ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Charles Leach met ‘n handgemaakte Bushveldt Carbineer wapentjie en 'n kleurfotostaat van 'n bladsy uit 'n register van Elim Hospitaal. Die register werp lig op die eienaar van die wapentjie, wat onlangs deur mnr. Gary Watkins ontdek is.

Vonds op ashoop het historici gaande

Date: 10 March 2006 By: Linda van der Westhuizen

‘n Nuwe vonds en inligting het liefhebbers van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog gaande.

‘n Klein lapelwapentjie wat bestaan uit die letters BVC is aan die publiek vertoon tydens ‘n praatjie deur mnr. Charles Leach op 25 Februarie by die Lalapanzi Hotel. Die wapentjie is deur mnr. Gary Watkins gevind in ‘n ashoop naby die oorspronklike Bandelierkophotel. Mnr. Leach, navorser en skrywer oor hierdie geskiedkundige tydperk, sê dat hy feitlik honderd persent seker is dat die wapentjie deur ‘n Bushveldt Carbineer gemaak is. Na aanleiding van sy navorsing kan hy ook met redelike sekerheid sê aan wie die wapentjie behoort het.

“Die wapentjies is met die hand uit kanondoppe gemaak wanneer die Bushveldt Carbineers verveeld was. Die BVC of BC wapen is nêrens vervaardig nie en nie twee lyk dieselfde nie," sê Charles.

Mnr. Watkins, wat van Zimbabwe kom en tans die plaas van wyle mnr. Martin Armitage oppas, versamel graag oudhede op ashope met ‘n metaalverklikker. Op die ashoop het ‘n botteltjie mnr. Watkins se aandag getrek. Onder die botteljie ontdek hy toe die Bushveldt Carbineer wapentjie, wat in die Skermutselingsmuseum by die Lalapanzi Hotel uitgestal gaan word.

‘n Noukeurige ondersoek van ‘n register by Elim Hospitaal het weereens die geskiedenis laat lewe.

“Hierdie BVC wapen moes behoort het aan ‘n man met die naam Setterfield. Die eerste eienaar van die Bandelierkophotel was ene Setterfield. Sy jonger broer was in die Bushveldt Carbineers. Na die oorlog het hy by sy ouboet gaan werk by die hotel. Een dag was daar ‘n perderesies waaraan hy deelgeneem het. Jong Setterfield het van sy perd afgeval. Sy voet het seker in die stiebeuel vasgehaak. Sy graf is by die Bandelierkop Hotel waar hierdie wapentjie gevind is,” vertel Charles. Hy het ‘n kleurfotostaat van die betrokke bladsy uit die register gemaak.

Nog ‘n inskrywing in die register toon dat konstabel William Eagle op 8 September, 1908, in die hospitaal opgeneem is nadat ‘n leeu hom aangeval het. Die register toon dat hy dood is aan wonde van leeubyt. Konst. Eagle was die enigste Noord-Amerikaanse Indiaan wat in die destydse Transvaalse polisie gedien het.

Intussen het foto’s en dokumente wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie, na vore gekom.

“Dis al hierdie nuwe inligting wat maak dat my boek nog nie gepubliseer is nie,” sê Charles. Van hierdie foto’s is vertoon tydens die onlangse praatjie.

Daar is ‘n foto van kommandant-generaal Beyers wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie. Daar is ook foto’s van Eerwaarde Charles Mashaba en Silas Sono wat betrokke was by die opsporing van Eerwaarde Heese se lyk. Die moord op Eerwaarde Heese, klaarblyklik deur die Bushveldt Carbineers, was die laaste strooi wat gelei het tot die arrestasie en krygsverhoor van die Australiese offisiere, Morant en Handcock.

 
 
 

Viewed: 1001

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT