ADVERTISEMENT

 
 

 

Mnr. Braam Dekker, voorsitter van Hoërskool Louis Trichardt se beheerliggaam, skryf:

Ná aanleiding van gesprekke en skrywes rondom die keuse van ‘n hoërskool enkele opmerkings. Hoërskool Louis Trichardt is die enigste publieke hoërskool binne ‘n radius van 100 kilometer waar Afrikaanse leerders steeds kwaliteit onderrig in Afrikaans ontvang.  ‘n Goeie plaaslike hoërskool waar leerders in hul moedertaal onderrig word, is sekerlik ‘n belangrike bate vir enige gemeenskap en baie plattelandse dorpe het nie meer daardie gerief nie.  Werkgewers wat werknemers uit ander gebiede in diens neem, sal kan getuig dat die eerste vraag van nuwe intrekkers gewoonlik is waar my kinders skool toe kan gaan ?

Wat sê dit dan van ons as ‘n gemeenskap, wat ons geld hier verdien, wanneer ons nie ons eie skole ondersteun nie, maar verkies om ons geld tyd en energie te spandeer om ander dorpe se skole te versterk ten koste van ons eie?  Skole, selfs meer as kerke of sportklubs, is ‘n belangrike samebindende faktor in enige gemeenskap.  Wanneer die plaaslike skool dan nie meer goed genoeg is nie, kan ons nou ook vra of die plaaslike besighede en ander instellings dan nog goed genoeg is.  As die gras dan soveel groener anderkant die draad is, waarom woon ons nog in hierdie gemeenskap aan die voet van die Soutpansberg?

Vir meer as 70 jaar al lewer Hoërskool Louis Trichardt leerders op wat as leiers en as gegradueerdes op  verskeie lewensterreine presteer. Kyk maar net hoeveel professioneel gekwalifiseerde persone en sakemanne is net hier in ons dorp wat oud-leerders van Hoërskool Louis Trichardt is. Dit sal ‘n kwade dag vir ons as gemeenskap wees as ons deur ons eie toedoen toelaat dat hierdie belangrike bate vir die gemeenskap tot niet gaan weens ‘n gebrek aan ondersteuning en betrokkenheid.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT