ADVERTISEMENT

 
 

 

Die gebeure rondom die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging die afgelope paar maande het die vraag laat ontstaan of mense werklik besef watter verantwoordelikheid hul opneem wanneer hulle dien op rade en komitees. Vir sommige mag dit klink asof dit ‘n prestasie is om die voorsitter van ‘n sekere groep of ‘n direkteur van ‘n maatskappy te wees, maar is die kool die sous werd?

Diegene wat by maatskappye betrokke is, sal besef dat dit al hoe moeiliker raak om persone te kry om op direksies te dien. Die Maatskappyewet stel soveel vereistes en plaas soveel verantwoordelikheid op lede, dat die risiko soms net te veel raak. Dit is egter nie dat daar fout is met die wetgewing nie; inteendeel, dit is belangrik dat die breër publiek die beskerming geniet wat die wetgewing bied. Dit is net dat bestuurslede moet besef dat hulle nie later kan argumenteer dat hulle nie geweet het wat van hulle verwag is nie.

Toe die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) in 2007 gestig is, was dit baie nodig dat ‘n drukgroep in die lewe gebring word om dienslewering te verseker. Daar is geen twyfel dat die SBBV bygedra het tot ‘n kultuur van verantwoordbaarheid in plaaslike munisipale bestuur nie.

Die SBBV is gestig as ‘n nie-winsgewende vereniging, wat kan optree as ‘n regspersoon onafhanklik van sy lede. In regsterme word ook daarna verwys as ‘n “universitas”. Hierdie is ‘n belangrike aspek, want dit beteken ook dat die regsliggaam kan bestaan sonder om beperk te word deur die regulatoriese vereistes van byvoorbeel die Maatskappyewet. Die vereniging is ook nie onderworpe aan regulering soos byvoorbeeld die wetgewing waaraan finansiële diensverskaffers moet voldoen nie.

Die ander pool is natuurlik dat lede van die publiek nie noodwendig soortgelyke beskerming van die regulatoriese stelsel geniet nie.

Die SBBV se aanvanklike grondwet is ook interessant omdat die lede-omskrywing inklusief, eerder as eksklusief, is. Dit sluit alle grondeienaars in die streek in, ongeag die grootte van die eiendom. Selfs inwoners in landelike areas kan aansoek doen as lede, maar dan sonder stemreg. Die konstitusie gaan selfs sover om te sê dat die sekretaris van die vereniging ‘n lys moet byhou van belastingbetalers wat skriftelik aangedui het dat hulle nie aan die vereniging wil behoort nie.

Die “reguleringsdokument” by so ‘n universitas is die konstitusie. Dit bepaal wanneer en op welke wyse vergaderings gehou moet word, hoe die gelde geadministreer moet word en hoe verkiesings gehou word. Daar is ook ‘n aanvaarding dat die “waghonde” wat moet seker maak dat die reëls toegepas word, die bestuur en lede is. Hoe nou gemaak as die lede egter by direkte implikasie die breër gemeenskap is?

Dit is hier waar die belangrikheid van deursigtigheid ter sprake kom en natuurlik ook die media wat as boodskappers dien om die publiek ingelig te hou. Dit is ook ‘n tweerigtingstraat, waar die media deur die organisasie ingelig moet word en die media erns moet maak van hul rol as waghonde in die samelewing.

Die SBBV se jaarvergadering kon, na wat verneem word, nie verlede jaar plaasvind nie, omdat daar nie ‘n kworum teenwoordig was nie. Ietwat teenstrydig met die vereniging se grondwet, is dit nie vooraf in die media geadverteer nie en is dit ook nie weer geskeduleer nie. Finansiële state is ook nie beskikbaar gemaak nie.

Dit is weliswaar so dat die koerant wat hierdie gemeenskap dien, nie navraag gedoen het en gesien het dat daar krakies begin verskyn het nie.

Die gevaarseine was waarskynlik al sedert 2015 sigbaar, toe die SBBV aangekondig het dat hulle voortaan hul eie fondse gaan administreer en dat lede nie meer hul gelde in die prokureursfirma se trustrekening hoef in te betaal nie. Die ekstra sekuriteit wat die trustrekening gebied het, is verwyder en daarmee ook sekere regulatoriese vereistes. (In kort – meer verantwoordelikheid op die oorblywende bestuurslede.)

Nuus oor die SBBV se bedrywighede was die afgelope jaar of wat beperk en slegs gerig tot hul oorblywende (betalende) lede. Van buite het dit voorgekom asof alles fluks aan die gang is en dat die SBBV, in 'n ietwat ander rol as wat aanvanklik beplan is, aangaan.

In Mei vanjaar het gerugte die rondte begin doen dat alles nie pluis was nie. Amptelik wou die SBBV nie veel sê nie, want, is daar aangevoer, die aangeleentheid is voor die hof. Navrae by onder meer die hof het aan die lig gebring dat ‘n klag teen die vereniging se bestuurder reeds in Maart vanjaar aanhangig gemaak is. ‘n Forensiese ondersoek is in Februarie versoek. Die bestuurder het in Mei in die hof verskyn en die SBBV het ook aansoek gedoen om ‘n dringende hofinterdik om sekere bankrekenings waarin geld gedeponeer is, te vries.

Sedert die eerste hofverskyning is verskeie vrae deur die Zoutpansberger aan die SBBV gerig, maar die bestuur het besluit om nie te reageer alvorens al die sake in die hof afgehandel is nie. Die vrae wat aan die SBBV gestel is, het egter gefokus op die bedrywighede van die vereniging, die beskikbaarheid van finansiële state en notules van jaarvergaderings. Die vrae was ook daarop gerig om die finansiële welstand van die vereniging te probeer bepaal en die risiko wat dit inhou vir lede van die gemeenskap.

Weliswaar kan die koerant nie bestuurslede dwing om te antwoord op vrae nie. Die realiteit is egter dat, as jy nie antwoorde kry nie, jy ander roetes volg om die inligting te kry. Dit kan ‘n regsproses insluit, maar in ‘n klein gemeenskap is daar gewoonlik iemand wat iemand ken wat iets weet. Die risiko is egter dat die inligting nie eerstehands is nie en dat van die feite dalk verkeerd kan wees. Die joernalis probeer dit so ver moontlik bevestig, maar dit bly ‘n risiko. Op grond van die inligting wat in die hof verkry is en wat redelik bevestig kon word, het die koerant gerapporteer oor die gebeure.

Die SBBV se waarnemende voorsitter het die afgelope week op sosiale media te velde getrek teen die Zoutpansberger en die koerant van onprofessionele gedrag beskuldig wat op kwaadwillige wyse leuens verkondig. Sy het die koerant beskuldig dat hulle besig is met ‘n heksejag op haar en die res van die komitee. Haar kritiek was egter beperk tot “foute” wat min of geen uitwerking op die kruks van die storie het nie. Sy is weer genooi om oop kaarte te speel en antwoorde te verskaf op die vrae wat gestel is.

Miskien is dit waar die geduld nou opgehou het. Die koerant het al die reg om die vrae te vra en dit is belangrik dat die SBBV eerlik en reguit kommunikeer met die breër gemeenskap. Dit beteken ook nie om wyd en syd te verkondig dat “al ons dokumentasie ter insae beskikbaar is en ons niks wegsteek nie.” Dit beteken dat die inligting verskaf word wanneer dit versoek word.

Persoonlik ken ek heelparty van die SBBV se bestuurslede al vir amper drie dekades. As individue het ek baie respek vir dit wat hulle doen, hul integriteit en passie. As daar ‘n woonbuurt was vir die “sout van die aarde” inwoners, sou die meeste van hulle daar gebly het. Tog is ek bekommerd dat hulle nie die omvang van hulle verantwoordelikheid, veral teenoor die breër publiek, begryp nie.

Die voorsitter se werk om die lede se geld te probeer verhaal, is prysenswaardig. Haar ywer om seker te maak dat reg geskied, is net so indrukwekkend. Haar optrede teenoor die media is minder aanvaarbaar.

Hou op om die media as die vyande te beskou wat daarop uit is om die vereniging te beswadder. Die waarheid kon nog nooit gebruik word om iemand se integriteit aan te val nie. Die hoedens wat jul dra plaas ‘n verantwoordelikheid op julle en dit is nie altyd aangenaam nie – net soos dit nie altyd vir die persone in die media maklik is om persone soos julle te konfronteer met ongemaklike vrae nie. (Redakteur - Anton van Zyl)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT