ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Stryd rondom dorp se naam nog lank nie verby

Date: 30 May 2014 By: Linda van der Westhuizen

Die stryd om die dorpsnaam Makhado vir die voormalige Louis Trichardt tersyde gestel te kry, is steeds aan die gang. 

“Die uitslag van die Nelspruit naamsaak beïnvloed ons glad nie, aangesien hulle hul beswaar buite die 30 dae beswaarperiode ingedien het. In ons dorp se geval is die Voorsittersvereniging (VV) se beswaar binne die voorgeskrewe periode ingedien,” het mnr. André Naudé, voorsitter van die VV en prokureur wat die naamsaak behartig, gesê. Die Noord-Gauteng Hooggeregshof het op 8 Mei die aansoek om die naam Mbombela vir Nelspruit in Mpumalanga tersyde te stel, van die hand gewys. Die naam Mbombela is in 2009 in die staatskoerant afgekondig.

Die omstrede Makhado/Louis Trichardt stryd is seker dié naamstryd in die land wat al die langste volstoom aan die gang is. Die eerste naamsverandering na Makhado is in 2003 in die staatskoerant afgekondig. Ná ‘n lang regsproses het die appèlhof in 2007 die naam Makhado tersyde gestel en was die dorp se naam weer Louis Trichardt. Die munisipaliteit het nuwe prosesse aan die gang gesit en op 14 Oktober 2011 is die dorp se naam weer as Makhado in die staatskoerant afgekondig. Die VV se beswaar is tydig ingedien. Nadat die minister van kuns en kultuur hul beswaar op 10 Mei 2012 verwerp het en die dorp se naam amptelik Makhado geword het, het die VV hul hersieningsaansoek binne die voorgeskrewe ses maande ingedien. Intussen is die appèlhof ondergeskik gestel aan die konstitusionele hof.

In die saak Voorsittersvereniging versus die RSA Kuns en Kultuurminister en twee ander is die nuutste verwikkeling dat die VV op die punt staan om die minister met ‘n hofaansoek te verplig om die verskillende konsultasievergaderings se notules te verskaf. “Die minister het in sy brief waarin hy ons beswaar verwerp het, gesê dat volgens die dokumentasie wat ingedien is ‘alle nodige konsultasieprosesse gevolg is’.  Waar is die notules van die stadsraad, die provinsiale geografiese namekomitee en die nasionale geografiese nameraad se vergaderings? As hulle sê hulle het goeie konsultasieprosesse gevolg, wys dan vir ons die notules,” het Naudé gesê.

Die minister het wel deur middel van sy prokureurs, Cheadle Thompson en Haysom Ing., dokumentasie wat 2000 blaaie beslaan, aangestuur en Naudé het dit in November verlede jaar deurgewerk. “Dit wat ons ontvang het is totaal irrelevante inligting. Ons het hulle op 13 November laasjaar laat weet dat hul rekord onvolledig en vol foute (defekte) was en dit in detail uitgewys. Hulle het eers op 16 April vanjaar gereageer en hulle antwoord was skokkend,” het Naudé gesê.

“U brief en aanhegsel het glad nie die defekte in u rekord aangespreek of enigsins reggestel nie. U brief is so ontsettend vaag dat ons geskok is dat die verantwoordelike minister en nameraad op daardie brief kan steun as 'n antwoord op ons brief,” lui Naudé se brief, gedateer 23 Mei.

Die VV het die minister versoek om hulle rekord reg te stel en aan te vul.  “As hulle in gebreke bly, sal ons hulle met ‘n hofaansoek verplig om dit te doen,” het Naudé gesê en bygevoeg dat die minister die saak al met meer as ‘n jaar vertraag het. As die applikant (VV) hul finale hofrekord saamgestel het en hul beëdigde verklaring aangevul het waar nodig, en die respondent (minister) finaal geantwoord het, kan die saak op die hofrol kom. Sal 2014 die jaar wees waarin dié omstrede saak weer in die Hooggeregshof aangehoor word?

 
 
 

Viewed: 274

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT