ADVERTISEMENT

 
 

 

Die volgende brief is ontvang van mnr. André Naudé van Coxwell, Steyn, Vise & Naudé prokureurs, wat namens die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) optree:

Uit die innuendo van die berig (in die Zoutpansberger van 23 Junie) blyk dit asof die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging met iets sinisters besig is, wat inderdaad nie die posisie is nie.

Dit word op rekord geplaas dat alle inligting wat u versoek duidelik blyk uit die hofdokumente, welke openbare dokumente is. Ons kliënte kan nie iets daartoe byvoeg nie.

Dit word verder bevestig dat ons kliënte inderdaad nié, op advies van hulle regsgeleerdes, enige openbare verklarings kon maak nie vanweë die feit dat die saak sub judice is en dit nie wys is om ‘n hofsaak deur die pers te voer nie.

Wat die konstitusionering van die SBBV betref, blyk dit baie duidelik uit die hofstukke wanneer en hoe hulle gekonstitusioneer is en dat dit amptelik en korrek gedoen is.

Dit blyk ook uit die hofstukke dat daar nie finansiële jaarstate opgestel kon word nie vanweë die ingrypende gebeure by die SBBV.

Dit blyk ook uit die hofstukke dat die bestuur waarvan mev. Inga Gilfillan die waarnemende voorsitter is en nié die waarnemende bestuurder nie, inderdaad onmiddellik ingegryp het toe hulle agtergekom het daar ‘n wanadministrasie van die fondse was.

Dit was vir die SBBV belangrik om verantwoordelik op te tree en toe te sien dat die fondse ten opsigte waarvoor daar nie verantwoording gedoen kon word nie so gou as doenlik ingevorder word in beste belang van die lede van die SBBV. Daar is onmiddellike optredes gevolg en forensiese oudits gedoen, ten einde eerste vas te stel welke bedrae nie voor verantwoording gedoen kon word nie en toe daar agtergekom is wat die bedrae is, het die bestuur onmiddellik ingrypende en dringende regsprosedures gevolg ten einde seker te maak dat die geld terugbetaal word.

Die bestuur kon nie bekostig om enige openbare verklarings te maak wat hierdie proses sou ondermyn nie.

Dit word bevestig dat die SBBV nié ‘n winsgewende organisasie is nie. Indien al die lede se gelde wat inbetaal word weer aan die munisipaliteit oorbetaal word minus die 3% heffing wat gehef word ten einde slegs die administratiewe personeel se salarisse te betaal, sal daar ‘n nul saldo wees, wat nie die vereniging enigsins insolvent laat nie.

‘n Nodige skikking is bereik in terme van die hofbevel ten einde so ver as prakties moontlik te verseker dat die SBBV se lede geen skade sal lei nie. U is welkom om die hofdokumentasie na te gaan op die hoflêer in die verband.

Die bestuur van die SBBV wat hierdie diens aan die gemeenskap gratis lewer, het uiters verantwoordelik opgetree onder die omstandighede en deurnag gewerk om die situasie, waarvan hulle nie die skepper was nie, suksesvol te hanteer wat hulle dan ook inderdaad gedoen het.

In die lig van die omstandighede, soos wat blyk nou nadat die hofbevel verkry is welke hofbevel die interdik ondervang, sal die ouditeure nou ‘n behoorlike rekonsiliasie kan doen sodra die fondse ingevorder is, sodat behoorlike terugvoering deur die bestuur op ‘n algemene jaarvergadering aan die lede gedoen kan word. Die feit dat die jaarvergadering dalk laat gehou word sal by die openbare vergadering geratifiseer word vanweë die bogemelde grondige redes, aangesien daar nie nou ‘n basis bestaan waarop die jaarvergadering geroep kan word en waarop terugvoering ten opsigte van die finansies van die SBBV gedoen kan word nie. Ons kliënte vertrou dat so ‘n vergadering gedurende Augustus/September 2017 of kort daarna gehou sal kan word, sodra die ouditeure die werk afgehandel het en dit duidelik is dat al die gelde in terme van die hofbevel terugbetaal is. Volgens die hofbevel en indien die hofbevel nagekom word, behoort alle uitstaande gelde (soos bekend aan die bestuur) met regskostes teen 16 Augustus 2017 terugbetaal te word. Dit word bevestig dat die eerste R200 000 wat in trust gehou is wel intussen ontvang is.

Volgens die hofdokumente is die totale bedrag wat die komitee van die SBBV terug verhaal plus minus R557 000 indien al die bedrae bymekaar getel word, wat ook ‘n openbare dokument is.

Dit word bevestig dat die berigte dat die SBBV sy kantore gesluit het, onwaar is. Die kantoor met die sekretaresse wat nog steeds in diens is, het net verskuif na ‘n nuwe adres waarvan die adres tans Kroghstraat 111, Louis Trichardt, is.

Ons kliënte vertrou dat die bogemelde verklaring inderdaad valse gerugte hok sal slaan en ‘n duidelike bewys daarvan is dat daar niks vreemds is in die optrede van die lede van die komitee van die SBBV nie, maar dat hulle inderdaad op ‘n verantwoordelike wyse opgetree het, ten einde die beste belang van hulle lede op die hart te dra. Volgens die hofbevel behoort elke sent wat nie korrek geadministreer is nie wel verhaal te word, soos wat dit binne die kennisveld van die komitee se lede mag blyk.

Die komitee se lede behoort inderdaad hartlik bedank te word vir hulle onbaatsugtige diens om soveel werk namens lede van die gemeenskap van Louis Trichardt op ‘n vrywillige en gratis basis te doen wat ure van hulle tyd in beslag neem.

Die komitee gaan in elke geval die bestaansreg van die SBBV op die agenda plaas vir ‘n jaarvergadering dien geroep te word, vir die lede om self te besluit of hulle met die vereniging wil voortgaan.

(Dankie vir die skrywe en ons plaas dit graag in geheel ten einde enige onsekerhede wat dalk mag bestaan, aan te spreek. Ons kan ongelukkig nie voorskryf watter afleidings lesers uit berigte moet maak nie. Die berigte was grotendeels feitlik en die foute, soos wat deur mev. Gilfillan in sosiale media uitgewys is, het nie ‘n beduidende invloed op die kruks van die storie gehad nie.

In die artikel en kommentaar wat in verlede week se uitgawe verskyn het, is meer inligting verskaf asook ‘n verskoning aan mev. Gilfillan vir die enkele feitefoute. Ons gevoel is steeds dat die beriggewing deegliker kon wees as die SBBV van meet af aan vrae beantwoord het. Die meeste van die vrae het nie betrekking gehad op die gebeure voor die hof nie, maar het gehandel oor die bedrywighede van die SBBV. Dit was vrae soos hoeveel lede die SBBV tans het en wanneer laas finansiële state beskikbaar gemaak is.

In die SBBV se verklaring in die hofstukke, word gesê dat die vereniging eers van die ongerymdhede bewus geword het in Januarie vanjaar. Sekerlik kan vrae oor die SBBV se aktiwiteite ‘n jaar of twee jaar gelede nie as sub judice beskou word nie?

Ons wag steeds op die SBBV om die vrae te beantwoord. – Redakteur.)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT