ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ou kraaminrigting soos dit vandag daar uitsien as perseel van die Zoutpansberg Privaathospitaal.

Ou kraaminrigting baan dekades later weg vir nuwe privaathospitaal

Date: 22 September 2023 By: Andries van Zyl

Dat Louis Trichardt se inwoners baie oplettend is, is duidelik, want almal wat ingeskryf het, het die leidraad vir die koerant se dertiende “skattejag” kompetisie reg geïdentifiseer. Die leidraad in die foto was een van die gewels by die Zoutpansberg Privaathospitaal. Baie geluk aan Chené Buys, wie se naam as wenner getrek is. Sy wen ons R300 prysgeld.

Die oorspronklike gebou waarin die Zoutpansberg Privaathospitaal (ZPH) tans geleë is, het ‘n interessante geskiedenis, alhoewel gapings plek-plek voorkom. Oorspronklik is die gebou in 1933 deur ene mnr. Johnny van Breda opgerig as ‘n woonhuis vir hom en sy gesin. In September 1949 het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie die gebou by hom gekoop en omskep in ‘n kraaminrigting, aangesien die Louis Trichardt Gedenkhospitaal daardie jare nie beskik het oor ‘n kraamafdeling nie.

Hierdie foto van Louis Trichardt se ou kraaminrigting op die hoek van Celliers- en Joubertstraat is rondom 1950 geneem. Oorspronklik is die gebou in 1933 deur ene mnr. Johnny van Breda opgerig as ‘n woonhuis vir hom en sy gesin. In September 1949 het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie die gebou by hom gekoop en omskep in ‘n kraaminrigting. Vir bykans twee dekades het dit as kraaminrigting gedien. Wie sou kon dink dat dit later ook sou dien as perseel van Louis Trichardt se eerste privaathospitaal? Die oorsprong van die foto is onbekend.

“Die SAVF het die inrigting beheer tot in 1970, toe dit aan die Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA) verkoop is. In Desember 1949 het die tak ook ‘n verpleegster verbonde aan die kraaminrigting aangestel om die distrikverpleegdienste te behartig,” lui die 1904 tot 2004 eeufees gedenkboek van die SAVF.

Suster Celia Nel is die persoon wat deur die SAVF as kraamsuster aangestel is en sy het vir sewentien-en-‘n-half jaar waargeneem as hoof van die SAVF se kraaminrigting. In die tussentyd is die Louis Trichardt Gedenkhospitaal deur die provinsiale administrasie opgegradeer en is ‘n volledige kraamafdeling aangebou. Suster Nel is verskuif na die nuwe kraamafdeling by die Gedenkhospitaal en het daar vir ‘n verdere vier-en-‘n-half jaar gewerk, waarna sy afgetree het.

Nadat die ou kraaminrigting in 1970 deur die SAVF verkoop is, het dit onder meer gedien as pastorie van die N. G. Kerk en as ‘n kleuterskool. Aan die einde van 1979 het mnr. J. F. de Lange die huis by ene mnr. Venter gekoop. Die De Langes het tot in Junie 1988 die huis bewoon, waarna hulle die huis aan prof. Phil Brouwer van die Universiteit van Venda (Univen) verkoop het. Die volgende eienaar was die eertydse goudsmid, Johan (Harry) en sy vrou Roeline Harris, wat ook aan Univen verbonde was. Die Harris-gesin was die laaste gesin wat die huis bewoon het.

Die huis is daarna deur ‘n groep dokters aangekoop met die oog op die totstandkoming van ‘n privaathospitaal. Dit het begin met ‘n vergadering een aand in dr. Jan Vermaak se kantore. Ook daar was wyle dr. Marc Smalle. Van die begin af het die dokters ‘n opdraande stryd gestry en vir jare gesukkel het om registrasie te kry vanaf die Departement van Gesondheid vir die oprigting van ‘n privaathospitaal.

In 1998/99 is die ZPH as maatskappy geregistreer. Ook in hierdie tyd het hulle die ou kraaminrigting gekoop. Die daaropvolgende jaar, in 2000, het die Departement van Gesondheid ‘n lisensie toegestaan dat die perseel as sub-akute kliniek bedryf kon word. Opgradering van die ou gebou na ‘n 12-bed sub-akute kliniek het toe begin en op 8 November 2001 is die eerste pasiënt opgeneem. Die eerste baba (normale geboorte) is op 15 November 2001 in die kliniek gebore.

Hierdie foto is geneem in die tydperk wat die ou kraaminrigting bekend gestaan het as die Zoutpansberg Kliniek.

In 2004 het die kliniek ‘n nuwe fase van ontwikkeling betree, met die Departement van Gesondheid wat ‘n lisensie vir die bedryf van ‘n akute hospitaal aan die maatskappy toegestaan het. Dit het voorsiening gemaak vir een teater, asook 12 addisionele beddens. Konstruksie aan die teaterkompleks en ekstra kamers het in Oktober 2005 begin, met die eerste teatergeval wat ‘n jaar later, in Oktober 2006, hanteer is. In dié tydperk is die naam Zoutpansberg Privaathospitaal begin gebruik.

Deur die jare het die hospitaal hulle lys van dienste uitgebrei, wat ingesluit het besoekende spesialiste. Die hospitaal se volgende mylpaal was in 2013/14, toe erwe langs die hospitaal aangekoop is met die oog op toekomstige verdere uitbreiding. In November 2015 is ook ‘n nuwe 10-bed dagsaal voltooi.

Die hospitaal se grootste mylpaal tot op hede was egter die bou van ‘n nuwe 92-bed privaathospitaal op die erwe wat in 2013/14 langs die bestaande hospitaal gekoop is. Dié ontwikkeling is ‘n direkte uitvloeisel van ‘n vennootskap tussen die hospitaalbestuur en Summit Africa, wat die beherende aandeel in die maatskappy bekom het. Bouwerk aan die nuwe hospitaal het in 2022 begin, kort ná die sooi-spit seremonie aan die begin van Maart van daardie jaar. Dit het gevolg nadat die Departement van Gesondheid in 2020 toestemming aan die ZPH verleen het om voort te gaan met die uitbreiding.

Die nuut-voltooide privaathospitaal in Louis Trichardt langs die bestaande Zoutpansberg Privaathospitaal. Die nuwe perseel sal voortaan bekend staan as die Crestcare Zoutpansberg Hospitaal.

Met konstruksie voltooi en slegs finale afwerkings wat nog gedoen moet word, is beleggers verlede Donderdag, 14 September, op gesellige wyse by die nuwe hospitaal onthaal vir ‘n bekendstelling en deurloop van die fasiliteite. Die hospitaal sal amptelik op 1 November open, onderhewig aan finale inspeksie en goedkeuring deur die Departement van Gesondheid. Dit sal bekend staan as die Crestcare Zoutpansberg Hospitaal. Die ou perseel sal daarna gebruik word om alle ondersteuningsdienste tot die nuwe hospitaal te huisves.

 

 
 
 

Viewed: 1245

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT