ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 83-jarige oom Peet Delport langs die unieke skryftafeltjie wat hy meen uit die 17de eeu dateer en in die huis van beide Sir Ernest Oppenheimer en later jare sy seun Harry gepronk het.

Is oom Peet se tafeltjie 'n skat uit die geskiedenis?

Date: 05 February 2022 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het nog heelwat verborge skatte en volgens die 83-jarige oom Peet Delport is hy die eienaar van een van daardie skatte.

Oom Peet het vroeg verlede week ‘n draai gemaak by die kantoor van die Zoutpansberger met ‘n interessante verhaal. Hy het vertel dat hy die eienaar is van ‘n unieke skryftafeltjie wat uit die 17de eeu dateer en eens in die huis gestaan het van bekende Suid-Afrikaanse miljoenêrsfamilie die Oppenheimers. Oom Peet se entoesiastiese vertelling het die belangstelling geprikkel en ‘n afspraak is gemaak om hom Vrydag by sy plaashek, sowat 10km uit op die Bluegumspoort-pad, te ontmoet.

Was dit nie vir ‘n wyse besluit om eerder die viertrek-bakkie te vat nie, sou die afspraak op die plaas sekerlik nooit plaasgevind het nie. Deurdringende reën oor etlike dae het die Bluegumspoort-pad in ‘n moddergemors omskep. Voeg daarby die sowat 1,5 km twee-spoor plaaspad na die plaasopstal toe en mens is eintlik verlig wanneer jy uiteindelik die plaashuis sien.

Gebou in die vroeë 1920’s is die plaashuis klein, maar vir die Delports is dit huis. “Kom in!” wink oom Peet se vrou, tannie Betsie (81), vriendelik vanuit die kombuis se agterdeur. Om jou hardloop daar oral ‘n klomp klein waghondjies rond wat jou aankoms luidrugtig aankondig. In die kombuis is daar ‘n ou koolstoof, warm gestook met kole terwyl die kospotte ritmies daarop prut. Dit voel voorwaar soos plaas ... rustig, en jy verlang sommer terug na jou ouma se huis.

Mens kan dadelik sien dat oom Peet en tannie Betsie lief is vir oudhede. Oral in die huisie is unieke meubelstukke, van twee Engelse eikehout his-and-hers Victoriaanse stoele, soos oom Peet dit noem, tot ‘n geelhoutkas met fyn porselein eetware. “Die stel is nie volledig nie, maar meeste is daar,” sê tannie Betsie.

Oom Peet is gretig om die koerant se vrae oor die tafeltjie te antwoord. Dié pronk trots voor die venster in die egpaar se slaapkamer. Die onderhoud gaan by tye maar stadig. Oom Peet se gehoor is nie meer dié van ‘n jong man nie, en ‘n paar keer moet ‘n vraag weer gevra word – harder.

Oom Peet val met ywer weg ...

“Die tafel is in 1903 deur Sir Ernest Oppenheimer saam met ‘n skeepsvrag antieke meubels ingevoer van Londen af na Suid-Afrika. Dit was net ná die Boereoorlog. Hy het dit gedoen vir handelsdoeleindes, maar daardie tafeltjie het hy goed genoeg geag om vir homself te hou. Met sy afsterwe het sy seun Harry dit geërf,” vertel oom Peet.

Dat die tafeltjie ‘n plek sou kon vind in Sir Ernest Oppenheimer se huis kan wel so wees. Die tafeltjie is uit soliede Engelse rooshout gemaak, met houtsneewerk en konstruksie wat getuig van uitsonderlike vakmanskap. Dit het twee laaitjies en ‘n roltop, pragtig versier met brons handvatsels. Die uittrek skryfblad het nog sy oorspronklike pegamoid-oortreksel en in die pennegleuf lê nog twee inkpenne. Die tafeltjie is nog net soos hy in die land aangekom het – ongerestoureerd.

“Harry Oppenheimer het ‘n persoonlike tuinier gehad, ‘n wit Engelsman, wat na sy tuin in Houghton gekyk het,” vervolg oom Peet. “Hy [die tuinier] het my self vertel hy het gereeld sy salariskoevertjie uit die kassie kom haal wat in Oppenheimer [Harry] se voorportaal gestaan het. Toe sê hy eendag vir Oppenheimer hy moet hom in sy testament onthou as hy die kassie wil bemaak. Toe die ou kêrel 33 jaar diens het, toe gaan hy op pensioen en Oppenheimer het hom toe die kassie as afskeidsgeskenk gegee,” sê oom Peet. Hy kon ongelukkig nie meer die ou Engelsman se naam onthou nie.

Volgens oom Peet het hy en die Engelsman ontmoet toe hy vir hom matte by sy huis gaan insit het. “Ek het ‘n vloerbesigheid destyds in Kemptonpark gehad. Die Engelsman kon my egter nie betaal nie. Die ou Engelse tannie het nog vir my gesê: ‘Mr Delport, I am so sorry but I made a terrible mistake with the calculation of my bank balance. Won’t you please accept that desk which you love so much as full payment?’ Ek het haar die eendag gesê, terwyl ek besig was met opmetings, ‘Jitte, dit is ‘n mooi ding hierdie!’ Toe sê ek vir haar ‘Yes, by all means’.”

Volgens oom Peet het hy ‘n taamlike besigheid gehad, maar het in daardie stadium ‘n effense kontantvloei probleem gehad. “Ek sou die geld verkies het, maar ek het dadelik gedink dit is ‘n goeie belegging vir my oudag,” sê oom Peet. Hy het toe al reeds ‘n goeie kennis van meubels gehad weens sy agtergrond in die meubelbedryf in die 1960’s.

Oom Peet het die tafeltjie in 1981 bekom. Sedertdien reis die tafeltjie versigtig saam met die familie. “Mens kan sien hy het gewerk, maar hy is nog hier,” sê oom Peet.

Oom Peet en tannie Betsie het in 2003 na die Soutpansberg verhuis na die plaas Beeston, wat in 1987 daar tannie Betsie se pa gekoop is. “Ons het op 25 Augustus 2003, kwart oor twee die nag, op die plaas aangekom. Ons meubels het die volgende dag kwart oor twaalf hier aangekom. Die skryftafel het ek self hierna toe vervoer in my bakkie, nadat ek dit in ondervelt toegedraai het. Ek wou hom nie in die treklorrie laai nie, want hulle gee mos nie om hoe hulle die goed indruk nie,” vertel oom Peet.

Volgens oom Peet het die tyd nou aangebreek om van die tafeltjie ontslae te raak. Lewenskoste is duur en oom Peet is gretig om te probeer uitvind wat sy “belegging” in 1981 nou werd is. Hy verwys na ‘n Sotheby’s veiling so ‘n paar jaar gelede waar ‘n meubelstuk uit ongeveer dieselfde tydperk vir ‘n bedrag met ‘n hele paar nulle verkoop het. Maar wat is oom Peet se skryftafeltjie werd? Die koerant het besluit om bietjie namens oom Peet navorsing te doen.

Ná heelwat navrae is kontak gemaak met mnr. Louis Eksteen, kultuurhistorikus en kurator van die Newcastle Museum by Fort Amiel. Hy het sommer met die intrapslag bietjie slegte nuus gehad vir oom Peet. “Die datum 1903 is 'n goeie aanduiding van die vervaardigingsdatum van die lessenaar. Ongelukkig is dit nie 17de-eeus nie. Die styl is neorococo. Rococo was in die middel 18de eeu die styl. Ook Louis XV. Dit is Frans in styl, maar die Engelse het dit ook oorgeneem. Tipiese roll-top desk met kabriool pote. Die kerfwerk is ook tipiese rococo krulwerk in cartouches. Dit is egter Edwardiaanse neorococo, wat een van die herlewingstyle in die begin van die 20ste eeu was,” sê Eksteen.

Volgens Eksteen lyk die lessenaar baie Anglo-Indies in terme van vervaardiging en het daardie gevoel. “Veral die kerfwerk se kwaliteit en die plasing op die laaie. Die Engelse het patrone en planne na Indië gestuur en dit is daar deur vakmanne gemaak. Dis wyd versprei in die Britse kolonies,” sê Eksteen. Dit is ook heel moontlik hoe die tafeltjie, volgens Eksteen, in Suid-Afrika opgeëindig het en ook in die Oppenheimers se huis, met hulle koloniale verbintenisse. “Die spieël bokant is ook tipies Edwardiaans. Neo-Georgians met ‘n spinnekop webpatroon wat weer Chinese invloed of Chinoiserie weerspieël. Dan is daar die gebreekte kroonlys of gewel met die krulle na binne. Ook 18de-eeuse styl, maar neorococo. Die glas self is verseker ongeveer 1903 met die sekelmaan vorm en kante wat 45% op die rante gesny is,” het Eksteen gesê.

Oor waarde het Eksteen ook gespekuleer. “Ek sou dink so R10 000 tot R12 000. Maar retail so R6 000 tot R8 000; laasgenoemde as jy dit aan 'n handelaar verkoop. Dan sal ek waag tot R18 000 as die herkoms [die Oppenheimer-verbintenis] bewys kan word, maar dis ‘n ander storie en jy moet ‘n entoesiastiese koper kry,” het Eksteen gesê.

Prys word egter bepaal deur wat enige gewillige koper op enig gegewe tyd bereid is om te betaal. Derhalwe het die Zoutpansberger besluit om nog bietjie verder navorsing te doen oor die tafeltjie. Meer hieroor in ‘n opvolgstorie.

 

 
 
 

Viewed: 2086

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die tafeltjie is uit soliede Engelse rooshout gemaak, met houtsneewerk en konstruksie wat getuig van uitsonderlike vakmanskap. Dit het twee laaitjies en ‘n roltop, pragtig versier met brons handvatsels. Die uittrek skryfblad het nog sy oorspronklike pegamoid-oortreksel en in die pennegleuf lê nog twee inkpenne. Die tafeltjie is nog net soos hy in die land aangekom het – ongerestoureerd.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT