ADVERTISEMENT

 
 

 

Marinda le Roux skryf:

Ek is ‘n stadsbeplanner en omgewingspraktisyn van Advisian (Worley Parsons) wat betrokke is by die nasionale program om SEZs te ontwikkel en wil na aanleiding van die artikel  “SEZ will not to be another ‘white elephant’” in die Zoutpansberger van 16 April graag my siening deel oor die “stadige” ontwikkeling van eiendomme deur die regering waardeur werks­geleenthede en ekonomiese groei belowe word.

Ontwikkelingsprojekte hierby ingesluit is die beoogde SEZ in Makhado en die “LEIP eco-industriële park” en ontwikkeling in Louis Trichardt se industriële gebied wat lyk of dit nie op spoed kom nie. Hoewel die SEZ nie die eco-industriële park vervang nie, is dit ongelukkig so dat befondsers soos die Chinese (wie nou ‘n groot bedrag beskikbaar gemaak het vir die SEZ se voorafondersoeke), wel na die provinsiale prentjie kyk en moontlik (my opinie) die SEZ nou beskou as ‘n beter belegging. Die Munisipaliteit het boonop soveel ander verantwoordelikhede wat as prioriteite in die geïntegreerde ontwikkelingsplanne (IDP) gelys word: sanitasie, behuising, skole (wat afgebrand word) en natuurlik (ongelukkig) ook die onderliggende politieke motiveerders. Die publiek moet in gedagte hou dat verskeie verwante aktiwiteite soos die bou van paaie, storting van afval, voorsiening van water en sanitasie en die behuisingskomponent deel uitmaak van strategiese projekte, maar ook dat die Nasionale Omgewingsbestuurswet (bekend as NEMA) bepaal dat daar gedetailleerde omge­wingsimpakstudies gedoen word alvorens hierdie soort projek mag voortgaan. Om hierdie rede (en natuurlik die bekom van befondsing vir hierdie tipe mega-projekte) is dit onwettig om selfs net die grond “skoon te maak”, waarskynlik ook die geval van die industriële park in Louis Trichardt, wat in die artikel bespreek is deur middel van die foto “property is today still as barren and undeveloped as the day it was sold.”

Vir enige aktiwiteit wat in die NEMA gelys word is dit nodig om die impakte op die omge­wing te ondersoek en aansoek te doen by die Departement van Omgewingsake, wie dit moet goedkeur alvorens die aktiwiteit mag voortgaan. ‘n Omgewingsimpakstudie kan enigiets tussen nege maande tot twee jaar neem. Verdere goedkeuring van die Departement van Water en Sanitasie geld ook waar impakte water lisensiëring sou vereis of waar kultuurhistoriese areas of items moontlik versteur of vernietig kon word. Sou iets gevind word, moet maatreëls geneem word om items te bewaar, en sluit in die skuif van grafte, bewaring en/of dokumentering van artefakte, paleontologiese vondste ensovoorts. Die hersonering van ‘n eiendom (en dorpstigting as dit landbougrond is wat “ongesoneer” is) is ‘n stadsbeplanningsproses wat ook ‘n aansienlike tyd neem, want die uitleg van die area moet gemaak word sonder dat daar sekerheid is oor presies watter industrieë op die ou end die grond gaan beset, en die uitlegplan moet by die ower­hede goedgekeur word en by die Landmeter-Generaal ingedien en verwerk word. Dis dus nie ‘n kwessie van bloot vinnig ‘n stootskraper instuur, erf skoonmaak en begin bou nie.
(Brief verkort - Red)

 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT