ADVERTISEMENT

 
 

 

Ek is ‘n ouer in hierdie gemeenskap. Voordat ons as gesin in 2007 hier kom vestig het, was ons ‘n paar jaar in die buiteland. Ons was deeltyds in die bediening en het uit ons omstandighede ‘n begrip ontwikkel vir God se gesin en wat Sy wil vir ons is. Ons het geleer dat ons gesin se behoud is ons eenheid en sterk gesonde verhoudinge tussen ons as ouers en kinders, met God se Woord sentraal tot dit alles.

In Louis Trichardt het ons gesin betrokke begin raak in ons gemeenskap, ook by die skole. Ons het puik skole waarheen ons kinders gaan. Ons vyf kinders woon beide plaaslike laer- en hoërskool by. Ons is baie tevrede. In Louis Trichardt woon pragtige mense, kinders van God met hul gesinne. Die dorp is werklik geseënd. Ons sien met die plaaslike skole se funksies en prysuitdelings hoe talentvol ons kinders in die gemeenskap is.

Ons gesin verklaar nes menige ander rondom ons, luidkeels, die bekende Joshua 24:15. En ons glo dit almal. En tog wonder ek, as ek hoor en sien wat gebeur met die uit­tog van kinders uit ons dorp met die aanbreek van die hoërskooljare, wat word van die huise wat die Here dan nou dien?
Die laaste twee jaar dien ek op die plaaslike hoërskool se beheerliggaam, en ek is opgewonde en dankbaar oor wat ek sien en beleef. Ons het ‘n puik hoof met twee voorslag adjunk­hoofde. Ons offervaardige leerkragte stap die tweede myl sonder dat hulle daarna gevra word en ons ouers waardeer hulle.    

Behalwe hiervoor, het die Woord egter die deurslag­ge­wende waarheid wat ons as ouers rig en vrede gee. Dis ons verantwoordelikheid om ons kinders te onderrig in God se weë. Dis nie die verantwoordelikheid van iemand anders nie. Allermins ander tieners in ‘n koshuis weg van die huis af. Hulle is maar nog net kinders, al dink ons wat.

God se planne vir elk van ons kinders se lewens sal van­uit die ouerhuis, waar ons as gesin saamwoon, gestalte aanneem. As daar nou ooit twee ouers was wat geweet het God het groot planne vir hul kind, was dit Josef en Maria. Selfs voor Jesus se geboorte was dit al duidelik. En toe? Toe woon hulle in Nasaret, en dis van daar wat Jesus Sy twaalf dissipels gekies het en bedien het. Ons lees van Jesus wat op twaalfjarige ouderdom in die tempel agtergebly het. Tog, al het Sy ouers geweet Hy het ‘n spesiale, besonderse Goddelike roeping, het hulle Hom steeds bly onderrig en opgevoed in hulle eie huis. Hulle het Hom nie na Jerusalem, waar die tempel was, gestuur nie. Hulle het ook nie soontoe getrek nie.

Daar sal ‘n regte tyd kom wanneer ons kinders die ouerhuis sal verlaat, want by God is daar ‘n regte tyd vir alles, die volheid van tyd. Hul tyd is egter nog by ons, in die huis, waar ons hul ooreenkomstig die Woord in vennootskap met God grootmaak.

- Deur Gideon Joubert van Louis Trichardt

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT