opdroog. Ek dink by myself dat geen mens, nie eens Cyril Ramaphosa, ons uit hierdie benarde posisie kan red nie.

Dan kom die oproep van die NG Kerk aan alle gelowiges van alle denominasies om ’n verootmoedigingsdiens by te woon waar gebid sal word vir al die probleme. En ek weet die Here sal moet ingryp om ons te red. Hy alleen kan verlossing bring.

Die diens is gereël vir etenstyd. Meer gerieflik kan dit nie. Ek gaan vroeg kerk toe want ek weet die hele gemeenskap van 10 000 gaan opruk, plus nog die boere. Ons is ’n Christenvolk wat weet waar ons redding lê. En dis koud en ek wil nie buite staan vir die diens nie.

Teen 12:30 is daar min mense. Hul kom stadig aan en ek sien die kerk voller raak. 50, 100, 150 en skielik begin die diens. Dit is eenuur. 150 Gelowiges uit ’n gemeenskap van 10 000, boere uitgesluit, daag op. En ek dink, nee man, dit gaan nog goed in Suid Afrika! Jy is verniet pessimisties. Maar as ek bietjie daaroor nadink, weet ek dit is nie so nie. Dit gaan sleg. Baie sleg. Soos lanklaas in ons geskiedenis.

Ek wonder of die mense nie geldige verskonings het nie. Dit is etenstyd, party moet gaan rus, ander moet die winkel oophou anders verloor hul dalk R2 000, die kinders moet by die skool gehaal word, ander het ’n belangrike gholfwedstryd om af te handel en die boere ploeg of voer seker. Nee, 9 880 geldige verskonings, dit glo ek ook nie. En Jesus hou nie van verskonings nie: “Laat die dooies die dooies begrawe en volg my” het hy vir van sy dissipels gesê.

Miskien moet ek maar die feite in die gesig staar. Ons is lankal nie meer ’n Christenvolk nie. Ons doen net lippediens maar leef beslis nie so nie. Daarom dalk dat die Here sy rug op hierdie volk gedraai het? Sal Hy enige gebede verhoor of ag slaan op ’n paar se verootmoediging?

Dan dink ek aan Abraham wat by die Here gepleit het vir die inwoners van Sodom. “Here, as daar net 50 regverdiges is, sal U vir Sodom spaar?” “Ek sal,” antwoord die Here. Abraham pleit verder, “as daar net 30 is?”. “Ek sal,” antwoord die Here en Abraham stry die Here af tot net 10 regverdiges. Maar daar was ook nie soveel nie.

Het die kerk nie die wa voor die osse gespan deur ’n verootmoedigingsdiens te hou nie? Moet die volk nie eers terugkeer tot God en hulle dan verootmoedig nie? Miskien het dit tyd geraak dat ons predikante weer begin om bekeringspreke te lewer. Jy kan nie die ewige lewe beërwe tensy jy wedergebore is nie. Geen goeie werke, 100% bywoning van eredienste, dien op alle komitees of skenk van R100 000 per jaar aan die kerk kan jou red nie. Wedergeboorte is die enigste uitweg. Bely dat Christus die Here is, en waarom nie in die openbaar nie?

Net 150 uit 10 000. Dit is 1,5%. Nie eers in Suid Afrika kan jy matriek slaag met so ’n lae punt nie. Sal die Here hiermee tevrede wees? Het jy ’n geldige verskoning gehad om nie te kom nie of glo jy die ander kan maar bid, jy sal die vrugte pluk? Of glo jy dalk glad nie in gebed nie? Of glad nie? Die tyd in Suid Afrika raak min. Gaan ons by die Here pleit vir ’n bietjie meer tyd? Kan ons nog regtig koud staan of moet ons erns maak met die Here?

Here, as daar maar 10 regverdiges is, sal U vir Louis Trichardt spaar?

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT